No Image Caption

Wolkebetragting en derglike dinge

Audrey van der Westhuizen
Soggens as my oë oopgaan hier in die stad kyk ek heel eerste of daar nie straks in die Avis-vallei ’n paar moedige wolkies hang nie.

Hierna bid ’n mens vir reën en dat die son asseblief nie vandag vir ons doodbrand nie. Ons praat nou van die tyd vandat die droogte vir ons sy tande begin wys het, nadat die mense vir ons op Facebook gewys het hoe leeg ons damme eintlik is.

Sondag het die termometer glad teen 12:00 reeds tot by 39 grade celsius gesnel. Die kwik het eers teen slakkepas begin sak toe dit aand word. Skamerige wolkies wat die hoop ná die middagslapie laat opvlam het, het voor sononder hul bes probeer om enkele druppels uit te stort, maar ’n driftige wind het kort daarna die hele spulletjie oor die berg gejaag.

Saans bid ons vir drinkwater vir ons mense, die tuin, vir die boere en die arme diere in die veld. Kerkleiers sê die mensdom moet eers hulle sondes laat staan voordat die hemel se sluise gaan oopgaan. Die plaaslike weerprofete belowe hierdie week of daardie week of die volgende week daarna. Weerkundiges in andermanslands sê ons moet wag dat die planete reg oplyn in Januarie voor ons beurt vir reën gaan aanbreek.

Daar is ook diegene wat meen dat ons land se reën eintlik eers in die laaste week van Desember sal begin. Elke ou het sy eie opinie of dan nou kennis om te deel aangaande die weer. Tog het my oorlede oupa gesê: “As jy nie wil lieg nie, dan moet jy liewer nie die weer bespreek nie.”

Almal van ons hou die wolke dop, spekuleer oor die wind en die weer en ons kla steen en been, want ons kry so verskriklik warm. Die doemprofete vertel vir ons dat ons hierdie droogte oor onsself gebring het omdat ons steeds die nywerheidspraktyke beoefen wat aardverwarmingsgasse afskei.

Verder het ons ook nog nie die vervoermiddele wat die verkeerde gasse afskei tot niet gemaak nie. Ek neem aan die grootste persentasie mense plaaslik sal dan seker moet loop, want die pryse van elektriese voertuie en die instandhoudingskoste gaan die gemiddelde inkomste hier ter plaatse ver te bowe en dan praat ons nog nie eens oor die kragpryse nie.

Ook in hierdie opsig het elke ou sy eie opinie oor laasgenoemde aangeleentheid en sy eie oplossing vir alles.

Dit wat vir my die beste werk is om maar eerder my vertroue in God te plaas, want soos Spreuke 16 sê: “Die mens wik, maar God beskik.”

[email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Network Media Hub (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2025-04-13

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer