No Image Caption

’n Storie van laat wees en van kwaad wees. . .

Audrey van der Westhuizen
Het dit jou al ooit getref dat die ou (of vrou) wat laat is vir wat ook al, soos byvoorbeeld vir werk, baie vroliker is as die mense wat vir hom of haar gesit en wag het?

Kyk ons nou hier na die kere wat jy laat vir ’n afspraak of selfs vergadering opgedaag het, kom jy heel vriendelik daar aan, vra baie mooi om verskoning, maar jy kan skaars jou lag onderdruk. Die mense wat betyds was gluur jou aan.

Dalk omdat die mees senior persoon by daardie geleentheid sy misnoë met jou te kenne gegee het aan die ander mense wat geen aandeel in jou laatkommery gehad het nie. Wie sal weet? Nou hoekom kry die ou wat laat is dan so ’n begeerte om te lag? Glo my, jy put nie regtig genot uit die situasie nie.

Ek het ’n teorie dat die oorsaak van daardie lagbui meer te make het met jou senuweeagtigheid as enigiets anders. Hier en daar is dalk die enkeling wat lag omdat hy net dikbekke sien sit in die plek waar hy so laat kom inwals het, maar ek vrees wat die klomp wat gewag het aan my wil doen.

Dan lag ek van pure banggeit sê ek julle. Ek lag nie uit my maag uit soos wanneer julle grappies vertel nie. Nee, dis meer van ’n hoë gegiggel soos ’n hiëna wat die aasvoëls se buit probeer steel. Iets soos hie-hie-hie moet my net nie byt nie.

Ek het in my hele lewe nog nooit die behoefte gehad om aspris laat by enige geleentheid op te daag nie. Inteendeel, ek is eintlik bang vir die reaksie en gevolge van my laatkommery.

Maar dit begin nou al hoe moeiliker raak om betyds te vertrek na byvoorbeeld ’n tandartsafspraak (’n bangmaakplek van ’n ander aard) of vergadering, of werk toe, of ’n uitnodiging na ’n geleentheid – ek kry net nie klaar nie.

Die rede hiervoor is dat ek stadiger met ouderdom geword het – stadig en ingedagte. Saam met die oumensskete en die verstrooide gedagtegang neem alles nou meer tyd in beslag.

Ek maak nie meer tjoeftjaf vir almal koffie en ontbyt nie, ek kam nie meer so vinnig my hare of borsel my tande nie en so kan jy maar opnoem.

Ek vertraag enige aspek om gereed te maak. Dít is ook nie aspris nie. Die slapeloosheid wat my so verinneweer dat ek soggens wens die nag het nog twee ekstra ure gehad en die stywe ledemate waarmee ek wakker word, het nie veel genade met my nie. Die spoed waarmee ek in die oggende gereed maak word in die wiele gery.

Nadat ek met moeite myself van die bed af regop gekry het, soek ek my pantoffels en hinkepink kombuis toe.

Daar gekom het ek die koffiebekers vergeet en moet dit weer in die sitkamer gaan haal. Hier vind ek die pantoffels wat nie voor die bed te vinde was nie.

Nou het ek weer vergeet waarmee ek besig was wanneer ek dan in die kombuis terugkom en neem dit ’n goeie minuut voor ek die ketel aan die gang het.

Op hierdie manier raak dinge een vir een goed verstrengel met ander totdat ek so 15 minute laat met my handsak by die deur uitstorm.

As daar op pad na my eindbestemming enige onvoorsiene dinge gebeur, soos die oggendverkeer wat skielik ’n slakkepas aanneem, dan is ek uiteindelik verskriklik laat en baie verleë daaroor.

Sakkie Senuwees is my nuwe naam hie-hie, ek is so jammer ek is laat, regtig waar. Vergewe my asseblief tog, maar die nagmerries oor laat wees het my wakker gehou. – [email protected]



* Rubrieke, meningstukke, briewe en SMS’e deur lesers en meningvormers weerspieël nie noodwendig die siening van Republikein of Namibia Media Holdings (NMH) nie. As mediahuis onderskryf NMH die etiese kode vir Namibiese media, soos toegepas deur die Media-ombudsman.

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!