Engelse universiteit wink vir ingenieursdosent

‘Voel soos ’n eens-in-’n-leeftyd-geleentheid’
Karel Kruger begin vanjaar by een van die wêreld se topuniversiteite as medeprofessor in die departement meganiese en megatroniese ingenieurswese werk.
Redaksie
“Dit is ongelooflik opwindend om ’n geleentheid te kry om skouers te skuur met die beste navorsers in die wêreld, by een van die beste universiteite in die wêreld.”

So vertel die Namibiese ingenieur en dosent aan die Universiteit Stellenbosch (US), dr. Karel Kruger (35), wat binnekort oor die waters na Engeland sal reis om sy nuwe pos by die gesogte Cambridge-universiteit – een van die topvyf-universiteite ter wêreld – te vul.

Hy is tans die medeprofessor in die departement meganiese en megatroniese ingenieurswese by US, maar is aangestel as medeprofessor in industriële outomatisasiestelsels by die Instituut vir Vervaardiging by Cambridg-universiteit.

“Dit is ’n tipiese akademiese pos wat onderrig, navorsing en dienslewering aan die bedryf behels,” verduidelik hy.

Karel, sy vrou Jolise – ook ’n Namibiër van Walvisbaai – en hulle twee klein dogters sal in Mei vanjaar sak en pak na Engeland trek waarna Karel sy pos sal inneem.

“Terwyl ek baie gelukkig by Stellenbosch Universiteit is en ewig dankbaar is vir die geleenthede wat die universiteit deur die jare aan my gebied het, voel hierdie aanstelling soos ’n eens-in-’n-leeftyd-geleentheid.”

AANSTELLING

Hy het aan die begin van 2023 die eerste keer na Engeland gereis as ’n kortlyskandidaat vir die pos, maar niemand is aangestel nie. Hy is aan die einde van 2023 weer na Engeland genooi vir ’n onderhoud.

“Die onderhoudproses was omtrent ’n ervaring op sy eie. Beide kere het Cambridge-universiteit my oorgevlieg om die driedagproses fisiek te kan bywoon. Die proses het die aanbieding van ’n lesing, gemik op voorgraadse ingenieurstudente, ingesluit – maar dit is voor ’n paneel van vyf professore aangebied, en nie studente nie!

“Ek moes ook ’n voorlegging doen oor my navorsing vir die akademiese personeel en die doktorale studente van die instituut. Verder was daar een-tot-een-vergaderings met professore om spesifieke aspekte van die werk en omgewing te bespreek, en laastens die formele onderhoud,” vertel Karel.

Hy was met beide onderhoude een van drie (eerste onderhoud) en vier (tweede onderhoud) hoogsgekwalifiseerde kandidate.

“Al die kandidate was ongelooflik suksesvolle en talentvolle individue in hul eie reg. Van die kandidate was ook reeds geaffilieerd met topuniversiteite, soos MIT en ETH Zurich.”

“Die groep kandidate het heeltyd saam in die koffiekamer gesit, so ek kon eintlik van die mense leer ken, wat ’n onverwagse bonus was,” sê hy.

Karel sê die proses was intens en soms senutergend.

“Dit was egter indrukwekkend hoeveel tyd, geld en moeite die universiteit bereid is om te bestee om te verseker dat hulle die regte mense aanstel.”

Karel het einde November gehoor hy is as die suksesvolle kandidaat gekies.

“Ek ry nog die emosionele wipplank en wissel tussen opgewondenheid vir die nuwe avontuur vir my en my gesin en benoudheid oor al die reëlings wat nog getref moet word,” het Karel gesê.

STUDIES EN MYLPALE

Karel is in Swakopmund gebore waarna hy saam met sy ouers – jarelange onderwysers Malan en Santie Kruger – na Otjiwarongo getrek het.

Hy was een van die eerste leerlinge van Edugate Academy toe die skool sy deure oopgemaak het.

Karel het sy matriekjaar in Walvisbaai Privaat Hoërskool voltooi en daarna – in 2007 – sy studies in megatroniese ingenieurswese by die Universiteit Stellenbosch begin.

In 2010 verwerf Karel sy graad en kry die geleentheid om met sy meestersgraad te begin. Sy onderwerp handel oor die intelligente beheer van industriële outomatisasiestelsels.

“Met die voltooiing van my meestersgraad, het die volgende geleentheid in 2013 oor my pad gekom om ’n PhD te doen in dieselfde gebied.”

“Omtrent halfpad deur my PhD – in 2015 – het ek die geleentheid gehad om by voorgraadse onderrig betrokke te raak – eers tydelik, maar toe permanent as lektor vanaf 2016,” het hy gesê.

Oor die jare het Karel beheerstelsels- en megatronikamodules aangebied vir derde– en vierdejaar- meganiese en megatroniese ingenieurstudente.

“Ek het toe my PhD-graad deeltyds gedoen en dit in 2018 voltooi. Sedertdien het ek as medeleier van die megatronika-, outomatisasie- en ontwerp-navorsinggroep gedien en, tot nou, vyf doktorale en 16 meestersgraadstudente gelei in hul navorsingstudies.”

Hy is verlede jaar bevorder tot medeprofessor in die departement meganiese en megatroniese ingenieurswese.

“Ek het nog altyd ’n goeie verbeelding gehad wat gepaard gaan met nuuskierigheid. Om navorsing te kan doen – nuwe kennis te ontdek, idees te ontwikkel – is natuurlik hoogs bevredigend. Dan is mens in die akademie ook bevoorreg om met talentvolle, entoesiastiese, positiewe mense – veral studente – te kan werk, wat ontsaglik verrykend is.”

Karel is in 2019 deur die universtiteit vereer met ’n uitnemende onderrig-toekenning en in 2023 as uitnemende vroeë-loopbaannavorser.

’N AFGERONDE FAMILIEMAN

Akademie is nie Karel se enigste sterkpunt nie, maar hy het ook vele ander talente.

As skoolkind was hy deel van die Namibiese krieketspanne vanaf o.12 tot o.19. Hy is ook gekies vir die Craven Week-rugbyspan in 2006 in sy matriekjaar.

Tydens Karel se studentejare woon hy in Simonsberg-manskoshuis op Stellenbosch. Tussendeur sy studies, speel hy koshuisrugby en wen selfs ’n Varsity-koshuisrugbyfinaal in sy vierde jaar teen Patria-manskoshuis van die Noordwes-universiteit. Hy word ook later die primarius van Simonsberg.

Hy leer om die akoestiese kitaar en bekfluitjie te speel en word selfs kortliks deel van ’n musiekgroep tydens sy jare op Stellenbosch.

Tydens ’n studentevakansie terug in Walvisbaai in sy eerste jaar (2007) kruis Karel se paaie met Jolise Swart wat destyds nog ’n matriekleerling by Walvisbaai Privaat Hoërskool was.

Hulle knoop ’n verhouding aan wat verder groei toe Jolise die volgende jaar musiek op Stellenbosch begin studeer het. Sy verander later van studierigting en begin haar onderwysgraad en is tans ’n onderwyseres by die Laerskool Eikestad in Stellenbosch.

Dié twee trou in Desember 2012 in Namibië en maak daarna Stellenbosch hulle permanente tuiste. Karel en Jolise spog nou met twee pragtige dogters (drie en sewe).

“Hierdie geleentheid kom nie aldag oor mens se pad nie en ons is ontsettend dankbaar daarvoor. Karel is die bewys dat wanneer harde werk, passie en deursettingsvermoë saamstaan, kan die onmoontlike moontlik word,” vertel Jolise.

“Ek is verskriklik trots op hom en gun hom hierdie geleentheid met my hele hart. Ons sien beslis uit na hierdie nuwe avontuur saam.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-01-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 30° Rundu: 19° | 32° Eenhana: 19° | 33° Oshakati: 23° | 32° Ruacana: 20° | 35° Tsumeb: 20° | 33° Otjiwarongo: 21° | 31° Omaruru: 24° | 33° Windhoek: 23° | 31° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 18° | 23° Swakopmund: 17° | 18° Walvis Bay: 18° | 22° Rehoboth: 24° | 35° Mariental: 26° | 39° Keetmanshoop: 25° | 40° Aranos: 26° | 39° Lüderitz: 19° | 31° Ariamsvlei: 25° | 40° Oranjemund: 17° | 25° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 24° | 37° Lubumbashi: 15° | 21° Mbabane: 16° | 28° Maseru: 17° | 33° Antananarivo: 18° | 23° Lilongwe: 19° | 26° Maputo: 23° | 34° Windhoek: 23° | 31° Cape Town: 20° | 28° Durban: 22° | 27° Johannesburg: 18° | 32° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 17° | 27° Harare: 16° | 28° #REF! #REF!