Adventure Race sal kollig op land draai

Uithousport
Andrew Poolman
In ’n opwindende verwikkeling vir Namibië, sal die land volgende jaar vir die eerste keer as gasheer van ’n Adventure Race-byeenkoms ingesluit word.

Adventure Racing word as die uiterste toets van menslike uithouvermoë beskryf.

Spanne van vier atlete is onafgebroke, dag en nag, oor afstande van tot 800 km in ’n resies gewikkel. Elke roete is uniek, met gedeeltes waarin bergfietsry, kajak, touklim of voetslaan deur veld of bosse, onder meer, vereis kan word.

Spanne moet soms selfs met behulp van kaarte of kompas hul roete deur afgeleë wildernisse navigeer om die volgende kontrolepunt te bereik.

Hulle ding nie net met ander spanne mee nie, maar ook teen uiterste uitputting, slaaptekort en onvoorspelbare weerstoestande.

Die meeste van die logistieke grondwerk, organisering en bevestiging van die roete van die eerste unieke Namibiese roete moet nog gedoen word, maar die organiseerders het aangekondig dat die land se eerste Adventure Race teen einde Mei volgende jaar gehou sal word.

Expedition Africa se byeenkomsdirekteure Heidi en Stephan Muller, wat reeds sowat tien jaar sulke geleenthede reël, was hierdie week in Windhoek en het die bekendstellingsgeleentheid aangebied waarna potensiële borge, deelnemers en bydraende maatskappye genooi was.

Hulle het die ekonomiese waarde beklemtoon van die internasionale spanne wat die land gaan besoek, asook die wêreldwye sosiale media wat sulke wedrenne voortbring.

“Die grootste aanlyn gehoor wat ons nog op enige tydstip op die regstreekse volgstelsel vir ’n wedren in Suid-Afrika gehad het, was meer as 80 000 mense, wat ’n vol rugbystadion is,” het Stephan gesê.

“Tydens ’n Adventure Race-wêreldkampioenskap kry ons meer as ’n halfmiljoen volgers aanlyn. Die aanlyn-aanhang wat die enkele mededingers in ’n land soos byvoorbeeld Swede genereer, is eenvoudig ongelooflik.

“Ons is tans besig om die volgende wêreldkampioenskap te reël wat in Oktober by Kouga in die Oos-Kaap in Suid-Afrika gehou word.”

‘VEEL MEER AS NET IRON MAN’

Stephan en sy vrou Heidi, ’n Namibiër wat in Walvisbaai gebore is, het beide voorheen aan die sport deelgeneem voordat hulle hul fokus na die organisering van sulke resiese verskuif het.

Danie van Aswegen, ’n ervare deelnemer van Namibië wat sedert 2010 by Adventure Racing vir Team Namaqua betrokke is, het gesê: “In my lank uitgerekte pogings om soms aan mense te verduidelik wat ’n Adventure Race behels, kom hulle dikwels tot die gevolgtrekking dat dit vergelykbaar met ’n Iron Man-driekamp moet wees.

“Behalwe, die werklikheid is meer soos tien opeenvolgende Iron Mans, en jy kan nie na tien ure huis toe gaan om in jou eie bed te gaan slaap nie.

“Die sport word ook nie tot net drie dissiplines beperk nie, maar kan kajakvaart, perdry, bergklim, abseil, branderplankry of ander maniere insluit om deur verskillende terreine te vorder.

“Om jou pad na die kontrolepunte te navigeer en te besluit of jy oor of om die berg gaan, is deel van die uitdaging, asook om aan te pas by hoe die weersomstandighede of slapeloosheid jou kan beïnvloed.”

Van Aswegen sê Namibië se boeiende natuurlike landskappe is perfek geskik om die moeder van alle Adventure Races te kan aanbied. Hy beskou volgende jaar se byeenkoms as ’n droom wat bewaarheid word.

Kommentaar

Republikein 2024-12-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 20° | 32° Eenhana: 20° | 24° Oshakati: 21° | 27° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 21° | 27° Otjiwarongo: 20° | 30° Omaruru: 20° | 32° Windhoek: 19° | 32° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 18° Walvis Bay: 17° | 24° Rehoboth: 19° | 33° Mariental: 22° | 35° Keetmanshoop: 19° | 35° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 14° | 27° Ariamsvlei: 21° | 35° Oranjemund: 13° | 26° Luanda: 26° | 27° Gaborone: 19° | 33° Lubumbashi: 16° | 31° Mbabane: 19° | 27° Maseru: 18° | 30° Antananarivo: 16° | 25° Lilongwe: 20° | 32° Maputo: 23° | 33° Windhoek: 19° | 32° Cape Town: 19° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 17° | 27° Dar es Salaam: 27° | 32° Lusaka: 18° | 32° Harare: 19° | 29° #REF! #REF!