ECN: Kandidate in openbaar ondervra

Integriteit, papierspoor uiters belangrik
Die ECN se kieskomitee is gereed om aanbevelings aan president Hage Geingob te maak.
Augetto Graig
Die kieskomitee van die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) het Donderdag openbare onderhoude in die Nasionale Vergadering (NV) gevoer met nege uit die 13 kandidate op die kortlys om twee setels in dié kommissie te vul.

Die komitee sal gevolglik aanbevelings aan president Hage Geingob maak oor wie die geskikste kandidate sal wees om die kommissielede voltallig te maak, wat uit vyf lede bestaan. Dit voor die staatshoof sy aanbevelings aan die Speaker bekend sal maak en die NV die nuwe lede teen Maart vanjaar sal aanstel.

Die komiteevoorsitter, Batseba Katjiuongua, wat ook ’n lid van die Staatsdienskommissie is, het gesê dit was die laaste stap in ’n lang proses om ongeveer 30 aansoeke te verminder tot die 13 name wat in die Staatskoerant gepubliseer is.

Die komitee sal vyf of ses name aanbeveel, afhangend van die kandidate se punte, brei sy uit.

Sy sê die vier kandidate wat nie aan die onderhoude deelgeneem het nie, het goeie redes verskaf.

Die kieskomitee het bestaan uit Zaa Nashandi van die raad van openbare rekeninge en ouditeurs, die hoërhof se Sebastian Kandunda, die adjunkvoorsitter vanaf die Regsvereniging van Namibië (LSN), Neli Tjahikika, en Harmoni Beukes van die Namibiese Kwalifikasieowerheid (NQA).

Elkeen het die kans gekry om vrae aan die kandidate te rig.

Katjiuongua het die kandidate oor hul kwalifikasie uitgevra, en hoekom hulle dink die komitee moet hulle name aan die president aanbeveel.

Nashandi wou weet oor die rol wat die ECN en die aspirant-kommissarisse speel in die geval waar verkiesingsuitslae betwis word, met verwysing na die hooggeregshof se beslissing in 2019.

Die hooggeregshof het beslis dat elektroniese stemmasjiene (EVM’s) nie sonder ’n naspeurbare papierspoor gebruik mag word nie, wat die kern van Beukes se vraag was, terwyl Tjakikika ’n voorbeeld wou hê van hoe elke kandidaat se integriteit beproef is en hoe hulle dit hanteer het.

Die eerste kandidiaat met wie ’n onderhoud verlede week gevoer is, was Vilyo Ndapopiwa, gevolg deur Simeon Nghipandwa, Elago Filippus, Rakkel Andreas, Fillepus Kambonde, Evaristus Evaristus, Pius Iikwambi, Linus Simataa en Gerson Tjihenuna.

Tjihenuna en Evaristus doen aansoek om hul termyne as ECN-lede te verleng nadat hul ampstermyne verlede jaar verstryk het.

Piteimo Hainyanyula, Sarah Negumbo, Hannu Shipena en Pinias Kashedi is die kandidate wat hulle van die onderhoude onttrek het.

KANDIDATE

Napopiwa is ’n maatskaplike werker en prokureur van beroep van die Universiteit van Namibië waar hy ook as voorsitter van die interne tribunaal dien. Hy het sy kommer uitgespreek oor die gebrek aan kieseropleiding. Hy sê as die verkiesings betwis word, moet die ECN-lede verseker dat die voorgeskrewe proses gevolg word, kiesers betrokke is by opleiding, uitslae aangekondig word om die kiesproses vrylik en regverdig te weerspieël en dat verslag oor die proses gedoen moet word.

Nghipandwa is ’n oudpolisieman wat reeds met Namibië se eerste verkiesings in 1999 op voetsoolvlak betrokke was en verskeie stemlokale in die Erongostreek bestuur het.

Destyds het politieke partye by saamtrekke bymekaar gekom en dit was meer algemeen om vuurwapens teë te kom, sê hy.

Hy was later betrokke by die vestiging van die ministerie van veteranesake, voor hy die registrasieproses van inwoners oraloor die land en veral in Tsumkwe vir die ministerie van binnelandse sake, immigrasie, veiligheid en sekuriteit begin bestuur het.

Hy plaas klem op die opleiding van beamptes. Hy meen die hooggeregshof se uitspraak in 2019 is ’n wen-wen-uitkoms aangesien dit op ’n naspeurbare papierspoor aandring, maar nie die uitslag verander het nie.

Sy integriteit is gereeld getoets maar hy het altyd met opregtheid opgetree, brei hy uit.

Fillipus was vir 15 jaar lank ’n onderwyser en bestuur tans ’n liefdadigheidsorganisasie om onderrig aan kwesbare kinders te verskaf.

Hy voer aan dat behoorlike prosedures gevolg moet word en stem ook met die hooggeregshof se beslissing saam. Hy sê sy integriteit is ongeskend ná jare as onderwysinspekteur waartydens mense korrupte voorstelle vir werksgeleenthede aan hom gemaak het

“Ek bly veerkragtig, al is my integriteit beproef omdat ek glo korrupsie skend integriteit,” sê hy.

Hy erken ’n plig om korrupsie aan te meld maar ook om mense in te lig oor die gevolge daarvan.

Hy is gebore in ballingskap, en wil graag bydra tot die bou van die Namibiese nasie, sê hy.

Rakkel Andreas (33) is ’n gepubliseerde skrywer van politieke fiksie. Sy is ook ’n politieke wetenskaplike en ’n oudjoernalis, wat sedert 2014 verskeie verkiesings in Opuwo, Windhoek en in Nigerië, Suid-Afrika, Mosambiek, Zimbabwe en Kenia vir die Afrika-unie waargeneem het.

“Verkiesings rus op vertroue,” sê sy en dat dit uiters belangrik is vir politieke partye om rekenskap oor openbare befondsing te gee. Die ECN moet vertroue in die kiesproses bevorder en sy sê sy stem met die hofbeslissing saam dat ’n papierspoor noodsaaklik is.

“Meeste lande gebruik stembriewe en vrede is die uitkoms,” sê sy. Haar integriteit is beproef veral omdat sy vertroulike ooreenkomste met talle kliënte moet onderteken. Sy sê professionaliteit en integriteit is persoonlike keuses en is belangrik vir ECN-lede.

“Op papier kan jy goed lyk, maar as jy in jou binneste vrot is, dan is jy net vrot,” sê sy.

Kambonde is ’n logistieke, verkrygings- en voorsieningskettingkenner, ’n projekleier met 16 jaar se ondervinding by Telecom Namibia, en tans is hy by die Namibiese Kollege vir Afstandsonderrig (Namcol) betrokke.

“Ek het passie om my volk te dien en tot nasiebou by te dra, en ek het ’n passie vir regverdigheid. Dit is in my om regverdigheid te bevorder,” sê hy.

Verkiesings wat betwis word, word deur kieser- en publieke opleiding vermy. Dit deur belanghebbers te nader en in te lig oor wat die wet vereis, sê hy.

Die stemlokale moet voorvalle opteken en kwessies moet voor die toepaslike howe gebring word.

“Eerlikheid, regverdigheid plus deursigtigheid is gelyk aan integriteit,” sê hy.

Hy voer aan dat sosiale media gebruik word om jonger kiesers te bereik en oor die gevolge in te lig as hulle nie stem nie.

Evaristus doen aansoek om sy ampstermyn te verleng. Hy doen ’n beroep op die vroegtydige aanneming en ingebruikneming van veranderde verkiesingswetgewing.

“Met verkiesings maak persepsies saak. Kommissarisse moet onafhanklik wees omdat jy verskillende mense met verskillende belange dien,” sê hy.

Oor 2019 se hofbeslissing erken hy dat die minister die verkiesingswet slegs gedeeltelik toegepas het, en dat ’n papierspoor nodig is.

Die tegnologie was egter toe nie daarvoor beskikbaar nie, en nou is daar nie geld vir die nodige drukmasjiene nie, alhoewel die gebruik van EVM’s steeds ’n opsie bly, sê hy.

“As ’n kommissaris behoort jy die werk met integriteit te doen,” sê hy.

Iikwambi is ’n prokureur en lid van die LSN wat graag met jongmense werk, en tans in diens is van die Ontwikkelingsbank van Namibië.

“Verkiesings behels emosies en ’n verkiesingstwis kan ook deur die karakter van mededingers vertroebel word. ’n Kommissaris moet ’n onafhanklike en onpartydige rol speel,” sê hy.

In terme van die 2019-hofsaak, sê hy die ECN moes die aansoek nie teengestaan het nie, maar eerder kennis gegee het dat die organisasie die hofbevel sou nakom

“Dit was verkeerd – in my oë – om kant te kies en dit beeld nie onafhanklikheid uit nie.”

Oor integriteit, sê hy dat studente wat hom nader om onreëlmatig aan eksamens deel te neem, aangemeld word en hul medepligtiges word ook gerapporteer.

Simataa is ’n voormalige onderwyser en al jare verantwoordelik vir opleiding in vier streke vir die Teenkorrupsiekommissie van Namibië (ACC).

“Integriteit is alles. In my lewe probeer ek altyd integriteit toepas. By die ACC kom ons voor talle dilemmas van integriteit te staan, maar ek sê altyd ek kan nie so maak nie omdat ek nie my integriteit kan kompromitteer nie,” sê hy.

Sy grootste bekommernis is die voortdurende afname in stemgetalle oor die jare.

Tjihenuna is ’n kenner van politieke wetenskap en is tans afgetree ná amper 30 jaar in die staatsdiens, asook in die kantoor van die Speaker en die kabinet.

“Ek ken die leiers van meeste van die politieke partye en het goeie verhoudings met hulle,” sê hy.

Oor die hofbesluit, sê hy die ECN het daaruit geleer en nou word stembriewe weer gebruik.

Hy sê integriteit is deel van hom en hy was betrokke by die vestiging van die ACC. Tjihenuna is die oudste kandidaat, maar hy lig uit dat die setel nie ’n ouderdomsbeperking het nie.

Verder voel hy hy het tydens verlede jaar se tussenverkiesings op Mariental ’n bydra gelewer. Daar sê hy dat hy mede-ECN-lede oortuig het om nie voort te gaan met die toekenning van duplikaat-kieserskaarte nie, en so bloedvergieting van ontevrede lede van opposisiepartye vermy het.

“Die verkiesings in 2024 sal die mededingendste sedert onafhanklikwording wees. Ervaring sal ’n sleutelfaktor wees,” sê hy.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!