Wunderbahr
Sê maar net
René Hugo – My pa was nie iemand wat maklik gesing het nie – waarskynlik omdat hy – soos ons hele gesin – erg vals was.
Maar soms, as die wonderlikheid van die wêreld hom getref het, kon ons hom hoor sing:
“Die donkie, o die donkie
Die donkie is ’n wonderlike ding!”
Soos my pa, moet ek erken dat ek ook dikwels ervaar dat alledaagse dinge wonderbaarlik kan wees.
Een van hierdie spesiaal onverwagse wonders is die verpakking van foelie. Dié produk se verpakkingsingenieurs het spesiale aandag aan hierdie taak gegee. Eers is daar ’n harde, langwerpige, kartonagtige “boks” met ’n skerp-getande sykant.
Dit word gevolg deur ’n soliede harde rol deurskynende plastiek wat slegs met ’n skerp jagtersmes deurdring kan word. En dan is daar nog ’n laaste hekkie: drie tot vier langwerpige plakkers met pyltjies genommer 1-4. Of met aanwysings soos: “Lig hier op, skeur dan af, draai om.” Uiteindelik kom jy dan by die langbegeerde blink foelie uit. Wonderlik, nê?!
Dan wonder ek ook dikwels oor ’n ander wonderbaarlike ding. Alle toilette is toegerus met ’n deksel. Ek veronderstel dat die toilet-ontwerpers dit beplan het om toilette toe te maak en sodoende die onwelkome gesig te verbloem. Ek verwonder my daaroor dat ek egter nog nooit ’n toilet raakgeloop het waar dié deksel toegemaak word nie. In my huis het ek wel probeer om gedurig die deksel vir sy spesifieke doel te gebruik. Tot een donker nag toe ek redelik vinnig by ’n badkamer moes uitkom – en te laat agtergekom het dat iemand die dekselse deksel toegemaak het!
Daar is nog ’n spesiale wonder in my lewe: die verhouding tussen my motorsleutels en die veelvuldige sakkies van my handsak. Sodra ek my motor in die parkeergarage gesluit het, sit ek altyd, uiters versigtig, my sleutels in een van hierdie spesiale sakkies. En ek doen moeite om dié sakkie te memoriseer. Wanneer ek met arms vol pakkies na my motor terugkeer, is die sleutel natuurlik nie in sy spesiaal-geselekteerde sak nie. Wat wel in hierdie sakkie sal wees, is dinge soos drie sneesdoekies, een stukkende oorbel, ’n lipstiffie sonder ’n doppie, ’n apteekrekening wat ek vergeet het om te betaal, ’n kleinseun se knipmes en ’n sjokoladekoekie van die ander kleinseun wat half geeët en gesmelt is. Wonder bo wonder sal ek uiteindelik die sleutels in my broeksak kry.
Om te wonder oor wonderlike dinge is so oud soos die berge.
Ek lees in Spreuke (30:18 en 19) hieroor. Die skrywer sê: “Daar is drie dinge wat vir my verbasend is, nee eintlik is daar vier. . . hoe ’n arend in die lug kan bly, hoe ’n slang teen ’n rots kan uitseil, hoe ’n skip op die see kan vaar en hoe ’n man die hart van ’n meisie wen.”
Moderne wetenskap kan tans heelwat van Spreuke se wonderlikhede verklaar. Maar ek wil ook met die skrywer saamstem – daar is steeds natuurwonders waar ons asemloos voor staan.
Wie begeer nie om saam met Richard Attenborough te kyk na die pragtige reënwoude, en om die wêreld se oudste woestyne met hulle spesiale plantegroei en diere te besoek nie? Of miskien in Jacques Cousteau se geselskap die oseane van die wêreld te betree en die waterwonders te aanskou nie? Dan moet ek eerlik sê: daar is nie net drie of vier dinge wat vir my verbasend is nie – die natuur is een groot spesiale wonderlike Skepping.
In Spreuke staan die skrywer ook verstom oor die verhouding tussen ’n man en ’n meisie. Ja, dit bly vandag nog wonderlik! Maar so ook is die band tussen moeder en kind, tussen oupas en kleinseuns, tussen jarelange vriende. . . Ek verstom my elke dag oor die wonderlikheid van mens tot mens.
Daarom huiwer ek nie om saam met my pa en al die mense wat die lewe so sonderlik vind, hartlik (en vals) by Louis Armstrong in te val:
“And I think to myself
What a wonderful world!”
– Gasskrywer
– [email protected]
* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie