Wyshede van Siya Kolisi
Ek hoop julle het vanjaar die Rugbywêreldbeker saam met my geniet. Dit was amper asof ’n mens self Frankryk toe is.
Allerhande video’s het natuurlik die lig gesien rondom die Wêreldbeker en een daarvan is ’n video waarin Siya Kolisi, die Springbok-kaptein, meer oor sy grootwordjare vertel.
Twee dinge wat hy gesê het, het by my vasgesteek. Die eerste is dat dit nie noodwendig jou goeie of slegte agtergrond is wat bepaal waar jy in die lewe opeindig nie. ’n Mens sou dink dat jongmense met geleenthede net meer geleenthede sal kry en die sonder geleenthede daarsonder sal moet gaan.
Maar nee, Siya sê ’n mens se houding teenoor jou medemens en die lewe – jou “attitude” – is die bepalende faktor, en nie noodwendig die geleenthede wat jy kry nie.
Dié wysheid uit ’n jong man se mond wat vandag een van Suid-Afrika se bekendste sportsterre is – wat grootgeword het in ’n informele nedersetting Zwide in die Oos-Kaap. Hy het dit self beleef.
Het jy al agtergekom hoe mense jou vermy die dag wanneer jy met die verkeerde voet uit die bed geklim het? Hoe die mense rondom jou jou bui oor ’n afstand kan bepaal omdat ons dit kliphard (en woordeloos) uitbasuin?
En hoe, wanneer jy in ’n gemoedelike bui is, en wanneer ’n mens “mooi vra”, dan gaan allerhande deure oop wat jy nie sou regkry as jy onbeskof was nie?
Dit is alles “attitude”. En ek stem saam met hom – jou houding sal jou ver in die lewe bring. Veral waar jy ’n gewillige houding het om hard te werk aan die geleenthede wat oor jou pad kom.
Siya het die geleentheid aangegryp om ’n private skool by te woon toe ’n rugbybeurs aan hom gebied is en hy het die meeste van dié geleentheid gemaak.
Hy kon met ’n verkeerde houding ook daardie beurs verloor het.
Siya sê in die video hy was sekerlik daardie dag nie die beste rugbyspeler op die veld nie, maar dat die keurders hom raakgesien het omdat hy op sy manier uitgestaan het.
Die aangrypendste van sy storie was toe hy vertel het dat hulle soms min kos gehad het om te eet. En hoe, wanneer die buurmense sy ouma genooi het om te kom kuier (en hulle soms tee, koekies en toebroodjies aangebied is) sy ouma liewer nie haar deel sou eet nie, maar dit huis toe sou neem sodat hy iets gehad het om te eet.
Sy ouma was voorwaar ’n engel uit die hemel.
Maar daar is meer aan hierdie storie. Dit is bure – mense rondom hulle – wat verstaan het wat dit is om swaar te kry en met mekaar gedeel het. Dit maak nie saak hoeveel of hoe min hulle gehad het om te deel nie. Dit het my hartsnare geroer.
Wanneer jy bevoorreg is om elke dag ’n bord kos op die tafel te sit, is dit maklik om oor onbenullighede bekommerd te raak.
Is die T-hemp of broek wat ek aanhet die regte ‘brand’? Wat gaan my bure dink van die ou skedonk (lees, my nederige VW Golf) waarmee ek ry? Simpel dinge soos dit. Of bekommernisse soos – ek het nie die nuutste PlayStation of Xbox nie.
Om werklik ’n gemeenskap te wees, is om uit te help wanneer jy agterkom dat iemand sukkel.
Ek hoop dat ons in die komende Kerstyd minder bekommerd oor onbenullighede soos geskenke sal wees en daarop sal fokus om iets vir iemand te beteken wat dit nodig het.
– Gasskrywer
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie