Collin Benjamin glimlag vir die media se kameras tydens sy bekendstelling gister as afrigter van die Brave Warriors vir die volgende vyf jaar. Foto Jesse Jackson Kauraisa
Collin Benjamin glimlag vir die media se kameras tydens sy bekendstelling gister as afrigter van die Brave Warriors vir die volgende vyf jaar. Foto Jesse Jackson Kauraisa

Benjamin vir vyf jaar in beheer

Sokker
Verwag vinnige en intense sokker van 'n groep spelers wat 'n hoë werketiek handhaaf, het die nuwe man in die saal gister beloof.
Jesse Jackson Kauraisa
Collin Benjamin, wat gister as Brave Warriors-afrigter bekendgestel is, se filosofie is om ’n nasionale span te hê wat kan hardloop, druk toepas en vinnige sokker speel.

“Ek wil hê hulle moet speel tot hulle geen energie oor het wanneer die eindfluitjie blaas nie.

“Ek wil hê die spelers moet harde, vinnige sokker speel en ek wil hê hulle moet op die oefenveld hard werk,” het Benjamin gesê.

Die nuwe afrigter sê hy sal geen speler se talent bo sy werkvermoë stel nie. Eerder ’n speler wat hard werk, as ’n speler met al die talent wat nie ewe veel moeite as sy spanmaats insit nie, is sy siening.

Nadat Benjamin vir die grootste deel van sy professionele loopbaan in Duitsland gespeel het, kan ooreenkomste gesien word in sy sienswyse en dié van groot Duitse sokkergeeste soos Jurgen Klopp en Ralph Rangnick.

Benjamin, wat ’n A-kwalifikasie as afrigter het, is gister deur die Fifa Normaliseringskomitee aangestel ná ’n keuringsproses wat hulle van die vorige regime geërf het.

Hy is verkies bo die Zambië se nasionale afrigter, Wedson Nyirenda, en ander Namibiërs wat op die kortlys os was. Hy vervang Bobby Samaria, wat die tussentydse afrigter was vandat Ricardo Mannetti se kontrak in Julie 2019 verstryk het.

Bisey Uirab, voorsitter van die normaliseringskomitee, het gesê die komitee het volle vertroue in Benjamin se aanstelling.

“Ons het gedetailleerde verslae deurgewerk waarin die aanbeveling was dat voorkeur aan ’n kandidaat van buite Namibië gegee word. Ons voel nietemin gemaklik dat die proses deursigtig was en ons het besluit die tweede kandidaat is ’n ware Namibiër en patriot wat diep voetspore in Namibiese sokker getrap het.

"Ons is dus gemaklik om hom op ’n langtermyn grondslag aan te stel, want ons wil stabiliteit in ons sokker sien," het Uirab gesê.

Hy het die sokkerpubliek gerus gestel dat die nuwe afrigter beskerm sal word deur ’n kontrak wat verseker dat hy sy termyn voltooi, selfs al word ’n nuwe uitvoerende bestuur vir die NFA verkies.

Benjamin het 32 internasionale wedstryde gespeel en die Brave Warriors meermale aangevoer. Hy was onder meer lid van die span wat die land by die 2008 Afrikabeker in Ghana verteenwoordig het.

Hy het vir die Duitse Bundesliga-spanne Hamburg en TSV 1860 München gespeel, waar hy een van min Namibiërs geword het wat in die UEFA Kampioeneliga in aksie was.

Die 43-jarige gebore Windhoeker het aan die einde van die 2011/12-seisoen sy stewels by TSV 1860 München opgehang, voordat hy in 2013 teruggekeer het om by die klub se jeugakademie-afrigtingprogram aan te sluit. Hy is later bevorder tot een van die klub se hulpafrigters gedurende die 2014/15-seisoen.

Hy het egter na Namibië teruggekeer met die strewe om sokker in sy geboorteland te verbeter. Hy was in 2019 ook een van Mannetti se hulpafrigters vir die vergrote Afrika Nasiesbekertoernooi (24 spanne) in Egipte, waar die span teen Marokko, Suid-Afrika en Ivoorkus verloor het.

COSAFA-TOERNOOI

Die nuwe afrigter se onmiddellike taak begin met die Cosafa-toernooi wat van 5 tot 17 Julie in Suid-Afrika plaasvind.

Die afrigter sal in beheer wees van die kies van sy eie tegniese span wat op ’n ad hoc grondslag betaal sal word.

Dit was gister nog nie duidelik vir wie Benjamin as hulpafrigters sal kies nie, maar ’n gevoel bestaan dat hy na sy vertroude oudspanmaats met ervaring van vorige Afrika Nasiebekers kan steun.

“Ek sal niks kan sê in terme van wie deel van die tegniese span gaan wees nie, maar ek belowe ’n oopdeurbeleid.

“Hierdie is ’n span vir alle Namibiërs en ek is oop om na julle almal te luister,” het Benjamin bygevoeg.

By gister se loting is bepaal dat Namibië teen Madagaskar te staan sal kom in vanjaar se Cosafabeker-kwarteindrondte.

Vooraf sal lande soos Angola, Comores, Seychelle en Botswana die veldtog in kwalifiserende groep A open, terwyl Lesotho, Malawi en Mauritius in sake groep B sal uitspook. Net die twee groepwenners dring deur na die finale agt – waar hulle onderskeidelik met ’n botsing teen die vyfmalige kampioen Zambië en Senegal beloon word.

Namibië, Suid-Afrika, Zambië, Mosambiek, Madagaskar en die genooide span Senegal het almal outomaties tot die kwarteindronde deurgedring op grond van hul eindposisies by die vorige toernooi.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!