African Stars (in rooi) is hier teen die besoekende Orlano Pirates van Suid-Afrika by die Sam Nujoma-stadion in aksie. Foto argief
African Stars (in rooi) is hier teen die besoekende Orlano Pirates van Suid-Afrika by die Sam Nujoma-stadion in aksie. Foto argief

Bal vir Premierliga aan die rol!

Sokker
Sokkerliefhebbers kan uitsien na die herlewing van die plaaslike sport.
Tielman Van Lill
Eureka! Die 2022-2023 Debmarine Namibië Premierliga sal ten einde laaste sy lewensasem terugkry wanneer African Stars en Unam mekaar Sondagmiddag vyfuur by die Hage Geingob-rugbystadion vir die openingsbotsing in Windhoek pak.

Dié goeie nuus is gister deur die Namibiese Sokkervereniging (NFA) bevestig nadat Debmarine reeds op 27 Oktober sy borgskap van N$13 miljoen per jaar in die hoofstad aangekondig het.

African Stars (bynaam Starlile) het die laaste aktiewe Namibiese Premierliga (NPL) in die 2017/2018-seisoen gewen en ook die Debmarine-beker toe opgeraap.

Die doodsklok het egter vir die NPL aan die einde van 2019 gelui toe die NFA die NPL onseremonieel as een van sy lede uitgeskop het.

Drie jaar van binnegevegte, onsmaaklike sokkerpolitiek en ’n tandelose Normaliseringskomitee van Fifa het verseker dat feitlik geen georganiseerde sokker sedertdien op die topvlak in Namibië gespeel is nie.

In September 2020 het tien van die 16 sokkerklubs wat toe nog by die NPLgeregistreer was, hul NPL-lidmaatskap prysgegee om by die NFA se doodgebore Top Tier League (TTL) aan te sluit.

Van die TTL het óók dadels gekom. Sokkerentoesiaste en spelers moes bykans nog twee jaar wag alvorens gesonde verstand en volwassenheid onlangs geseëvier het.

Die NPL is ook vroeër vanjaar deur die nuut aangestelde Fifa-normaliseringskomitee ingelig dat sy skorsing deur die NFA in 2019 onwettig was en dus herroep word.

Lukas Nanyemba, verteenwoordiger van die tien klubs, het toe gesê dié klubs sal amptelik onder die NFA-vaandel val. Na bewering het Black Africa, Blue Waters, Civics, Citizens, Mighty Gunners, Orlando Pirates, Tigers, Young African, Young Brazilians en Julinho Sporting toe die NPL die rug gekeer. Black Africa het egter die bewering ontken en gesê hy bly lojaal teenoor die NPL.

2022

Die relatief jong Unam-sokkerklub sal Sondag met die verteenwoordigers van 60 jaar se geskiedenis te doen kry wanneer hulle teen Starlile op die veld stap.

Stars het die NPL en NFA-beker elkeen vyf keer gewen, was twee keer as die Standard Bank-bekerkampioen bekroon en het Namibië in 1992, 2014, 2019 en 2020 in kompetisies van die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) verteenwoordig.

Met nuwe bloed in die NFA en Debmarine agter sokker, behoort dié geliefde sportkode met ’n toenemend sterker wind in sy seile moeiteloos die toekoms in te vaar.

Hekke maak Sondagmiddag teen eenuur oop. Toegang beloop N$30 per persoon en vermaak sal verskaf word. Die veiligheid van sokkergeesdriftiges se motors binne en buite die stadion word deur die NFA gewaarborg.

Kommentaar

Republikein 2025-04-09

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer