Trustco Bank bloei reeds vir jare
BoN bring likwidasie-aansoek
Trustco Bank het gister sy kliënte verseker hul geld is veilig, maar die Bank of Namibia meen die instelling is kommersieel bankrot.
Ouditeure van Grand Namibia en BDO Namibia bevraagteken reeds sedert 2019 die voortbestaan van Trustco Bank weens die reuseverliese wat die instelling ly.
Teen die einde van verlede Maart was Trustco Bank (TBN) met ‘n opgehoopte verlies van sowat N$211,4 miljoen gestrand.
Die Bank of Namibia (BoN) bring vanoggend ‘n dringende aansoek vir die likwidering van TBN in die hoërhof van Namibië, het die sentrale bank gister bevestig. Die president van die BoN, mnr. Johannes !Gawaxab, het Woensdagaand in ‘n verklaring gesê die sentrale bank se direksie meen TBN is tans “kommersieel bankrot”.
TBN word ten volle deur Trustco Group Holdings (TGH) besit. Die groep se besturende direkteur en uitvoerende hoof, mnr Quinton van Rooyen, besit 63.97% van TGH. Teen die sluiting van JSE Woensdagmiddag, was Van Rooyen se belang in TGH sowat N$532 miljoen werd.
DEPOSITO’S TUIMEL
TBN het gister vure probeer doodslaan om kliënte te keer om hul geld te onttrek.
Volgens die jongste finansiële resultate beskikbaar, het deposito’s by TBN op 31 Maart 2021 op sowat N$15 miljoen gestaan. Dit was 56% minder as in TBN se 2020-boekjaar.
TBN het ‘n verklaring uitgereik waarin die bank ontken dit is kommersieel bankrot. Kliënte het nie nodig om hul na die Owerheid vir Depositowaarborg in Namibië (NDGA) te wend nie, aldus TBN. Dié owerheid waarborg net N$25 000 per deposant.
“Alle TBN-kliënte se deposito’s word 100% deur kontant gerugsteun en kan op aanvraag aan die kliënt terugbesorg word,” het die bank gesê.
‘LEUENS’
Volgens !Gawaxab stoei die BoN reeds die afgelope twee jaar met TBN om regulatoriese nakoming, en uiteindelik die finansiële volhoubaarheid van die bank te verseker.
Maatreëls wat die BoN voorgestel het, sluit die herkapitalisering van TBN in. “Dit is nie ten volle gedoen soos verwag is nie,” het !Gawaxab gesê.
TBN het onlangs finansiële projeksies en ‘n sakeplan aan die BoN voorgelê en aangevoer dit sou ‘n volhoubare ommekeer van die bank teweeg bring.
TGH het Maandag ‘n verklaring uitgereik en gesê die groep het aangebied om TBN se balansstaat met “nóg N$1 miljard” te versterk. Die BoN het dit van die hand gewys, luidens TGH.
“Die BoN het geen aanbod van kapitalisering van TBN deur TGH geweier nie,” het !Gawaxab gesê.
Wat die BoN wel gedoen het, is om ‘n gedetaileerde ontleding van die voorgestelde sakeplan aan die groep te verskaf, met die redes waarom die sentrale bank meen dit is onvoldoende.
‘ONGRONDWETLIK’
Ná omvattende gesprekke tussen die BoN en TBN, het die sentrale bank of 5 September geen ander keuse gehad as om op die likwidasie-aansoek te besluit nie, aldus !Gawaxab. Die BoN het TBN op 16 September van sy besluit ingelig.
Op 23 September het TGH en TBN ‘n kennisgewing van mosie by die hoërhof ingedien om die BoN se besluite en riglyne aan die bank te hersien. TGH en TBN beweer die BoN se besluite en riglyne, gegrond op die Wet op Bankinstellings, is ongrondwetlik.
In reaksie hierop het die BoN Maandagaand gesê die sentrale bank sal sy oorsigtelike stappe “kragtig verdedig”.
!Gawaxab het Woensdagaand gesê die likwidasie-aansoek is die gevolg van ‘n reeks regulatoriese gesprekke en ingrypings wat sedert 2020 misluk het om TBN se goeie bestuur en lewensvatheid tot op aanvaarbare regulatoriese vlakke te herstel.
‘GROOT SWAKPLEKKE’
Van TBN en sy aandeelhouer se tekortkominge wat die BoN uitgewys het, sluit “groot swakplekke” in die bank se risikobestuurpraktyke en –stelsels in, asook likwiditeitsvereistes wat nie gehandhaaf kon word nie. TBN en TGH het ook nie ooreengekome riglyne nagekom om die instelling te herkapitaliseer nie, het !Gawaxab gesê.
“TBN bedryf sake sonder ‘n goedgekeurde, volhoubare besigheidsplan en genoegsame kapitaal om dié plan uit te voer. Dít is noodsaaklik vir die lewensvatbaarheid en volhoubaarheid van die besigheid en word van alle spelers in die bedryf verwag,” het !Gawaxab gesê.
Die hoofdoel van die BoN se likwidasie-aansoek is om TBN se deposante en krediteure te beskerm en om te verseker dat die nie-nakoming van toepaslike wette nie enige verdere risiko inhou nie, het hy gesê.
OUDITEURE
Op TBN se webwerf is die bank se resultate sedert 2018. Dit toon die bank ly reeds sedert 2018 ‘n verlies.
TBN se opgehoopte verlies teen die einde van sy 2020-boekjaar was sowat N$172,96 miljoen, 22% of N$31,2 miljoen méér as die vorige finansiële jaar.
BDO Namibia, die ouditeurs van dié stel resultate, het toe reeds ‘n wesenlike onsekerheid oor die kwessie van TBN as ‘n lopende bedryf geopper. Volgens die ouditeure het TGH onderneem om N$100 miljoen oor drie in die bank in te pomp sodat dit as ‘n lopende bedryf kon sake doen.
TGH het verlede Februarie N$33,3 miljoen van dié kapitaalinspuiting in TBN gedoen.
In die bank se 2021-boekjaar het TBN se opgehoopte verlies egter met nóg N$38,5 miljoen of 22% tot sowat N$211,4 miljoen gegroei.
Grand Namibia, wat die 2021-resultate geoudit het, het opnuut reeds ‘n wesenlike onsekerheid oor die kwessie van TBN as ‘n lopende bedryf geopper en na TGH se beddingsboei van N$100 miljoen verwys.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie