En so ontplof Böögg

Strukture van verdeeldheid word afgebreek
Die oorsprong van die Sechselaüten-fees in Zürich strek tot in die Middeleeue. Hierdie fees is 'n viering van die werksure van die somer.
Gerhardus se reise – Tien jaar gelede het ek vir my goeie vriend, Stephan uit Duitsland, in ’n “backpackers” in Windhoek gewag.

Hy sou die volgende oggend land. Ek het met my voete in die swembad gesit en lees toe die swaar hek van die “backpackers” ooprol. ’n Man met ’n groot rugsak het ingestap en by ontvangs ingeteken. ’n Rukkie later het hy by my by die swembad kom sit. Dit was tussen Kersfees en Nuwejaar, en vrekwarm! Ons het geswem en aan die gesels geraak. Die Switserse man sit al vir ’n week in Windhoek sonder planne, want hy het Namibië toe gekom om sy kop skoon te maak sonder ’n spesifieke reis-agenda.

“Kom ons gaan drink ’n bier” sê ek drywend in die swembad.

Ons is met ’n goeie ou “local” Windhoek-taxi Joe’s toe, en so leer ken ek vir Sam. Die volgende aand braai ek, Stephan en Sam saam. Die dag daarna laai ons vir Sam in die kar en so rits die drie van ons deur die noordweste van Namibië. Dit was ’n epiese reis, maar ’n storie vir ’n ander dag.

’n Hele paar jaar later gaan kuier ek vir Sam in Switserland. Hy het gevoel dit is tyd om sy land en wêreld op ’n soortgelyke wyse te deel. Ek het hom in Zürich ontmoet en ons het in een van sy vriendinne se woonstel gebly. Hy het nie regtig vir my gesê wat presies hy in die mou voer nie. Elke dag was ’n verrassing.

’n Bepaalde oggend, na ’n aand van raclette en baie Aperol Spritz, vaar ons die middestad van Zürich in. Dit was ’n heerlike koel dag sonder wind of ongunstige weer.

“Wat doen ons vandag?” vra ek.

“Jy sal sien.”

Vanaf ’n hoë platform in die stad sien ek rye en rye mense loop. Daar is ’n blaasorkes. Jonk en oud stap in die strate getooi in kleurvolle uitrustings met blomme in die hare. ’n Stoet perde lei die prosessie. Verskeie gelukbringers word deur verskillende groepe mense op draagbare gedra: byle, bierbottels, brode, troffels en vele meer. Dit is die verskillende werkersgilde van Zürich wat in die Sechselaüten (ses-uur klok wat lui)-optog deelneem.

Deur die musiek verduidelik Sam vir my die geskiedenis van hierdie fees. Die oorsprong van die Sechselaüten-fees strek tot in die Middeleeue. Hierdie fees is ’n viering van die werksure van die somer. Die oorskakeling na somer-werksure was tradisioneel ’n vreugdevolle geleentheid, aangesien dit die begin van ’n seisoen gemerk het waarin mense oor daglig-ure beskik het buite werkstyd. Dus was dit, en word dit steeds, deur gildesale oraloor die stad gevier.

Terwyl die prosessie plaasvind skarrel ons deur die nou gangetjies van Zürich om tot onder te kom. Illustrasies van Middeleeuse ridders versier die mure van die gangetjies. Standbeelde groet ons om elke hoek en draai.

Drie uitgekerfde klipfigure teen ’n muur roep my. Hulle staan onthoof met hul koppe in hulle hande. Die koppe begin gesels.

“Wie is julle?” vra ek. “Ons is Felix, Regula en Exuperantius,” sê hulle in een stem.

“Ons het gevlug van die keiser Maximian meer as 2000 jaar gelede.”

Felix begin huil. “Dit wat tevergeefs,” snik hy.

Regula rol haar oë. “Jammer, my boetie Felix het nog nie die trauma verwerk nie. Hy klou aan die verlede. Kom ek vertel jou wat gebeur het,” sê Regula parmantig.

“In ons vlugtog het ou Maximian se legion ons gevang. Hier! In Zürich. Ek het puppy-eyes gemaak sodat die soldate ons moet spaar, maar die verhoor het ons steeds skuldig bevind. Ons is onthoof, maar danksy ons geloof het ons steeds bly lewe. Ons het ons koppe gevat en die heuwel opgeklim. Daar het ons eers gebid en toe tot sterwe gekom.”

“Yip, and so it goes,” sê Exuperantius die dienskneg. Ek wou nog iets vra, toe pluk Sam aan my arm.

“Ons moet gaan. Anders mis ons dit,” jaag hy my aan.

Ek gooi piksoentjies vir die koppe en Regula knipoog vir my. Felix snik steeds.

Op pad na die Sechselaütenplatz toe, stop ons by ’n slaghuis. Ons gaan vinnig in en Sam koop twee spierwit bratwürst. Dit is ’n baie bekende slaghuis met outentieke, plaaslike bratwurst.

“Tina Turner koop haar bratwurst hier,” sê Sam met trots. Hierdie was vir my ’n spesiale oomblik weens die feit dat Tina vir my die liedjie “The Best” geskryf het. Goue vrou. Tina.

Ek het geen idee hoekom ons met rou wors rondloop nie, maar so kom ons by die platz aan. In die verte staan ’n groot kunsmatige sneeuman op ’n brandstapel. Die optog kom aangestap en die stoet perde hardloop in sirkels om die sneeuman. Die sneeuman se naam is Böögg. Böögg is ’n weerorakel wat die toestand van die aankomende somer voorspel. Daar is vuurwerke in sy kop. Wanneer die brandstapel aan die brandgesteek word, kyk hulle hoe lank dit neem voor Böögg se kop ontplof. Wanneer dit ’n kort tydjie is, dan gaan dit ’n warm, sonnige somer wees. En, hoe langer dit neem vir Böögg se kop om te ontplof, hoe kouer en reënerig gaan die somer wees.

In 1974 is die kortste tyd aangeteken wat dit geneem het vir die ontploffing om plaas te vind (5 minute en 7 sekondes) en in 2023 is die langste tyd aangeteken (57 minute). Ek en Sam het vir 20 minute en 30 sekondes vir die Böögg se “bang” gewag.

Ná die ontploffing, word daar ’n tydjie gewag vir die brandstapel om te bedaar en dan word daar hopies kole gemaak. Uiteindelik vertel Sam vir my hoekom ons met rou wors rondloop. Honderde hopies gloeiende kole verskaf vir duisende mense die geleentheid om hul worsies te braai terwyl die bier en vreugde vloei. Böögg is in elke hopie kole. Die somer is hier!

Ná baie bondelkuiers word die kole as. Die skare dun uit en Sechselaütenplatz word stiller. Ons maak later ook aanstaltes. Op ’n straathoek verkoop ’n stalletjie draairoomys. “Ek sal onbetaamlike dinge doen vir draairoomys,” noem ek aan Sam. “Kry vir jou,” sê hy giggelend.

Met ’n draairoomys in die hand stap ons deur die ou strate terug huis toe. Met ’n ryk vriendskap, ’n vol hart en nuwe ervarings voel die lewe sommer soos somer.

In retrospek dink ek aan die trots waarmee die werkersgilde hulle amp dra: ’n bakker en ’n goudsmid het elkeen ’n waardige plekkie in die son.

Hierdie karnaval laat elke beroep skyn. Almal bou aan dieselfde samelewing en ervaar dieselfde winters en somers.

Strukture van verdeeldheid word afgebreek en mense vier dit deur saam bratwurst te braai. Ek dink nie ou Böögg gee om om te ontplof ter wille van hierdie enigheid nie.

– Gerhardus van Grootfontein

Kommentaar

Republikein 2025-03-01

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer