Yskoningin
Charlotte Beukes-Muundjua
“koud is die windjie, en skraal...” sê die digter, maar o wee, dié jaar was sy alles behalwe skraal.
Sy was ’n gespierde tiran - te veel testosteroon.
Reuse-bome is soos weerlose lappoppe geruk en pluk, daai wortels moes vastrap! Dan vat sy haar Shrek-vingers en krap woes aan die rypgeslane, dorre blare; klink skoon soos ’n nylon-borsel wat ’n kroeskop ongeduldig bykom.
Ja, die winter in Suider-Afrika was ongenaakd, alles-in-een - van tornado’s, oorstromings, en sandstorms. Tot ’n paar dae terug het Madam ons haar “superpowers” gewys en selfs sneeu gebraak!
Sy het watervalle in kristal stalagtiete verander, ’n magiese gesig vir enige fotograaf en toeris.
Die plaaslike volk was min gespin met die natuurfrats, hulle moes dink aan oorlewing. Hout bymekaarmaak, want vuur is nommer een - veral in Suid-Afrika met sy tannie Eskom (sy is in menopause, sy “kom” nie meer nie). Hulle moet “zula” vir ’n serp, sokkies en mus, want die koue is geniepsig op neuspunt, oorpunt en voete (vingerpunte kan onder die kombers/tjalie of in die baadjiesak kom).
Die koue het inderdaad beendere en spiere gevries maar, op ’n positiewe noot, die nostalgie-argiewe oopgeruk terug na ’n outydse kombuis; na koolstoof met pruttende sop in die groot aluminium pot. Die einste pot wat ’n “bliksem-apparaat” was toe my broer as tiener eerste die keer gesuip huis toe gekom het.
Ja, alle rasse sal weet – ’n koolstoof was ’n bymekaarkomplek, as die stoele min was het jy ’n verfdrom gegryp en daar het die gesin saam gesit en gesels. Geskerts oor koeitjies en kalfies, oor toekomsplanne, oor dronk vaders wat “gegly” het, oor moeders wat gebly het en steeds haar kroos warm hou met liefde en kragtige gortsop. En besef julle hoeveel anders het die koolstoofkos gesmaak? Hoe anders het die broodjies uitgedy? Die kaiings wat saam met houtstomp daarop knetter? Dit bly geëts in my brein.
Die geil murgbene...
Die pietfluit se bodem het warm gebly, want elkeen moes ’n wasbeurt kry uit ’n skottel en dan dik insmeer met Blue Seal Vaseline (nie vandag se poppekas-Vaselinetjies nie, die ware Jakob!) Dit was deel daarvan om die liggaam te pantser teen voordag-ure se nat koue.
Swart Kloof-koffie was ’n getroue wintersmaat. Jy omhels daai warm beker met jou hande, daar was nie geld vir handskoene nie.
’n Wintersnag sonder internet, sonder TV, net die draadloos op die Afrikaanse stasie in die agtergrond. Net die geknetter van vuur, die prut van sop, die gesels en die wind wat troosteloos buite huil asof hy soebat vir ’n “innooi”.
So het ons sopversadig, sielsversadig, sokkie-voet (sommer verskillende sokkies) kooi toe gegaan. Gelukkig was slaapplek min, so ten minste drie lê langs mekaar, roerloos vir so 15 minute vir effektiewe opwarming. En nog stories volg tot die eerste snork volg.
Voorwaar, 2023 se winter het die terme “triestig” en “snerpend” volle lyf gegee.
Maar ook die mooiste warm herinnering met haar ysige hand wakkergeklop.
Waar daar ’n rokie trek, is daar vuur. Waar daar dié winter ’n vuurtjie was, was daar lewe en hoop.
-Gasskrywer

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie