Breë glimlagte vir die Namibiërs wat gister in Johannesburg teen Zimbabwe met ’n naelskraapse oorwinning afgesluit het. Foto Wessel Kotze
Breë glimlagte vir die Namibiërs wat gister in Johannesburg teen Zimbabwe met ’n naelskraapse oorwinning afgesluit het. Foto Wessel Kotze

Baasskap teen Zim nie ten volle oortuigend

Skolerugby
By rugbyweke in Suid-Afrika het die o.18's en o.16's naelskraap teen Zimbabwe gewen, terwyl die o.13's in wedstryd 4 slae gekry het.
Andrew Poolman
Amper verloor is beter as amper wen. Gister was Namibië gelukkig aan die regte kant van die punteverskil van net twee teen ’n vasberade terugvegpoging van Zimbabwe, in beide se laaste wedstryd by SA Rugby se onder 18 Akademieweek in Johannesburg.

Afrigter Herman Grobler en sy bestuurspan sal waarskynlik grootliks tevrede voel met Namibië se werk die afgelope week. Gisteroggend se oorwinning met 27-25 was die uiteinde van 70 minute waarin die Namibiërs rustyd met 24-8 in die saal was, maar tog ook ’n goeie skoot geluk aan hul kant gehad het in ’n stryd waarin om elke punt meegeding is.

Die slot Walter Otto (Windhoek Affies) is as speler van die wedstryd aangewys nadat hy binne die eerste 12 minute twee drieë gedruk het. Elkeen van Namibië se vier drieë was direk of direk die gevolg van die spanwerk in lynstaandrywe – maar Otto het die ganse week uitgestaan met hoë werktempo en fisieke inklimspel.

Die haker Delano van den Berg (Affies) en binnesenter Stephan Gildenhuys (Windhoek Gimnasium) was die ander driedrukkers, terwyl losskakel Michael Koopman (Walvisbaai Privaatskool) een doelskop en senter Waldre Kotze (Whk Gimnasium) een strafdoel bygevoeg het.

Van den Berg het gister vanaf die voorpunt gelei toe hy die kapteinskap by sy beseerde skoolmaat Ben Burger (agsteman, knie) oorgeneem het. Nog ’n invloedryke Affies-spanlid in die eerste twee wedstryde, senter Van der Merwe Tromp, was op die kantlyn met ’n skouerbesering waarvan die erns straks by hul terugkeer na Windhoek bepaal sal word.

In die doodsnikke, met die tweedelaaste beweging van die wedstryd, het Zimbabwe die bal in ’n skrum op sy eie doellyn ingegooi. Die eerste ontvanger het op spoed verby drie verdedigers deur die lyn gebreek en ondersteuning aan die linkervleuel gevind in ’n beweging wat eers met ’n aanslaan op Namibië se doellyn doodgeloop het. Van die gevolglike skrum het Koopman die bal uitgeskop vir die eindfluitjie om finale verligting te bring.

OPSOMMING

Namibië se uitslae by vanjaar se rugbyweke in Suid-Afrika:

O.18 Akademieweek: verloor teen Valke (27-28); klop Grens Platteland (27-10) en Zimbabwe (27-25).

O.16 Grant Khomo-week: klop Zimbabwe (12-10) en Grens Platteland (45-19); verloor teen Griekwas (0-25).

O.13 Cravenweek: klop Grens Platteland (28-12), verloor teen OP (0-38), Zimbabwe (13-24) en Griffons (5-49).

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!