Afcon-droom ‘steeds lewendig’

Sokker
Limba Mupetami
Die Brave Warriors is terug aarde toe gebring met Sondagaand se nederlaag met 0-4 teen Suid-Afrika se Bafana Bafana, wat op meedoënlose wyse Namibië se vordering in die Afrika Nasiebeker (Afcon) Groep E aan bande gelê het.

Môreaand se laaste groepwedstryd vir die Warriors om 19:00 teen ’n gedugte Mali-span is dus van deurslaggewende belang.

In sy media-onderhoud het die Brave Warriors se afrigter Collin Benjamin erkenning aan Suid-Afrika se kliniese vertoning gegee.

Hy het erken dat dit nie Namibië se beste aand was nie, maar hy bly positief oor hul kanse om opnuut geskiedenis te maak deur tot die volgende rondte deur te dring.

“Ons het doelkanse geskep, wat die span se karakter en veggees wys. Met die regte ingesteldheid kan ons opstaan en veg vir ’n plek in die top-16.”

Hy het uitgewys dat die oorskakeling tussen aanval en verdediging nie op standaard was nie, terwyl hy ook die vroeë strafdoel ná net 12 minute as “ietwat onnodig” betreur het. “Ons het nooit werklik herstel van die vroeë terugslag nie.”

Nietemin het hy verklaar dat baie op die spel is teen Mali. “Ons droom is steeds lewendig.”

Nadat Namibië laas Dinsdag sy geskiedkundige eerste Afcon-oorwinning met 1-0 teen Tunisië gevier het, was hul ondersteuners se opgewondenheid van korte duur toe Themba Zwane, die 34-jarige wat eens as te oud vir internasionale sokker gereken was, twee doele aangeteken het.

Met Percy Tau se vroeë strafskop-treffer, Zwane se dubbele bydrae en die 20-jarige plaasvervanger Thapelo Maseko se doel in die tweede helfte, het Suid-Afrika sy grootste wenverskil nóg in ’n Afcon-wedstryd behaal.

Die Suid-Afrikaners het teruggekap ná hul nederlaag met 0-2 teen Mali vyf dae tevore en het met rustyd ’n voorsprong van drie doele behaal.

VERSPEELDE KANSE

Soos sake nou staan, is Mali boaan die puntelys van Groep E met vier punte.

Suid-Afrika en Namibië het elk drie, terwyl Tunisië onderaan met ’n enkele punt is ná Saterdag se gelykop 1-1 met Mali.

Indien Namibië sy laaste groepwedstryd teen Mali wen, sal hy outomaties vir die eerste keer in sy geskiedenis deurdring tot die ronde van 16 met ses punte – ongeag die uitslag tussen Suid-Afrika en Tunisië.

Die ander scenario is dat die Brave Warriors teen Mali gelykop speel en Suid-Afrika verloor, wat Namibië ook in staat kan stel om te kwalifiseer, aangesien hy dan vier punte sal hê en Suid-Afrika drie. Dié scenario sal Tunisië op vier plaas, maar met die nadeel dat hy sy regstreekse botsing teen Namibië verloor het.

Die realistiese moontlikheid bestaan ook dat Namibië as een van die derde beste spanne uit al die groepe eindig en só sy plek in die ronde van 16 bespreek.

In geval van gelykopuitslae vir beide Suid-Afrika en Namibië sal albei op vier punte eindig en Suid-Afrika sal as naaswenner deurdring weens beter doelverskil asook omdat hy met die Brave Warriors afgereken het. Dan sal Namibië steeds derde eindig en moet hoop dat hy as een van die derde beste kwalifiseerders sy aanslag lewendig hou.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!