Suid-Afrika se Luxolo Adams wen Saterdag op ’n Diamantliga-atletiekbyeenkoms in Parys, Frankryk, die 200 m vir mans in ’n blitsige 19.82 sekondes. Foto Reuters
Suid-Afrika se Luxolo Adams wen Saterdag op ’n Diamantliga-atletiekbyeenkoms in Parys, Frankryk, die 200 m vir mans in ’n blitsige 19.82 sekondes. Foto Reuters

Adams wen 200 in Parys in blitsige 19.82

Atletiek
Sarel van der Walt
Die Suid-Afrikaanse naelloper Luxolo Adams het Saterdag op ’n Diamantliga-atletiekbyeenkoms in Parys met die Olimpiese kampioen in die 200 meter, Kanada se Andre de Grasse, afgereken deur ’n spogtyd van 19.82 sek aan te teken.

Dit was die eerste keer wat dié 25-jarige Oos-Kapenaar deur die 20 sekonde-grens gebreek het. Sy vorige beste tyd was 20.01 sek.

Adams se wentyd Saterdag was net 0.13 sekondes stadiger as die SA rekord van 19.69 sek wat deur Clarence Munyai gehou word. Wayde van Niekerk se eertydse SA rekord was 19.84 sek.

Alexander Ogando van die Dominikaanse Republiek (20.03 sek) was tweede en die Fransman Mouhamadou Fall (20.26 sek) derde.

De Grasse, wat die eerste keer dié seisoen aan dié item deelgeneem het, se tyd was 20.38 sek.

Die Kanadees het Donderdagaand op die Diamantliga-byeenkoms in Oslo, Noorweë, die 100 m vir mans in 10.06 sek gewen. Suid-Afrika se Akani Simbini, wat verlede jaar net-net ’n bronsmedalje op die Olimpiese Spele misgeloop het, was in dié wedloop derde met 10.09 sek.

In die 400 m vir mans was ’n ander Suid-Afrikaner, Zakithi Nene, Saterdag in Parys derde in 44.99 sek. Steven Gardiner, die Bahamas se Olimpiese kampioen in dié item, het gewen met ’n tyd van 44.21 sek.

Die groot hoogtepunt van dié byeenkoms op ’n warm en bedompige aand in die Stade Charlety was die 35-jarige Jamaikaan Shelly-Ann Fraser-Pryce se vertoning in die 100 m vir vroue.

Die dubbele Olimpiese kampioen in dié item, wat ook bekend staan as die “Pocket Rocket” se tyd was 10.67 sek – haar vinnigste tyd vanjaar en net 0.07 sek stadiger as haar loopbaanbeste.

Die Brit Daryll Neita was tweede in 10.99 sek.

Fraser Price het ná die wedloop aan die webwerf van Wêreldatletiek gesê sy glo sy is tot ’n tyd van 10.60 sek in staat.

Op dieselfde byeenkoms het Nigerië se Tobi Amusan ’n nuwe Afrikarekord van 12.41 sek in die 100 m-hekkies vir vroue opgestel.

Bahrein se Winfred Yavi het in die 3 000 m-hindernis vir vroue die beste tyd vanjaar in die wêreld (8:56.55) gehardloop.

In die hoogspring vir vroue het die Oekraïne se Yaroslava Mahuchikh met ’n wensprong van 2.01 m gewen. Dit is die beste hoogte vanjaar in die wêreld.

’n Ander hoogtepunt van die byeenkoms was die diskusgooi vir vroue. Nadat sy Donderdag in Oslo deur die Kroaat Sandra Perkovic, ’n tweemalige Olimpiese kampioen, geklop is, het die Amerikaner Valerie Allman, die huidige Olimpiese kampioen, dié keer gewen met ’n gooi van 68.68 m wat ’n byeenkomsrekord is.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!