Bakster met groot drome

Tanja Bause
“Jy hoor baie kere mense kla ek het niks nie. Ek weet nie wat ek moet doen nie. Ek wil vir hulle sê die Here het vir jou hande gegee om iets te doen, ’n brein om te dink en voetjies om te kan loop. Geld is nie alles nie. Jy kan ook sonder geld ’n besigheid begin en geld maak,” het Annastasia //Hoeres (55) van Oranjemund gesê.

“Ek en my man het toe ons in Walvisbaai gebly het en hy sy werk verloor het, elke oggend die strate afgestap en leë bottels opgetel en verkoop. Ons het dit begin doen sonder geld en ons het genoeg geld ingekry om te kan eet. Doen iets, begin iets en die Here sal jou seën.”

Annastasia is op Outjo gebore en het op Khorixas grootgeword. In 2012 het sy Oranjemund toe getrek nadat haar man werk in die dorp gekry het.

Haar ma het geglo kinders moet alles kan doen en het Annastasia onder andere geleer om brood te bak en klere te maak.

“Ons het nie ’n oond gehad nie, so die eerste brood het ons in ’n driebeenpot langs die vuur gebak. My ma het toe later ’n gasstoof gekry en toe het ons dit gebruik om te bak.”

“My ma het ons geleer om met ons hande te werk. Ons moes alles leer – stryk, skoonmaak en kook. Vir haar was daar nie iets soos ‘dit is ’n meisie se werk’ of ‘seuns moet dit doen’ nie. Ons moes alles leer.

“Sy het gesê as jy eendag by die huis sit en die hout is op en daar is nie ’n man naby nie, moet jy ’n byl kan optel en hout gaan kap, vuur maak en aangaan. As die hek stukkend is, kan jy nie wag dat ’n man verbykom nie; jy vat die tang en draad en maak die hek reg.”

Dieselfde reël het vir die seuns gegeld, wat hulle eie klere moes was en stryk.

TUIN EN NAALDWERK

Haar stiefpa het ’n groot groentetuin in Khorixas gehad en die gesin het uit die tuin geleef.

“Ons het uit die tuin grootgeraak en dis waar my liefde vir tuinmaak begin het. Ek het nou self my eie groentetuin. Ek het ook steggies van vetplante wat ek by die mark hier op die dorp verkoop. Die wind is net gevaarlik hierso. Dit waai alles stukkend en verniel die plante.”

Annastasia maak ook onder andere voorskote wat sy by die mark verkoop.

BROOD

Haar grootse passie is egter broodbak.

“Wanneer jy die oond oopmaak en die reuk van varsgebakte brood slaan jou in die gesig, is jy net gelukkig. Ek geniet dit om te bak en bak elke Maandag, Woensdag en Vrydag 21 klein broodjies wat ek vir N$5 elk aan my kliënte verkoop; almal op bestelling. Die ander twee dae gebruik ek om in my tuin te werk, huis skoon te maak en voorskote te maak.

“My ma het altyd gesê jy kan nie ’n brood bak as jy kwaad of ontsteld is nie. Jy moet vrolik wees en die Here dank terwyl jy die deeg knie andersins sal die brood nie rys nie. My ma was reg en dit is hoekom ek om 04:00 begin brood te bak – dan het niemand my nog kwaad gemaak nie.”

Haar droom is om eendag groot brode en op grootmaat te kan bak.

“Ek wil ’n klein kafee oopmaak met ’n sopkombuis. Dan wil ek vir die winkels en mense in die dorp asook vir die sopkombuis bak. Die sop word van die groente uit my tuin gemaak en geen kind sal honger ly nie.”

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!