Alcino Izaacs, kaptein van FNB Unam, in aksie teen FNB Western Suburbs in verlede jaar se eindstryd. Foto Andrew Poolman
Alcino Izaacs, kaptein van FNB Unam, in aksie teen FNB Western Suburbs in verlede jaar se eindstryd. Foto Andrew Poolman

Beserings pla reeds voor naweek 1

Klubrugby
Andrew Poolman
’n Goeie begin is die begeerte van elk van die agt spanne in die Namibië Rugby-unie (NRU) se premierliga se openingsnaweek.

Ná twee ontwrigte seisoene is vanjaar vir die eerste keer weer ’n dubbelrondte geskeduleer, met warm kompetisie wat sommer van die begin af ’n uitgemaakte saak is.

Die wedstryd tussen FNB Unam en FNB Western Suburbs môre is ’n herontmoeting tussen die spanne wat verlede jaar in die finaal gespeel het, maar wat agterna op omstrede wyse nietig verklaar is met geen ligawenner vir 2021 nie.

Unam het staatmakers soos Prince !Gaoseb, Peter Diergaardt en Lesley Klim aan die Tel Aviv Heat afgestaan, terwyl Max Katjijeko en Chad Plato ook by Europese klubs is, maar het agterlangs ’n handige teruggekry met Henrique Oliver wat die afgelope seisoene vir Rehoboth ’n wedstrydwenner was.

David Philander, afrigter van Unam, moes laas naweek toekyk hoe sy eerste span teen die nasionale o.20-span gesukkel en met 26-31 verloor het. Die o.20’s se onbeskikbaarheid vir môre was deurentyd ook vir die betrokke klubafrigters ’n faktor om in ag te neem.

Suburbs sal op die eerste naweek sonder die agterste trio Ricardo Swartz en Xauvier van Wyk (beseer), asook Dumarcho Hartung moet klaarkom.

Trustco United, wat tegnies steeds die verdedigende kampioen sedert 2019 is ondanks sy swak laaste posisie verlede jaar, het Robbie Dickson terug as afrigter, met ’n moeilike wegwedstryd teen Grootfontein wat voorlê.

Selfs met invloedryke spelers soos Siegfried Potgieter, Pieter-Daan Kok en Mogamat Allie nie beskikbaar nie, stoot die noordespan steeds ’n lekker spannetjie in die veld wat sake vir die Filistyne warm kan maak.

Aan United se kant is Gerhard Thirion (baba op pad), Denzo Bruwer en Henry Kandjou en Chris Arries ook nie vir die eerste naweek beskikbaar nie.

FNB Wanderers se afrigter Rohan Kitshoff moet ook klaarkom sonder senter Rico Lategan (studies) vir die tuiswedstryd teen FNB Reho Falcon, terwyl die toetshaker Obert Nortjé nog nie kan speel nie terwyl die afhandeling van sy vrystelling van die Seattle Seawolves in die VSA afgewag word.

Rehoboth, wat twee voorseisoenwedstryde teen Reho Falcon gewen het (25-15 en 46-20), reis môre om FNB Kudus in Walvisbaai die stryd te gaan aansê. Die twee klubs het ooreengekom om die datums uit te ruil, nadat Rehoboth volgens die aanvanklike program eerste die tuisvoordeel sou hê.

Die vleuels Russell van Wyk en Keathan Freygang en haker Udo Mall is op die krukkelys waarmee Rehoboth se afrigter Johann Wohler rekening moes hou, maar sy span wat verlede jaar ’n semifinalis was, het steeds genoeg diepte.

Die beskikbare spanne teen druktyd:

TRUSTCO UNITED: 15 Janus van der Berg, 14 Damian van der Ross, 13 JD Nel, 12 Handre Bezuidenhout (kaptein), 11 Darryl Vries, 10 Hanreco van Zyl, 9 Alonzo Julius, 8 Panduleni Iilonga, 7 Pierre Venter, 6 Naudé Neethling, 5 Vavi Kaura, 4 Zander Bronkhorst, 3 Kamaa Kajau, 2 Eloff du Plessis (onderkaptein), 1 Johan Brockman. Reserwes: Theo Bekker, Jan Burger, Hano Husselman, Eric de Scande, Dean Blom, Heini Kapolo, Moses Sakeus.

FNB GROOTFONTEIN: 15 Irongwa Atshuvudhi, 14 Amutenya Amutenya, 13 Buruxa Geiseb, 12 Louis Grobbelaar, 11 Ian Malan, 10 Ronald Deck, 9 Willem Enslin, 8 Johan Luttig, 7 Jonathan Strijbis, 6 Hendrik van Zyl, 5 Tehan Martinson, 4 Meraere Kaapama, 3 Pieter du Plessis, 2 Wikus Jacobs (kapt), 1 Nelius Theron.

FNB WESTERN SUBURBS: 15 Bronwin Willemse, 14 Morgan Esterhuizen, 13 Dylan Izaaks, 12 Deveroux Jansen, 11 Gino Wilson (kaptein), 10 Justin Nel (onderkaptein), 9 Andrew James Kearns, 8 Tjingairi Katjivi, 7 Dhale Cloete, 6 Richard Mupewa, 5 Diamando Tjombe, 4 Fidel Micolleney, 3 Andreas Shikoneni, 2 Vernon Diergaardt, 1 Chemigan Beukes. Reserwes: Zicco Haihambo, Elliot Lombardt, Sebastian Kameja, Vakomboka Kamboo, Lezardo Williams, Lyle Beukes, Wyatt Brooks.

FNB REHOBOTH: 15 Jeandre Loubser, 14 Brandon Dentlinger, 13 Hillian Beukes, 12 Diego Loubser, 11 Romeo Visagie, 10 Ascher Coetzee, 9 Dario Vries, 8 Charl Freygang, 7 Cameron McNab, 6 Roaldo Rittman, 5 Franscois Visagie, 4 Chester Diergaardt, 3 Carl-Williams Freygang, 2 Titus Mathias, 1 Kevin Cloete (kaptein). Reserwes: Grant Cloete, Bayren Bayer en nog uit tweede span.

FNB WANDERERS: 15 Warren Ludwig, 14 Louis Meyer, 13 Bernie Hugo, 12 Bredell Wessels, 11 Nandi Karuuombe, 10 André van der Berg, 9 Jacques Theron, 8 Christo van der Merwe (kaptein), 7 Driaan Vorster, 6 Darius von Solms, 5 Le Beau du Preez, 4 Erik Strauss, 3 Ignus Tripodi, 2 Stefan Hattingh, 1 Herschel van Wyk.

• Die wedstryd by die Unam-stadion tussen Unam en Western Suburbs is die een wat môre regstreeks deur NTV (DStv kanaal 285) gebeeldsend word.

Kommentaar

Republikein 2025-04-28

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer