Vir ’n wyle in hul skoene (Deel 2)
Die kronkelpad van kanker
Republikein stap vandeesmaand die pad saam met Namibiërs wat op welke manier ook al deur kanker geraak is.
Die “pynknop van hartseer” wat haar trane net laat loop, sit vandag nog in Ingie Hochobes se keel, vyf jaar nadat sy op die ouderdom van 42 met kanker gediagnoseer is.
Sy het baie gehuil, erken sy, want haar kinders was klein en haar pa is ook aan kanker dood.
Haar man wil tot vandag toe nie daaroor praat nie en al was haar kinders klein het hulle “my met simpatieke oë aangekyk as ek die pyne gekry het”.
Ingie se pa is in 2007 aan prostaatkanker oorlede. Drie van haar pa se broers is aan die siekte dood; so ook sy suster. Ook haar ma het kanker gehad, maar is vroeg behandel en leef nog.
Baie mense voel kanker is die einde, sê Ingie, maar dit is soos enigiets wat jou kragte beproef.
“Moenie moed verloor nie, wees altyd positief en sterk. Hou vas aan die Here en vra hulp. Moenie alles binne hou nie, maar wees sterk, al is dit soms baie moeilik.”
JUANITA RITTMANN
Haar pa, ooms, tannies en geliefde vriende. Dit bly altyd ’n skok as jy die kankertyding van ’n geliefde kry, sê Juanita Rittmann. Die ouderdomme wissel van tussen 24 en 60 jaar en dit is van long-, bors- en kolon- tot lewerkanker.
Haar pa, “my steunpilaar en my alles in die lewe”, se diagnose was ’n geweldige skok, want hulle is ’n hegte familie.
“’n Deel van ons het die dokters blameer. Hulle het hom vir bronchitis behandel, terwyl ons gevra het hulle moet hom vir kanker toets.”
As familie het hulle beurte gemaak om hom te versorg en te bederf vir die tydjie wat hy by hulle was.
Met sy en ander familielede se diagnoses het Juanita besluit om ’n verskil in die lewens van ander kankerpasiënte en hul families se lewens te maak. Sy het ook haar hare in solidariteit afgeskeer vir ’n pasiënt wat “steeds met ons is”.
Kanker het haar definitief verander, sê Juanita, en is ook die rede hoekom sy by die Kankervereniging van Namibië betrokke geraak het. As vrywilliger werk sy nou met pasiënte en mense in Rehoboth en die Hardapstreek.
Self gaan sy gereeld vir haar ondersoeke en moedig ook ander aan om hulle te laat toets en betrokke te raak.
“Kom ons vat hande en staan saam om ’n verskil te maak. Soos elke sonsopkoms ons herinner, is daar altyd lig ná die donkerte.”
VERA TUNE
Sy glo in God en het sedert dag 1 van haar diagnose nie woede of ’n uitbarsting gehad het, vertel Vera Tune. Moontlik omdat haar betrokkenheid by die Kankervereniging haar met soveel pasiënte in aanraking gebring het.
Sy het ook ’n noue pad met ’n baie spesiale tannie van haar gestap wie se bors verwyder is en wat later kankervry verklaar is.
“Dit het my gewys kanker is nie ’n doodsvonnis nie. Alles hang van jou gesindheid en jou behandeling af.”
Vera is aanvanklik met fase 2 borskanker gediagnoseer en het dadelik met chemoterapie begin. Haar bors is later verwyder en sy het ook vir drie maande bestraling ontvang. ’n Jaar later het toetse gewys die kanker het na haar been, vel en brein versprei en sy is in fase 4.
“Ek dink dit was vir my onkoloog moeiliker om die nuus oor te dra as wat ek dit ontvang het. God se genade en liefde het my met kalmte toegerus.”
Haar uitgangspunt is steeds sy en haar mediese span moet net doen wat hulle moet; God sal sy deel doen.
Haar behandeling is drasties verander nadat bloed- en DNA-monsters na ’n laboratorium gestuur is wat in kankernavorsing spesialiseer. Met dankbaarheid kan sy getuig haar been, vel en brein is weer kankervry en haar kankertellings daal steeds.
Sy het talle newe-effekte ervaar, maar “nogtans is ek aan die kant van die lewe en kan ek my storie vertel”.
Van haar man en kinders, broers en susters tot haar kerkfamilie stap sy-aan-sy met haar.
“Onthou, dood moet ons almal dood. Niemand van ons gaan vir ewig lewe nie, behalwe in die hiernamaals. Ek leef elke dag met die grootste waardering en dankbaarheid teenoor God vir Sy liefde en dat Hy my genadig is.”
CECILE LIEBENBERG
As sy nou terugkyk op haar reis na herstel, weet Cecile Liebenberg van Ondangwa “ons kan nie die lewe kan leef sonder ons Skepper nie”.
Dis Hy wat haar deur haar reis krag gegee het, genoeg vir net een dag op ’n slag. Waar sy nie meer kon nie, het Hy haar gedra.
“Ons hoef nie die sinkplaatpaaie van ons lewe alleen aan te durf nie, Hy is daar vir ons altyd in die dag en in die donkerste nag.”
Cecile is in Maart 2015 met borskanker gediagnoseer en het ’n bilaterale mastektomie gehad wat gevolg is deur chemoterapie en bestraling.
Hoewel sy die uitslag verwag het omdat kanker en veral borskanker in haar familie is, erken sy dit was soos ’n emmer koue water in haar gesig. Die waaroms en hoekoms het deur haar kop gemaal en die angs was oorweldigend, maar ewe gou het ’n onbeskryflike kalmte en vrede oor haar gekom, sê Cecile.
Sy erken dit was nie maklik nie en beskryf dit as ’n monstersiekte wat soos ’n dief in die nag kom, hom in jou lyf kom nesmaak en jou vrede steel. Jou lyf lyk anders, jy voel ellendig en is soms so naar en moeg dat jy nie jou kop van die kussing kan lig nie.
Cecile het haar bestraling in die Kaap ontvang, wat haar emosioneel gedreineer het om so alleen en ver van haar mense te wees.
Sy erken hare is ’n vrou se trots; “ons voel so kwesbaar wanneer ons ons hare weens chemo verloor”. Haar wenk aan vroue om dit minder traumaties te maak, is om sodra sy die eerste tekens van haarverlies waarneem, ’n man of vriendin te vra om dit vir jou af te skeer.
Jy kan besluit of jy in sak en as wil gaan sit en jouself wil oorgee aan selfbejammering, sê Cecile, óf kies dat jy hierdie “ding” in jou lyf gaan beveg.
“Kleur jou gesiggie mooi in, maak jou lippies mooi rooi, ‘dress up’, klim in daardie hoë hakskoene en gryp die lewe, leef voluit en wees positief!”
Nog ’n wenk is Hats By Lori – iemand wat self die seer en kwesbaarheid van haarverlies ervaar het en wat mooi en elegante hoedjies ontwerp om kankerlyers weer stylvol en mooi te laat lyk.
Vir die kankerpasiënt se gesin en familie is die reis ewe moeilik, sê Cecile. “My man en my kinders was en is steeds die mense wat langs my in stilte stap. Dit terwyl hulle ook maar gesteier het onder hul eie vrese en angs.”
Sy het geleer om te vra vir hulp en ondersteuning sou dit nodig wees. Ook om haar nuwe self lief te hê, dat haar letsels haar herinner hoe sterk sy eintlik is en hoe ver sy reeds op die reis gevorder het.
“Bly altyd sterk in geloof. Die Here se genade is genoeg vir ons. Bly positief en leef voluit.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie