Bokke lugtig vir Hane se ‘Vlok-faktor’

Rugby
Hendrik Cronjé
Die Springbokke verwag ’n sterk Blou Bul-geur in Frankryk se skopplan wanneer dié spanne Saterdag in Marseille kragte meet.

Met Vlok Cilliers as Frankryk se skopafrigter berei die Suid-Afrikaners hulle vir ’n bloudruk van die Bulle se destydse skopplan voor toe hulle met spelers soos Morné Steyn en Fourie du Preez ’n goue era beleef het.

Dis waarom Jacques Nienaber ’n agterste driehoek van Willie le Roux, Cheslin Kolbe en Kurt-Lee Arendse vir die Franse toets gekies het.

“Ons verwag dat dit Saterdagaand weer ’n skopfees sal wees,” sê die Bok-hoofafrigter.

“Dis hoekom ons die spesifieke agterste driehoek gekies het. Daar was net minder as 80 skoppe in die toets tussen Frankryk en die Wallabies.

“Ons glo nie dit sal verander nie. Dit werk vir hulle. Daar is baie detail in hul skopwerk. Hulle skop meestal vir gebiedsvoordeel.

“Hul skopwerk het ’n sterk Bul-geur, soos tussen 2006 en 2009 met Morné- en Fourie-hulle.”

Cilliers, ’n voormalige skopafrigter van spanne soos die Bulle en Westelike Provinsie, is in 2020 saam met Shaun Edwards, voormalige verdedigingsafrigter van Wallis, deur die Franse afrigter, Fabien Galthie, betrek. Dít word nou as ’n meesterskuif beskou.

Edwards het met die intrapslag die kraan toegedraai wat drieë lek en Cilliers het die Franse geleer dat skopwerk ’n wyse van aanval is en nie net om druk te verlig nie.

Deur hul aanstellings het Galthie groter balans by die Franse se speelstyl teweeg gebring. Hulle het steeds hul Franse flair behou, maar lê die skopskoen veel meer as in die verlede in.

Die Franse wurg jou. Hulle plaas jou onder druk met hul skopwerk en hulle het ’n goeie verdedigingstelsel.

Frankryk het byvoorbeeld verlede Saterdag in sy oorwinning van 30-29 oor die Wallabies 36 keer geskop.

Cilliers sal die eerste wees om te erken dat sy taak as skopafrigter vergemaklik word omdat die Franse in Antoine Dupont en Romain Ntamack soortgelyke en begaafde spelers as Du Preez en Steyn het.

“Die Franse wurg jou. Hulle plaas jou onder druk met hul skopwerk en hulle het ’n goeie verdedigingstelsel.

“Hulle doen baie dieselfde as wat ons doen,” meen Nienaber.

Arendse is op linkervleuel bo Makazole Mapimpi gekies omdat eersgenoemde meer betroubaar is om hangskoppe te bemeester. Arendse het, indien dit benodig word, ook ’n beter skopskoen as Mapimpi. Dít is vaardighede waarmee Arendse volgens die Bok-afrigtingspan in Saterdag se toets teen Frankryk groter waarde as Mapimpi kan toevoeg, aangesien hy ook soos Kolbe heelagter kan speel.

“Willie bied ons daardie ervaring (van 80 toetse). Ons het gedink hulle is die beste kombinasie om teen die Franse span te speel.

“Hulle is die beste drietal om dit (die verwagte skopaanslag) te trotseer.”

SKRUMSKAKELS

Oor Faf de Klerk se insluiting ten koste van Jaden Hendrikse meen Nienaber dit het onder meer met rotasie te make.

“Ons is geseënd met soveel skrumskakels van gehalte wat ons het. Ons het net gemeen Jaden het nou al ’n paar keer begin en Faf het baie energie verskaf toe hy teen Ierland opgekom het.

“Dan het ons iemand soos Cobus Reinach, wat sy rugby aan hierdie kant van die wêreld speel. Hy kan miskien die Franse verdediging ontsluit.

“Hy het vaart en kan verby hul stadiger losvoorspelers glip as hy as plaasvervanger opkom.

“Ons weet hoe ’n opwindende speler Cobus kan wees. Cobus het groot vertonings teen die Britse en Ierse Leeus ingesit toe ons Faf verloor het,” het Nienaber gesê.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!