Peugeot-aanleg op ys geplaas

Regering, PSA moet oor toekoms besluit
Die motorvervaardiger het die regering vir N$80 miljoen gedagvaar, maar die saak is nou van die hofrol geskrap.
Yandi Du Plessis
Ogone Tlhage - Die PSA Automobiles SA-monteeraanleg in Walvisbaai is tans onder versorging en instandhouding, hangende die uitslag van samesprekings tussen die regering en die Franse motorvervaardiger om oor sy toekoms te besluit.

Die aanleg is op ys geplaas nadat PSA die Namibiese regering hof toe gesleep het vir sy beweerde onvermoë om die maatskappy in staat te stel om in die Suider-Afrikaanse mark mee te ding, wat effektief tot sy ondergang gelei het. Die motorvervaardiger het die regering vir N$80 miljoen gedagvaar, maar die saak is nou van die hofrol geskrap.

“Die aanleg is tans onder sorg en instandhouding, wat beteken dat dit nie op die oomblik in produksie is nie, hangende die hofsaak. Die volgende fase is vir die aandeelhouers om met arbitrasie te begin om die toekoms van die aanleg te bepaal,” het die adjunk- uitvoerende direkteur in die ministerie van nywerheidsontwikkeling en handel, Michael Humavindu, gesê.

PSA het glo die regering ingelig dat hy nie op gelyke voet met ander voertuigmonteringsaanlegte in die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) kan meeding nie omdat hy nie vrystelling van normale heffings en belasting op die uitvoer van voertuie uit Namibië en SADC-lidlande, Namibië ingesluit, geniet nie.

Sonder die implementering van die skema om belastingkwytskelding aan te spoor, kon Peugeot Opel Assembly Namibia (POAN) nie meeding teen voertuie wat deur ander vervaardigers verskaf is nie, het hy gesê.

Die maatskappy het verder beweer sonder dié verkope sou die aanleg nie in staat wees om [PSA] te betaal vir die voertuigkomponente wat gedeeltelik gemonteer aan POAN verskaf is nie, terwyl dit ook nie sy normale bedryfsuitgawes in die gewone loop van POAN se sake kan voortsit nie.

“Daarbenewens is POAN steeds nie in staat om sulke voertuie op ’n vryhandelsbasis na Suid-Afrika uit te voer nie aangesien die [Namibiese regering] versuim het om die nodige vrystelling van alle aksyns- en doeaneregte, belasting of heffings met betrekking tot die uitvoer van voertuie na Suid-Afrika en ander lidlande van die Sacu- en SADC-gebiede te verseker,” het PSA gesê.

Volgens die Franse voertuigmaatskappy is N$79,9 miljoen aan hom verskuldig as gevolg van sy onwinsgewende belegging in Namibië wat bestaan uit aanvanklike aandelekapitaal ter waarde van ongeveer N$17 miljoen, navorsings- en ontwikkelingskoste van N$14 miljoen en onbetaalde fakture van altesaam N$48,9 miljoen.

Teen Junie 2022 is slegs 30 van 150 voertuie deur die regering gekoop, volgens ’n kabinetsopdrag in 2019 dat alle regeringsentiteite hul voertuigaankope moet reserveer vir Peugeot- en Opel-motors wat by Walvisbaai gemonteer is.

Die 150 voertuie wat in byna vyf jaar gemonteer is, is ’n druppel aan die emmer vergeleke met die jaarlikse teikenvolume van 5 000 eenhede teen 2020, soos aandeelhouers destyds belowe het.

Die Opel Grandland X en Peugeot 3008 was die eerste produkte van hierdie fabriek, terwyl meer veronderstel was om te volg.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-02-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer