Henties Spar kom weer

Eienaars kyk vorentoe
Die Agenbag-gesin weier om oor hul skouers te kyk na die verlies van hul winkel, maar kyk eerder vooruit na die beter inkopie-ervaring wat hulle binnekort kan bied
Iréne-Mari van der Walt
“Ons kyk maar vorentoe; wat anders gaan ons nou doen?” sê me. Daleen Agenbag ’n paar weke nadat die Spar-winkel op Hentiesbaai en daarmee saam ’n kwarteeu se harde werk van die Agenbag-familie in ’n brand uitgewis is.

Die Agenbags is reeds besig met planne om ’n groter winkel te herbou waar hul geliefde winkel eens gestaan het.

Daleen sê die ondersteunende reaksie van die Hentiesbaai-gemeenskap ná die verlies van die winkel het haar onkant gevang.

“Wat my verbaas het, is die herinneringe wat mense in die winkel gehad het. Talle mense het al hul ouers verloor, maar hulle het nog herinneringe in die winkel. Jy voel maar asof daardie herinneringe ook uitgebrand het,” het sy gesê.

Selfs op die brandtoneel, vertel Agenbag, moes sy eerder lede van die gemeenskap en haar personeel kalmeer.

“My personeel het na die winkel toe gestorm. Ek is so bly niemand van my personeel het seergekry nie,” sê sy.

Die toewyding van die winkel se personeel bly selfs ná die brand ongekend.

“Hulle was elke dag daar om te help skoonmaak. Hulle is elke dag swart van die roet terug huis toe, maar die volgende dag was hulle weer daar. Ek dink hulle het dit ook nodig gehad om te help opruim en uitbreek,” sê sy.

TOEKOMS

Agenbag vertel van hul planne om die winkel uit te brei sodat ’n groter verskeidenheid produkte op ’n gereelde grondslag aangebied kan word.

Die oogmerk is om teen November die nuwe Spar se deure te open. Intussen word personeel steeds in die werk gesteek.

“Van ons mense gaan nou op Mariental werk. Ons stuur ons bakkers vir ’n suurdeegkursus en van hulle gaan vir ’n koekversieringskursus,” vertel Agenbag en voeg by dat die aanbieding van ’n groter verskeidenheid vleisprodukte by die winkel ook beplan word.

Agenbag sê hulle sal steeds die beste pryse moontlik probeer lewer, maar die huidige ekonomiese omstandighede maak hierdie doelwit moeiliker.

“Dinge het nou so duur geraak. Dis nog reg as jy geleidelik jou pryse lig, maar nou gaan mense die pryse in die nuwe winkel vergelyk met die pryse wat ons voorheen gehad het, maar intussen het alles duurder geword.”

Sy het ook waardering vir die toegewyde diens van haar versekeraar, wat die spoedige herbou van die winkel, asook die betaling van haar personeel se salarisse moontlik maak.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!