Aranos Coetzee druk ’n drie vir die Carling-kampioenespan teen Kenia verlede jaar op Loftus Versfeld. Foto Gallo Images
Aranos Coetzee druk ’n drie vir die Carling-kampioenespan teen Kenia verlede jaar op Loftus Versfeld. Foto Gallo Images

Aranos gee Vrystaat woema vir WP-stryd

Rugby
Johann de Jager
Johann de Jager

Die Vrystaat-Cheetahs sal ’n ou staatmaker, die stut Aranos Coetzee, vanaand ná ’n lang afwesigheid weens ’n besering in hul Curriebeker-wedstryd teen die Westelike Provinsie in Bloemfontein terugverwelkom.

Coetzee (34) was op die krukkelys sedert hy in November in ’n toetswedstryd vir Namibië teen Kenia in Stellenbosch ’n boarmspier geskeur het.

Die Vrystaat sal vanweë Coetzee se terugkeer, Covid-19-maatreëls, ’n besering, asook die rotasiebeleid, die Kapenaars met vyf veranderinge in hul beginspan pak.

“Ons is almal bly om Aranos terug te hê. Hy is ’n goeie skrumwerker,” sê die afrigter, Hawies Fourie.

“Almal weet die skrums is ’n belangrike deel van die spel waar jy strafskoppe kan afdwing óf kan afstaan. Met hom terug, weet ons ons sal voorlangs stewig wees en druk op die WP-skrum kan plaas.”

Die tuisspan speel met ’n hele nuwe voorry. Marnus van der Merwe sal langs Coetzee op haker sak en die ervare Schalk Ferreira is terug in die span op loskopstut.

Drie van die hakers in die groep is weens Covid-19-voorsorgmaatreëls nie beskikbaar nie – insluitend die Namibiër Louis van der Westhuizen. Dandré Delport, ’n Griffons-haker, is dus as ’n plaasvervanger betrek.

Ockie Barnard, ’n leenspeler van die Haaie wat hom vroeg in die wedstryd teen die Leeus vervang het, kry sy kans in die beginspan.

Fourie sê hulle wil hul wenmomentum behou en wil terselfdertyd sake regstel nadat die WP hulle in verlede jaar se Toyota-uitdaagreeks geklop het.

• Vrystaat-Cheetahs: Cohen Jasper, Daniel Kasende, Evardi Boshoff, Frans Steyn, Malcolm Jaer, Siya Masuku, Ruan Pienaar (k), Mihlali Mosi, Jeandré Rudolph, Gideon van der Merwe, Victor Sekekete, Ockie Barnard, Aranos Coetzee, Marnus van der Merwe, Schalk Ferreira. Reserwes: Dandré Delport, Alulutho Tshakweni, Marné Coetzee, Sergio Moreira, Andisa Ntsila, Rewan Kruger, Reinhardt Fortuin, Rosko Specman.

Afskop: 17:45; regstreeks op SS Rugby (211).– Bygewerk van Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer