Namibiër se vlerke neem hom regoor die wêreld

'Hy is die hardwerkendste persoon wat ek ken'
Van saam bulhaaie swem in Fiji tot die besige strate van New York – André Huisamen se werk as vlieënier neem hom regoor die wêreld.
Kristien Kruger
André Huisamen is ’n Namibiër wie se loopbaan as vlieënier hom die wêreld laat platreis en die afgelope jaar aan hom die geleentheid gebied het om in Amerika te woon en as private vlieënier vir ’n wêreldbekende sanger te werk.

André se baas is die Colombiaanse sanger en die "Prins van Reggaeton" J Balvin. Hy word beskou as een van die gewildste Latynse kunstenaars met meer as 35 miljoen wêreldwye verkope.

As J Balvin se private vlieënier, vlieg André hom na sy talle konserte oraloor die wêreld en ook tussen sy huise in Medellín (Columbië) en New York (Amerika).

“Hy werk soms saam met bekende handelsmerke en moet dikwels reis na waar nuwe skoen- of klerereekse bekendgestel word of om musiekvideo's te skiet. Onlangs het ek na Alaska gereis vir hom om ’n musiekvideo in die sneeu te skiet.”

Voglens André het J Balvin ’n opkomende toer deur Europa waar hulle vir ’n paar maande na 14 verskillende lande sal reis en hy by 20 verskillende venues sal optree.

“Dit beteken dat ek hom omtrent elke tweede of derde dag na die volgende plek moet vlieg, maar die voordeel is dat ons ook tyd kry om bietjie die plekke te verken.”

André se basis is in Miami, Florida – halfpad tussen New York en Columbië waarheen hy gereeld moet vlieg. Hy is een van drie vlieëniers en geniet daarom 10 dae af ná 20 dae se werk.

“Tydens my aftyd het ek die vryheid om te kies waarheen ek wil reis. Van my gunstelingplekke waarheen ek al gereis het, is Fiji waar ek saam met bulhaaie geswem het. Ek was ook saam met vriende Japan toe vir die Rugbywêreldbeker waar ons Namibië ondersteun het."

André was al in Parys by die Eiffeltoring, die Kollosseum in Rome, die ‘Christ the Redeemer’-standbeeld in Brasilië en Machu Picchu in Peru.

Hoewel dit vir sekere mense lyk of André baie vakansie hou, vertel sy meisie Robyn Norval van die ander kant wat die meeste mense nie sien nie.

“André is seker die hardwerkendste persoon wat ek ken. Ek dink almal sien hom net as iemand wat heeltyd op vakansie is, want hy gaan na al hierdie plekke oraloor in die wereld. Ek wat sy ‘partner’ is, sien die ander kant van die verhaal wat baie lang ure, baie 'jetlag' en baie min slaap behels,” vertel Robyn.

“Maar André leef met ’n uitkyk van die wêreld wat net positief is en daarom sal iets soos harde werk of lang ure hom nooit onder kry nie.”

LOOPBAAN

“My werk het my al ’n paar keer my tasse laat pak en trek,” vertel André.

Sy loopbaan begin in 2004 met die keuse om sy private vlieglisensie te kry wat hy deur Namibia Aviation Training Academy (NATA) in Keetmanshoop verwerf. Die volgende jaar verwerf hy ook sy kommersiële vlieglisensie deur NATA. In 2006 val hy in by Desert Air.

“Dit was klein vliegtuie met meestal ses sitplekke. Ek het safari’s gedoen en deur Namibië en Suider-Afrika gevlieg.”

In 2009 begin André se buitelandse avonture en hy gaan werk vir sewe jaar in Ethiopië. In dié tydperk en in 2012, reis André vir twee weke na Amerika en verwerf in Fort Worth, Texas sy Amerikaanse vlieglisensie.

“Elke land het sy eie stel reëls en lisensies. As jy ’n sekere land se vliegtuie wil vlieg, moet jy na die betrokke land gaan om die regte lisensie te kry.”

In 2016 kry André sy eerste werksgeleentheid in Amerika en ook die kans om vir die eerste keer ’n straler te vlieg. Hy keer vir 'n wyle terug na Fort Worth vir die nodige opleiding vir dié spesifieke vliegtuig en begin kort daarna om ’n huurvliegtuig vanuit Los Angeles, Kalifornië te vlieg.

In 2018 is hy vir ’n paar maande in Nigerië waar hy vir die Nigeriese regering vanuit Port Harcourt vlieg. Dit is egter van korte duur en aan die einde van die jaar vertrek André na Singapoer waar hy vir ’n private eienaar vlieg.

“My baas het twee vliegtuie gehad. Die een is gebruik vir wanneer sy vrou op vakansie wou gaan of as hy besigheid in Asië of Europa wou gaan doen. In 2020 het Covid gekom en het my baas een van sy vliegtuie verkoop. Dit was die een waarop ek gewerk het en het ek teruggekom Namibië toe,” vertel André.

Hier het hy by ’n vriend se leerwinkel gewerk.

“Dit was vir my baie goed, want ek het ’n nuwe vaardigheid geleer.”

In 2021 kry André die werk wat hy tans doen en verhuis na Amerika. Hy was onlangs in Windhoek vir ’n kort vakansie voordat hy na Miami terugkeer.

“Mens sal dink ná 14 jaar van in die buiteland bly, ek sal weet hoe om te pak en baai te sê, maar dit bly moeilik.”

’N STERK (LANGAFSTAND)VERHOUDING

Robyn erken ’n langafstandverhouding is nie altyd maklik nie, maar sy en André het ’n sterk verhouding en kan mekaar gelukkig gereeld sien.

“Weens André se werkstye wat 20 dae aan en 10 dae af is, asook die land waar hy van diens af klim, is dit redelik uitdagend om reëlings te maak om mekaar te sien.”

“’n Vraag wat almal ons vra is ‘wanneer gaan julle mekaar weer sien?’. Die antwoord is altyd dieselfde ‘ons weet nie’. Tog werk dit altyd uit en voor ons kan sê ons mis mekaar, is ons weer saam.”

Robyn vertel dat geloof die belangrikse bestanddeel in hul resep vir ’n suksesvolle langafstandverhouding is.

“Ek en André glo dat God ’n plan vir ons het en dat ons tyd nie ons s'n is nie, maar Syne. Ons verhouding is gebaseer op geloof en ek dink dis die enigste manier om ’n suksesvolle verhouding te hê, soveel te meer as dit langafstand is.”

Robyn het al ’n paar keer vir André in Miami gaan kuier en volgens haar sien hulle ook vir hulself ’n toekoms in Amerika.

“Amerika vereis baie aanpassings, maar dit is werklik ’n land vol geleenthede. Aan die ander kant, ons vergeet dikwels hoe lekker dit is as hy terug is in Namibië en ons weer tyd saam met vriende en familie kan spandeer. Dit is iets wat nooit vervang kan word nie. Ons probeer altyd die meeste daarvan maak terwyl hy hier is. Dit is egter nie maklik om afsprake vir koffie met almal binne tien dae in te pas nie!”

LEWE IN AMERIKA

André vertel dat dit ’n unieke ervaring is om in Amerika te woon, veral as dit by aanlyn inkopies kom.

“Jy kan byna enigiets bestel en dit oornag by jou deur laat aflewer. Dit is ongelooflik hoe toeganklik alles is - van pille tot alledaagse items. Die gerief kan egter gevaarlik wees, aangesien dit kan lei tot impulsiewe aankope wat ’n mens dalk nie sou gemaak het as jy fisies na ’n winkel moes gaan nie!”

Winkels maak ook gebruik van ’n selfbetaalstelsel wat vir hom soms ’n vreemde begrip is, omdat niemand jou betaling bevraagteken of nagaan nie.

In Amerika ry mense natuurlik ook aan die regterkant van die pad en elektriese voortuie is baie algemeen.

“Laaistasies is oral beskikbaar. As jou voertuig uit krag loop, kan jy ’n laaier langs die pad kry en dit binne 20 minute tot 80% kapasiteit herlaai. Dit maak langafstandreise gerieflik sonder enige bekommernisse oor die uitloop van batterykrag.”

Nog iets wat vir André uitstaan en uniek aan Amerika is, is die aanvaarding van emosionele ondersteuningsdiere.

“Jy kan jou klein hond, soos ’n Yorkie, as ’n emosionele ondersteuningsdier registreer. Die diere word dan op treine en vliegtuie toegelaat. Dit is nie ongewoon om honde te sien wat hul eienaars op openbare vervoer vergesel nie.”

André vertel Florida waar hy tans woon, ervaar darem nie enige uiterste koue nie en dat die staat baie moeite doen met buitelugaktiwiteite.

“Jy kan visvang in die kanale, bootry op die see of bal speel op die strand. Die staat bied ontelbare geleenthede vir buitelugentoesiaste om die natuur te verken en te geniet.”

André noem wel groot geboue in die uitgestrekte Amerikaanse stede beperk horisonne.

“Nietemin waardeer ek die geleenthede wat ek gekry het om nuwe plekke te verken en verskillende kulture te ervaar.”

FLORIDA EN VERDER

Volgens hom is dit baie maklik om in Amerika te toer en het hy en Robyn die geleentheid aangegryp om Florida met ’n kampeervoertuig te verken.

Hulle het 'n voertuig gehuur en die pad na die suide van Florida tot teen die Ooskus by ’n klein dorpie met die naam Saint Augustine gevat.

“Wat Saint Augustine besonders maak, is dat dit die eerste nedersetting in Amerika was. Die stad het baie geskiedenis.”

Daarna het die paartjie wes gedraai na Ginnie Springs.

“Hier kry jy vars water wat uit die grond kom en dan in ’n rivier afloop. Ongeag die tyd van die jaar is die water altyd 23°C.

“Ons het met tubes by die rivier afgegaan, roeiplank en kano gery. Dit was ’n baie lekker tyd.”

Hulle het verder wes gereis na ’n dorpie met die naam Destin waarna hulle weer teen die Weskus afbeweeg het.

“Ons het deur Tampa Bay en Naples gery. Naples en Miami sit oorkant mekaar, maar word geskei deur ’n groot moeras wat Everglades genoem word. Dit is sowat 100 km by 300 km en mens tref krokodille, slange, seekoeie, skilpaaie en allerhande ongediertes hier aan.”

Een van André se gunstelingplekke in Amerika is New York wat hy en Robyn ook al saam kon verken en waar hulle 'n konsert van Harry Styles bygewoon het.

“Dit was ek en sowat 22 000 meisiekinders, maar dit was groot pret!” vertel hy.

Hy en Robyn het ook die museum vir natuurlike geskiedenis besoek waar die fliek ‘Night at the Museum’ met Ben Stiller geskiet is.

“Hier het ons die groot skedels van dinosourusse gesien en ook die Easter Island Head wat in die fliek te sien is. Ek dink daar is meer as 4 miljoen goed wat in die museum uitgestal word.”

Hy en Robyn het ook van huurfietse gebruik gemaak om die stad plat te ry en by al die besienswaardighede uit te kom..

André vertel van nog ’n lekker reis wat hy saam met sy pa aangepak het na een van die grootste lugskoue ter wêreld in ’n dorp naby Chicago met die naam Oshkosh.

“Vir ’n week lank raak daai klein lughawetjie die besigste lughawe in die hele wêreld, selfs meer as Heathrow of JFK. Omtrent 10 000 klein vliegtuigies vlieg daarheen en parkeer dan vlerk-teen-vlerk. Mense slaap sommer in tente onder die vlerke. Elke dag stap jy rond en gesels met mense. Daar is enigiets te sien - van die nuutste vegvliegtuie tot ou vliegtuie, kleintjies, grotes en selfs amfibiese vliegtuie.”

RAAD AAN ANDER

André se raad aan mense wat graag vlieëniers wil word, is om nie te huiwer om by klein vliegtuie te begin nie.

“Dit is die lekkerste vlieg wat mens kan kry. Mens dink altyd terug na daardie tyd. Jy moet ook bereid wees om in die slegte plekke soos bo in Afrika te gaan werk, al is dit net vir ’n tydjie om die nodige vliegure te behou. Partykeer draai dit so uit dat dit die lekkerste vlieg is wat mens kan doen.”

André se raad is ook om verdere lisensies en ook in ander lande te verwerf om “jouself meer bemarkbaar” te maak.

“Laastens, jaag jou drome! As dit jou droom is om ’n vlieënier te wees, doen dit. Dit is partykeer moeilik en mens moet onder begin, maar dit is ’n baie lonende beroep.”

‘EK MIS OUMA-BESKUIT EN BILTONG’

Hoewel André dankbaar is vir die geleenthede wat sy werk vir hom bied, mis hy die Namibiese mense.

“Die mense daar oorkant is glad nie dieselfde nie. Hulle is nie so gasvry soos ons nie,” sê André.

Verder mis hy die oop vlaktes en natuurskoon wat mens net in Namibië kan kry.

“Baie van die plekke wat ek besoek, is groot stede met hoë geboue en mens sien nie regtig die horison nie. Ek mis Sossusvlei, die kus en al die aktiwiteite wat mens hier kan doen. Ons is so bevoorreg om in jou kar te kan klim en ’n 4x4-‘trip’ te kan doen. Ek mis om saam met my vriende motorfiets te kan ry en valskerm te spring.”

André se mond water natuurlik vir ’n lekker Namibiese braai.

“Om op gas te braai is glad nie dieselfde as om met hout te braai nie! Ek mis ook Sondagetes saam met my familie, malvapoeding, kookkos, Ouma-beskuit en biltong.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-12-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 33° Rundu: 19° | 29° Eenhana: 19° | 31° Oshakati: 22° | 30° Ruacana: 21° | 29° Tsumeb: 19° | 29° Otjiwarongo: 18° | 26° Omaruru: 22° | 33° Windhoek: 21° | 29° Gobabis: 21° | 28° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 23° Rehoboth: 22° | 31° Mariental: 23° | 35° Keetmanshoop: 22° | 36° Aranos: 21° | 35° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 24° | 37° Oranjemund: 17° | 24° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 21° | 31° Lubumbashi: 17° | 29° Mbabane: 15° | 32° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 21° | 33° Maputo: 21° | 34° Windhoek: 21° | 29° Cape Town: 20° | 22° Durban: 20° | 30° Johannesburg: 18° | 28° Dar es Salaam: 26° | 31° Lusaka: 21° | 31° Harare: 18° | 29° #REF! #REF!