Wurms vir ’n fees
SMN 30 jaar gelede
Theo Gurirab – Vir Walvisbaaiers en veral hengelaars kon dit nie ’n blye tyding wees om met die inlywing van die hawedorp in die boodskap van die president te hoor dat die versamel van die “rooiwurm” verbied gaan word nie.
Die rooiwurm is blykbaar vir die mense van die dorp ’n soort voedingsbron – veral vir ’n man wat sonder werk sit. Soos wat die uitdrukking op die bruingebrande en verrimpelde gesigte van die woestynbewoners duidelik getoon het, sou president Sam Nujoma en sy regering tien dubbeld meer feesgangers gelok het as wat die geval was, as dit nie vir die rooiwurm-storie was nie.
Die rooiwurm en die vis is lieflingkinders van die kusbewoners en meer bemind as die dorp Walvisbaai self.
“’n Man kan binne vier uur tot sowat ’n duisend dollar in die sak steek as jy net ’n dooie stukkie rooiwurm in jou besit het,” het ’n Swakopmunder gesê wat moeg is van die gesukkel met tientalle soorte aas sonder die rooiwurm.
By die aanhoor van rooiwurm-geselsies en hoekom dit so ’n spesiale plekkie in die harte van seemanne het, het ek gevra hoe die rooiwurm lyk en hoekom hy so gewild onder die visse is.
“Dit is ’n rooi wurm soortgelyk aan die erdwurm en die grootste aantrekkingskrag vir alle soorte visse in die see – steenbras, snoek, galjoen, kabeljou, dassies, kolstert. . . noem maar enige soort vis; hy kan nie sy eetlus in bedwang hou wanneer hy die reuk van die rooiwurm gekry het nie!” het een van die hengelaars gesê.
Toe ek vra of die erdwurm nie aan dié vereistes voldoen nie, aangesien die vangs daarvan nie deur ’n wet verbied word nie, het hy doodluiters opgemerk dat “elke lewende kreatuur sy eie smaak het; so ook vis”.
Ondanks sy opmerkings het ek tot die slotsom gekom dat ek beslis vandag nog die erdwurm gaan uittoets – sommer hier in Windhoek by die Goreangab-dam.
Visse in die Goreangab moes tog beslis al weens hul omgewing geproe het hoe ’n erdwurm smaak. Dan nie?
Hiermee bedoel ek nie dat almal nou my voorbeeld moet volg en op die ou einde van die erdwurm ’n bedreigde spesie maak nie. Ek is tot dusver die enigste man wat by die ministerie van natuurbewaring en toerisme, die departement waterwese, die ministerie van visserye en die ministerie van welsyn en pensioene ’n kwota gekry het om erdwurms te versamel.
Binnekort dink ek gaan ek die land se probleme help oplos deur ’n paar duisend mense van werk te voorsien – hulle gaan vir my erdwurms soek!
Ek gaan hulle in harde kontant betaal, maar sal geen staking duld nie. Aan die einde gaan dit beslis net tot nadeel van die staker wees, want in my diens kan ’n werknemer nie doen wat sekere mense doen, soos om geboue en masjinerie te beskadig nie, want my enigste vaste eiendom gaan sy hande wees. Dit kan hy maar beskadig.
En bewaar die man wat sonder my of een van my adjudante se toestemming in die besit van ’n erdwurm betrap word. Hy gaan ’n strawwer straf opgelê word as dié wat aan die onwettige handel met volstruise en diamante skuldig bevind word.
– 8 Maart 1994

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie