Reuse-goudmyn skep afwagting

Werksgeleenthede wink vir bedryf
Osino Resources en Shanjin International verkies werksoekers wat deur die ministerie van justisie en arbeidverhoudinge geregistreer is.
Augetto Graig
Terwyl die vroeë skietwerk op die Twin Hills-terrein – waar ’n nuwe reuse- oopgroefgoudmyn oor die volgende twee jaar gebou gaan word – skuddings veroorsaak, skep dit afwagting by die inwoners van Karibib en omliggende dorpe.

Sowat 800 inwoners het Woensdag op die Karibib-dorpsraad toegesak om meer te leer oor die ministerie van justisie en arbeidsverhoudinge se Namibië Geïntegreerde Indiensneminginligtingstelsel (NIEIS) en hoe om doeltreffend op dié stelsel te registreer.

Osino Resources en die nuwe myneienaars, China se Shanjin International SD-Gold, beplan ’n reusemyn wat meer as 1 000 langtermyn-werksgeleenthede beloof, wanneer bedrywighede heeltemaal op dreef is, en vir die daaropvolgende dertien jaar, ten minste.

Dit is nog nie duidelik hoeveel werknemers in die konstruksiefase in diens geneem gaan word nie. Gister was die span in Otjimbingwe en Usakos, met Omaruru wat reeds vroeg in die week aan die beurt gekom het.

Die ontwikkelaars het met die regering ooreengekom om NIEIS te gebruik om die poste te vul, en die kontrakteurs wat vanaf die vierde kwartaal van vanjaar met bouwerk begin, sal ook aan die besluit moet voldoen, volgens Osino se bestuurder vir operasionele gereedheid, Ralf Schommarz.

’n Arbeidsbeampte van die ministerie, Liza Gawanas, sê die tekort aan plaaslike werksoekers op die stelsel is ’n uitdaging wat hulle saam aanpak met die inligtingsveldtog. Bokse is tydens die veldtog beskikbaar gestel waar voornemende werknemers hul curriculum vitae kon indien.

Nadat Shanjin (voorheen bekend as Yintai Gold) die myn ses maande gelede vir US$450 miljoen by Osino gekoop het, is nog US$450 miljoen volgens Schommarz nou vir die konstruksie van die myn begroot.

Volgens Schommarz belowe die projek van N$17,8 miljard ’n verwagte goudproduksie van sowat 170 000 onse goud per jaar.

As dit op 10 April se internasionale goudprys per ons van US$3 110 bereken word, kan dit binne ’n jaar ’n opbrengs van ongeveer US$528 miljoen genereer en die insetkoste kan ná slegs twee jaar gedek word (eie berekening).

“Ons weet daar is baie goud in hierdie grond,” sê Schommarz.

Die bestuurder vir projekondersteuning, Charles Loots, het op sy beurt gesê “die myn is ’n ernstige belegging vir Namibië”.

Die mynaanleg beslaan sowat 1 500 hektaar, wat benewens vier oopgroefmyne ook ’n 60 hektaar-sonkragaanleg, die uitskotdam van tot 70 hektaar, die verwerkingsaanleg wat tot 250 hektaar sal beslaan, paaie, kantore en werkswinkels sal insluit.

Die grootste sentrale put sal uiteindelik 1 670 m lank, 680 m breed en 340 m diep wees en sal Twin Hills se aanvanklike sentrale put en die Bulge-putte kombineer, volgens Osino se woordvoerder, Lachandre Coetzee.

Gedurende die myn se lewensduur sal 363 miljoen ton erts en rots ontgin word, voeg sy by.

Loots beklemtoon die ontwikkelaars het van meet af op gemeenskapsdeelname en omgewingsbewaring gefokus en om te verseker dat soveel moontlike poste deur Namibiërs gevul word.

’n Sosioëkonomiese basislynbeoordeling is van stapel gestuur en die plan is om deurlopende omgewingsrehabilitasie uit te voer, in ooreenstemming met die Namibiese Kamer van die Omgewing se beste praktyk in sy mynbougids, sê hy.

Wat die myn se toekomstige waterverbruik betref, het Schommarz gesê verskeie bronne sal gebruik word. Dit sal insluit boorgatwater, toevoer vanaf die Swakoppoortdam wat ’n groot reservoir in Karibib via ’n pypleiding sal vul, terwyl die Okawayorivier wat deur die mynperseel loop tydelik opgedam en verder herlei sal word om uiteindelik soos nou by die Khanrivier aan te sluit.

“Ons werk nou saam met NamWater,” het hy gesê.

“Ons is baie opgewonde dat Osino saam met ons werk om NIEIS te gebruik,” het Gawanas gesê.

Sy wys daarop dat die stelsel bloot werksoekers en werknemers verbind.

“Ons is nie by die werwing (van werknemers) betrokke nie, ons vergemaklik net die proses,” sê sy.

Loots het klem daarop gelê dat die kontrakteurs ook Osino se beleide, prosedures en deurlopende kontrakte sal gebruik en volg met inagneming van die omgewing, indiensneming en die interaksie met omliggende gemeenskappe.

Schommarz verwag dat die meeste werknemers uiteindelik daagliks per bus van Karibib, Omaruru en Usakos heen en weer na die myn vervoer sal word.

[email protected]

Kommentaar

Stephanus Gerber 1 Dag Gelede 11 April 2025

M.a.w., Die geld gaan Sjina toe en Namibia kry 'n paar werkgeleenthede, dis al! So bly Namibia maar net 'n "gebruikte" landjie in Afrika! Ag shame, wat 'n jammerte!

Rapporteer
Stephanus Gerber 1 Dag Gelede 11 April 2025

Stephanus Gerber Nou M.a.w., Die geld gaan Sjina toe en Namibia kry 'n paar werkgeleenthede, dis al! So bly Namibia maar net 'n "gebruikte" landjie in Afrika! Ag shame, wat 'n jammerte!

Rapporteer

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer