Gert Kruger
Gert Kruger

Wolke sonder randjies

Sê maar net 30 jaar gelede
Mandy Rittmann
Gert Kruger – Die spreekwoord lui dat “elke donker wolk ’n silwer rand” het.

Ek weet nie of dit in vandag se lewe meer geldig is nie, want die afgelope jaar of wat poog ek nou al tot vervelens toe om die silwer randjie raak te sien. Al wat voor my oë verskyn, is die swaar onweerswolke.

Gister weer bel ’n tannie my hier uit Windhoek en bekla haar lot omdat sy moet skoert uit haar huis. “Nee, my kind, ek kan net nie meer die ou geldjies bymekaar maak om ook ’n dak oor my kop te hê nie.”

Ek wil darem net vir die tannie sê (en al die ander wat harde bene kou)”: ek twyfel of dit iewers goed gaan.

Hoe kan ’n mens dan ook kop bo water hou as jy gedurig lees van duisende rande se goedere wat gesteel is, motorongelukke, voedselpryse wat oornag styg, bestuurders wat verkeerstekens verontagsaam, moord en doodslag, oorloë, verkragtings, vigs. Dit is mos genoeg om enige mens naar te maak – genoeg om jou so in ’n depressie te laat verval dat jy in jou dag des lewens nooit weer dieselfde mens sal wees nie.

Geen wonder dat ou Constant elke oggend met moeite sy lyf by die werk insleep nie. Verstarde oë en die vreeslikste ritueel as hy by die deur instap. Dan kan’n mens maar weet die een of ander Windhoekse motorbestuurder het weer sy paadjie gekruis of hy wou trou, maar die labôla was te veel.

Chris Jacobie, wat in dié stadium in Portugal is, laat weet dat die Namibiese gevoel blykbaar ’n wêreldwye verskynsel is. Hy sê in Lissabon siësta hulle nie eens meer nie. Glo te bang die wêreld verander intussen. So, tannie sien dit gaan maar oral so.

’n Ander spreekwoord sê mos darem weet dat “elke hond sy dag kry”.

Ons kan dus almal uitsien na die dag wanneer ons na willekeur verskeerstekens kan verontagsaam, in Ludwigsdorf se huise kan gaan rondkrap op soek na nuwe TV-stelle, iemand van wie ons nie hou nie soos ’n muskiet onder die duim kan verpletter, oorlog kan verklaar teen almal wat ons pla en les bes dalk die hoogste amp in die land kan beklee. Dan kan ons ook rondvlieg, nuwe karre kry en enige balju die deur wys wat ons uit ’n woonplek wil gooi.

Ek stem saam met tannie. Dit is nie kinderspeletjies om in dié koue winter op straat te sit nie. Die suidewindjie kan maar byt as hy lus het. Veral hier tussen Windhoek se berge en stegies.

Miskien moet tannie maar ’n draai by my kom maak. Ek kan dalk help met ’n paar ou koerante om onder te slaap. Ou Tom sê juis nou anderdag vir my koerante help nogal teen die ergste koue. Ek sou graag met meer wou help, maar ek kan nie. Die beursie is ook maar skralerig. Ek meen met die koerante dat tannie darem terugvoering sal gee of dit werk of nie.

Wie weet, dalk is ek en ou Constant een van die dae saam met tannie in die Zoo-park. Dan wil ons darem iemand daar hê wat ons ken. Iemand wat ons die “truuks” kan leer.

Of sommer net iemand met wie ons oor die goeie ou dae kan gesels. – 24 Junie 1993

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!