Kristien Kruger
Kristien Kruger

Woorde van ’n rugbyspeler se vrou

Dis nie altyd maanskyn en rose om met ’n rugbyspeler getroud te wees.

Vir buitestanders lyk dit dalk na ’n maklike lewe, maar elke rugbyspeler se vrou of meisie sal vir jou kan sê dit vereis baie opoffering en ondersteuning.

Talle van die vroue moes hul werk, families en huise groet en na ’n ander land of vasteland verhuis. Dit is nie altyd maklik om aan te pas nie en ’n stukkie van jou hart is altyd by die huis. Jy mis verjaardae, broers- en susterskinders wat gebore word, Paasfees. Jy mis baie geleenthede, maar dit is ’n opoffering wat ons besluit het om te maak.

Buiten vir die verlange, loopbane wat agtergelaat word en aanpassings in die vreemde, is rugby nes enige ander sport, onseker.

Wedstryddae het ons ook ’n knop in ons keel en wanneer die skares die pawiljoen verlaat en die tikmonsters hul sê sê agter skerms, is dit ons wat ons mans moed moet in praat. Dit is ons wat moet deel in die hartseer van verloor of die pyn van ’n besering.

Aan die einde van elke seisoen, is die toekoms ook onseker. Nog ’n kontrak? Nog ’n span? Nuwe span? Jy hoop saam met jou man vir beter geleenthede en saam veg julle om sy droom na te jaag.

Ek vertel nie hierdie vir julle om enige simpatie te kry nie, maar ek vertel dit in die hoop om perspektief te gee. Dit is nie so ’n glansryke lewe soos mense dink nie.

Dit is die vierde jaar in ’n ry wat ek en my man vir ses maande van die jaar in Amerika woon. Meeste van ons besittings gaar stof op in ’n stoorkamer in Namibië en al wat ons hier het, is twee koffers vol klere. Die meerderheid trou- en kombuistee-geskenke is nog in bokse, want ons het nog nie kans gehad om huis op te sit nie.

Ons keer binnekort terug na Namibië en om weer alles in twee koffers te kry, gaan redelik uitdagend wees. Ons weet nie of ons volgende jaar vir dieselfde span gaan speel of in dieselfde dorp gaan wees nie. So waar los ons dit wat ons nie saamvat nie? Gooi ons maar weg wat nie inpas nie? Of betaal ons vir stoorplek met die wete dat jy dit dalk in elk geval nooit weer gaan sien nie?

Met ons terugkeer na Namibië huur ons weer eens ’n klein gemeubileerde plekkie, want dalk is dit net weer vir ses maande.

Dit voel asof ons op so ’n manier lewe dat ons enige tyd weer kan oppak en gaan. Niks is permanent nie.

Ek sien so uit om terug in Namibië by familie en vriende te wees. Ek sien uit om terug te wees op kantoor en voluit te gaan vir my werk en my eie loopbaan. Ek sien uit na die Namibiese sonsak en vars lug. Ek sien selfs uit na Ricoffy.

Volgende keer as jy by ’n rugbywedstryd is, loer na die spelers se vroue en weet dat sy baie opgeoffer het om haar man se droom te ondersteun.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!