Aflosspan se blaps som SA se veldtog op
Atletiek
Asof dinge nie reeds erg genoeg was nie, het die Suid-Afrikaanse 4x100 m-aflosspan opgefoeter om die land se treurige aanslag op die Wêreldatletiekkampioenskap in Boedapest behoorlik op te som.
Ná ’n aanvanklik belowende begin deur Shaun Maswanganyi, kon Akani Simbine net verleë toekyk hoe sy spanmaats Benjamin Richardson en Clarence Munyai fouteer het met die tweede oorgee.
Suid-Afrika was die enigste land wat nie dié wedloop voltooi het nie, hoewel Brasilië agterna gediskwalifiseer is. Die Amerikaanse viertal van Christian Coleman, Fred Kerley, Brandon Carnes en Noah Lyles was eerste in 37.38 sekondes, die gesamentlike negende vinnigste tyd in die geskiedenis.
Italië was naasbeste in 37.62, met Jamaika wat derde klaargemaak het in 37.76.
Die VSA het die vroue se wedloop ook gewen met Tamari Davis, Twanisha Terry, Gabrielle Thomas en Sha’Carri Richardson wat ’n nuwe Kampioenskap-rekord opgestel het in 41.03.
Die Keniaan Faith Kipyegon het haar naam in die geskiedenisboeke geëts as die heel eerste vrou wat dubbele glorie oor 1 500 m én 5 000 m behaal.
In ’n toonbeeld van uithouvermoë en doelgerigtheid het Kipyegon ’n verwoede aanslag van die Nederlander en Olimpiese kampioen, Sifan Hassan, afgeweer om in 14 minute, 53.88 sekondes te seëvier.
Hassan het die silwermedalje in 14:54.11 by haar brons in die 1 500 m gevoeg, terwyl Beatrice Chebet die kroon gespan het op ’n onvergeetlike aand vir die Keniane met haar bronsmedalje in 14:54.33.
Die Kanadees Marco Arop het sy brons op verlede jaar se byeenkoms na goud opgegradeer in die 800 m in ’n wentyd van 1:44.24.
Die Keniaan en voormalige o. 20-wêreldkampioen, Emmanuel Wanyonyi, het die tweede plek en silwer gevat in 1:44.53, terwyl Brittanje se Ben Pattison sy prestasie op verlede jaar se Statebondspele in Birmingham nagedoen het en brons gevat het in 1:44.83.
Die Sweedse paalspring-sensasie, Armand Duplantis, het dit twee wêreldtitels agtereenvolgens gemaak met nog ’n skitter-vertoning.
Nie net het hy die goue medalje reeds in die sakkie gehad voor sy eerste verbroude poging nie, maar hy het die merkwaardige prestasie behaal van op ’n 50ste kompetisie oor die dwarslat te seil op ’n hoogte van 6,00 m.
Duplantis (23) het sy titel op ’n hoogte van 6,10 m verseker, voordat hy vir sy sewende wêreldrekord – op ’n hoogte van 6,23 m – gemik het. Hy was egter met al drie sy pogings op hierdie hoogte onsuksesvol.
Die Filippyne se Ernest John Obiena (6,00) het ’n nuwe Asiese rekord opgestel vir silwer, terwyl Australië se Kurtis Marschall (5,95) en Amerika se Christopher Nilsen (5,95) brons gedeel het.
Die Amerikaanse gewigstoter, Chase Ealey, het ook haar titel suksesvol verdedig met ’n seisoensbeste poging van 20,43 m. Vier van haar ses gooie was verder as 20 m.
Sarah Mitton van Kanada was self breëbors met haar poging van 20,08 m in die voorlaaste ronde. Dit het silwer aan haar besorg.
China se Lijiao Gong (19,69) het met haar bronsmedalje die merkwaardige prestasie behaal om in agt Wêreldkampioenskappe op ’n streep (2009 tot 2023) elke keer op die podium te verskyn.
Saterdag het Suid-Afrika se Irvette van Zyl die eindstreep in die 45ste plek oorgesteek in die vroue se marathon in ’n seisoensbeste tyd van 2 ure 38 minute 32 sekondes.
Dit was ’n persoonlike mylpaal vir die ervare langasem, wat die eerste keer in haar loopbaan dié wedloop by ’n Wêreldbyeenkoms voltooi het ná verskeie terugslae in vorige weergawes.
Die Ethiopiër Amane Beriso, wat vroeër vanjaar silwer op die Boston-marathon gevat het in haar enigste ander wedloop van die seisoen, het met goud gespog in 2:24:23 en sodoende haar landgenoot en uiteindelike silwermedaljewenner Gotytom Gebreslase (2:24:34) met 11 sekondes as die kampioen onttroon. Marokko se Fatima Ezzahra Gardadi (2:25:17) was derde.
Ischke Senekal se aanslag in die gewigstoot het reeds in die kwalifiseringsronde tot ’n einde gekom. Haar beste gooi het net die 16,20 m-kerf gehaal en haar eindelik in die algehele 32ste plek uit die 35 deelnemers geplaas. ’n Totaal van agt atlete – vier uit groep A en vier uit groep B – het die vereistes van 19,10 m behaal vir outomatiese kwalifikasie.
Dié merk was egter heelwat bo Senekal se persoonlike beste van 17,56 m is, wat reeds in 2018 opgestel is.
Suid-Afrika se aanslag het gisteroggend tot ’n einde gekom met Melikhaya Frans, Simon Sibeko en Tumelo Motlagale onsuksesvol in die marathon.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie