Afrigters het hoë dunk van Murere en Kinda
Paralimpiese atletiek
Bradley Murere en Chris Kinda het die afgelope naweek goeie prestasies by die Winelands International-byeenkoms by die beroemde Coetzenburg-stadion in Stellenbosch gelewer.
Michael Hamukwaya, sekretaris-generaal van die Namibiese Paralimpiese Komitee (NPC), sê die tyd het vir Murere en Kinda aangebreek om hul atletiekprestasies na die volgende hoër vlak te neem.
Murere (T47-klas) neem aan die 100 en 200 meternaellope asook verspring deel. Kinda (T12) maak sy merk in die 100 en 200, asook die strawwe 400-naelloop.
Hamukwaya sê die twee atlete was lank genoeg in die NPC-ontwikkelingsprogram en die tyd is ryp om die wêreld hul ware talent te wys. Hy sê die twee snellers sal met die regte ondersteuning binne twee jaar op ’n internasionaal kompeterende peil wees.
“Murere en Kinda is al vir ’n geruime tyd deel van die NPC-program en weet hoe dinge werk. Beide van hulle het al in Suid-Afrika meegeding en Murere was ook al by ’n wêreldkampioenskap en ’n Grand Prix.
“Dit beteken hulle is besig om wasdom te bereik. Wat ons nou nodig het, is ’n goeie krag- en kondisioneringsprogram om hulle optimaal te help ontwikkel.
“Dit was ’n lang pad vir hulle en ons reken met die regte program sal hulle ná twee jaar ’n krag wees om mee rekening te hou. Maar dit sal alleenlik kan geskied as daar borge en geld is om die twee talentvolle manne te help. Met die regte steun kan Murere en Kinda blom,” het hy gesê.
VERBETERING Murere het in Januarie by Atletiek Namibië se eerste Grand Prix op Swakopmund met 5.77 meter in die verspring losgetrek en dit Saterdag tot ’n stewige 6.29 m (eerste) verbeter, wat sy persoonlike beste is. Met die 100 in die Wes-Kaap het hy met 11.08 sekondes die eerste plek opgeraap. Dit was aansienlik vinniger as sy 11.58 in Swakopmund. Kinda eindig derde in T12-klas se 100 in 11.72 sekondes. Murere (19) woon op Swakopmund en word daar deur Ulla Finkeldey afgerig. Finkeldey is die sportdirekteur by The Dome in Swakopmund waar Namibië se eerste hoëprestasiesportsentrum geleë is. Sy het aan Republikein gesê: “Ek rig Bradley die afgelope vyf jaar af. Die laaste drie jaar was spesifiek daarop gerig om hom vir internasionale kompetisie te slyp. “Namibië is beslis op die wêreldkaart en Bradley is ’n sprekende voorbeeld van wat vermag kan word as ’n atleet reg afgerig word. Ons is besig om hom vir die Paralimpiese Spele voor te berei.” Die T47-klas se 100-wêreldrekord staan tans op 10.8 en die verspring se beste merk staan op 7.50 m. Murere moet die 100 in 11.25 afblits en 6.45 in die verspring behaal (A-standaard) om vir die volgende Paralimpiese Spele te kwalifiseer. Die B-standaard is 11.60 (100) en 6.10 meter (verspring). – Bygewerk van Nampa

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie