‘Die voetspore van my hierwees op aarde’

Henriette Lamprecht
Sy het nooit in haar lewe geskryf of eens daarvan gedroom nie. Maar toevallig skryf Tania Smit in 2013 oor ’n Karoo-roadtrip waartydens sy en ’n vriendin met haar pa se bakkie in die middel van nêrens gaan staan, plaas dit op Facebook en die res, soos hulle sê, is geskiedenis. Alles het van daar af momentum gekry, vertel Tania van Hekelwoorde-faam sommer so via WhatsApp - wanneer daar selfoonontvang is - op nog ’n roadtrip op pad na haar hartland, Namibië, waar sy haar woorde kom deel.

"Ek voel soms skuldig omdat my pad met skryf so maklik gebeur het," skryf Tania, "terwyl ander baie meer en beter skrywers jare droom en sweet om ’n sukses te maak van hulle skryfloopbaan."

Haar eerste boek, Hekelwoorde van my Hart, is slegs gepubliseer op versoek van lesers en geliefdes, erken sy. “Ek het net eenvoudig nie die selfvertroue gehad nie, maar het besef ek moet omdat ek graag ’n 'legacy' wou los vir my kinders.”

Sy het ’n manuskrip gestuur vir die groot uitgewers wat dit almal verwerp het omdat hulle geglo het dis nie ’n boek wat kommersieel suksesvol sou wees nie.

“Ek het toe onafhanklik gepubliseer en dit het fantasties uitgewerk vir my!”

Nadat haar eerste boek gepubliseer is, het Tania omtrent ’n jaar geweldige druk gevoel om te skryf, “maar genadiglik het dit verbygegaan”.

“Ek het besef ek moet skryf wat op my hart is, nie vir ’n gehoor nie. En as ek niks het om te sê nie, moet ek stilbly.”

Dit is die enigste manier om regtig outentiek te bly in mens se skryfwerk - wanneer jy die taal van jou eie hart praat.

Ná haar boek se verskyning het sy talle versoeke gekry om voorlesings te doen, maar dit bly weier. Net soos sy nie geglo het sy is ’n skrywer nie, het sy ook nie geglo sy is ’n spreker nie.

Met haar eerste funksie het sy die bekende akteur, Paul Eilers, gekry om vir haar voor te lees. Natuurlik was dit wonderlik, erken Tania, maar nie volhoubaar nie.

Later het sy besef “ek kan nie bly wegkruip as mense my bly vra om te praat nie”.

“Die praatjies het my het ’n geweldige konneksie met my gehoor gegee, en die kans om as ’n vrou 'rou' met ander vrouens te deel. Ek is baie fyn ingestel op elke gehoor en sal soos die funksie verloop, gereeld my leesstukke aanpas omdat ek voel daar is iemand in die gehoor wat spesifieke woorde moet ontvang daardie dag. My voorlesings en praatjies gee my persoonlik geweldig baie vervulling en 'joy'.”

Mense inspireer haar, tik Tania. Die onsigbare aar van menswees wat oor alle tale en deur alle lande altyd dieselfde is.

“Almal kan die taal van emosie praat, maar te min mense is bereid of gemaklik om dit te doen.”

Sy het nie ’n "nee" nie, skryf Tania. Sy probeer maar doen wat haar liggaam en siel vra. As sy moeg is, isoleer sy. As sy energie het, hou sy van mense om haar.

“Ek is ook baie lief daarvoor om vir geliefdes kos te maak, dis een van die groot vreugdes in my lewe.”

Van kindsbeen af al was sy mal oor kamp en bome. Haar pa het altyd die gesin in “moerlandspan” in gevat om te gaan kamp - van die Spitzkoppe tot diep in die bosveld. Altyd plekke waar daar nie mense is nie.

Dis waar haar liefde vir die aarde en die bos gebore is, al in haar grootwordjare, skryf die hekelwoordevrou.

As ’n trotse Namibiër is dit die land van haar hart.

“Ek is in Oshakati gebore en het in Keetmanshoop grootgeword tot ons Kaap toe getrek het toe ek vyf jaar oud was. My ouers is ook van Namibië en ons het baie winter- en somervakansies in die duine en vlaktes van Namibië deurgebring. Namibië se mense is soos rooi grond - mens kan net tussen dit wees, dan voel jy hoe jou wortels in die aarde in groei.”

Elke deel van die land het sy eie ryk karaktereienskappe, skryf sy weer. Die Suide se grasvelde laat haar altyd dankbaar voel dat sy weer die grens oorgesteek het. Swakop se duine en 4x4's laat haar aan tienerwees se Desembervakansies dink.

“My hart se punt is egter Damaraland. Dis ’n magiese area wat enige mens se siel kan voed as jy ooit bevoorreg genoeg is om so ’n vakansie te kan onderneem.”

*Tania en die hekelwoorde van haar hart is Saterdag deel van 'n intieme damesfunksie van die Windhoek Woordfees in die magiese Droombos se Rooi Saal om 09:30.’n Beperkte aantal kaartjies is beskikbaar op https://eticket.my.na/

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!