Constant Smit
Constant Smit

Wonders oor die pos

Sê maar net 30 jaar gelede
Constant Smit
Ek het nog altyd gedink dat as die mense van hemel op aarde praat, dit sommer ’n sêding is, maar onlangs moes ek tot my skok uitvind dat daar rêrig so iets bestaan.

Dit was toe ek in ’n koerant ’n boekie ontdek het wat alles op hierdie aarde te koop aanbied. Dit is nie soseer die goedere wat aangebied is wat my aandag getrek het nie, maar hoe dit beskryf is. Al hierdie goeters is te wonderlik vir woorde. En dan wissel dit van ’n flitslig wat uitsonderlik betroubaar en taai is, tot ’n kombuiskêr wat ongelooflik is. Met trane in my oë vra ek u hoe kan ’n skêr ongelooflik wees? ’n Skêr is mos ’n skêr wat ’n gewone mens gebruik om iets mee te knip. Maar ’n mens wat smag na hemel op aarde, gebruik seker hierdie ongelooflike skêr.

Dié boekie is natuurlik die redding vir die kaaskopbok. Ek weet nie hoe enige mens op hierdie planeet ooit kon koskook sonder hierdie boekie se toestelle nie. Met dié boekie in jou hand en nadat jy ’n paar van die toestelle aangeskaf het, staan niks in jou weg om die beste kok in die wêreld te word nie.

Ek moet darem bieg en erken dat ek nie ’n ketel in die boekie kon vind wat waarborg dat dit nie water sal verbrand nie.

Daar is ’n masjien wat die “kombuiswonder” genoem word. En glo my – dit is ’n wonder! Dit maak perfekte skyfies, spaar ure se geswoeg voor die kospotte en ongelukkig kan ek nie sy deugde verder beskryf nie, want ek verstaan dit nie. En dan is daar die pan vir perfekte pasteie. Eeue lank, sê die boekie, kon die wêreld se beste kokke dit nie regkry om die perfekte pastei te bak nie, maar met hulle pasteipan is dit egter ’n ander saak. Elke keer volmaak.

En dan is daar die kookgoeters wat almal fantasies is en daarby gesond. Een so ’n stel potte waarborg dat jy sommer maklik die heerlikste Franse kos daarin kan voorberei. Ek wonder of ’n mens ’n kookboek nodig het. Miskien weet hierdie potte reeds hoe om Franse kos te maak.

En dan is daar die nuwe wêreld wat jy kan ontdek. Die wêreld van natuurlike, gesonde en voedsame kookgewoontes. Jou geregte sal vitamiene en voedingstowwe behou en elke keer perfek smaak. Dis baie maklik. Jy bestel net ’n sekere stoompot uit hierdie boekie.

Dit is net die begin. Daar is nog dinge soos ’n radio vir die bad, ’n oefentoestel wat jou sommer gou-gou in ’n Adonis of Mej. Wêreld verander, ’n besem wat alles kan doen, behalwe om tee te maak, ’n kombers wat jou soos ’n droom laat slaap en ’n ding wat sal maak dat jy perfekte gholf speel.

Ek wonder nou regtig of die mense wat die byskrifte in hierdie boekies beskryf, dink alle gewone mense sal al dié bog glo. Moet so wees, want ek weet daar is mense wat mal is oor hierdie boekies en bestel wat voorkom.

Ek weet my vriende, die Terblanche-broers, Neville en Neil van Walvisbaai, is erger oor hierdie boekies as ’n plaaskind oor ’n winkelstoep. Toe het ek maar my boekie vir hulle gestuur. Dit was nadat ek daardie rewolusionêre broekiekouse bestel het, want ek het gehoor hulle stuur die bok saam wat die kouse op die prentjie in die boekie dra.

– 1 September 1992

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!