Bokke se 7/1-bank kry nuwe kinkel vir eindstryd

Wêreldbeker-rugby
Hendrik Cronjé in Parys


Handré Pollard en Faf de Klerk terug in die beginspan, Bongi Mbonambi op sy pos en ’n 7/1-bank sonder ’n skrumskakel.

Dís die vernaamste kenmerke van die Springbokke se 23-tal wat vir Saterdagaand se Wêreldbeker-eindstryd teen die All Blacks gekies is.

Cobus Reinach en Manie Libbok word as skakelpaar deur die ervare De Klerk en Pollard in die beginspan vervang. Die reënweer wat vir die eindstryd voorspel word, is straks ’n belangrike rede hiervoor.

De Klerk en Pollard sal in die eindstryd ’n Suid-Afrikaanse rekord opstel deur in ’n 25ste toets as die beginspan-skakelpaar te speel. Hulle is tans nog saam met Henry Honiball en Joost van der Westhuizen die gesamentlike rekordhouers op 24 toetse.

Mbonambi kon op haker ingesluit word nadat Wêreldrugby se ondersoek na ’n rasklag deur die Engelse Rugbyunie teen hom niks opgelewer het nie. Wêreldrugby het Donderdagoggend in ’n verklaring gesê dat hy nie bewyse in die Wêreldbeker-halfeindstryd of in verlede jaar se November-toets tussen die lande kon vind van enige rassistiese beledigings deur Mbonambi nie.

Die saak word dus nou afgesluit en sal slegs heropen word indien nuwe bewyse na vore kom.

Dít volg ná ’n paar dae van drama nadat die Engelse flank Tom Curry in Saterdagaand se halfeindstryd aan die Kiwi-skeidsregter Ben O’Keeffe gevra het wat hy moet doen as Mbonambi hom ’n “wit k**t” noem.

IMPAKSPELERS

Soos verwag, het die Bokke spelers met vars bene in Trevor Nyakane, Jean Kleyn en Jasper Wiese vir die eindstryd gekies.

Die grootste verrassing deur die Bok-keurders is die besluit om nie ’n tweede skrumskakel in die 23-tal te kies nie, maar eerder vir Willie le Roux as die enigste agterspeler op ’n 7/1-bank in te sluit.

Reinach was die enigste agterspeler op die bank toe die Bokke en All Blacks vroeër vanjaar op Twickenham gespeel het. Dit word nou Saterdag verwag dat Cheslin Kolbe sy lyf skrumskakel sal moet hou sou De Klerk beseer raak.

Soos verwag, het die Bokke spelers met vars bene in Trevor Nyakane, Jean Kleyn en Jasper Wiese vir die eindstryd gekies.

Wiese, Deon Fourie en Kwagga Smith kan as ’n drietal die Kiwi’s in die tweede helfte besig hou by die afbreekpunte.

Smith het Woensdag in ’n nuuskonferensie gesê hy glo die stryd by die afbreekpunte sal ’n groot fokuspunt in die eindstryd wees.

“Die afbreekpunt is altyd belangrik, maar veral teen Nieu-Seeland is dit ’n massiewe ding,” sê Smith.

“Ons het baie daaraan gewerk, maar ek weet hulle is regtig goeie grondspelers. So, ons moet skerp wees.

“Ons moet seker maak ons behou ons eie bal. Hulle is goeie spelers en ek slaan hul losvoorspelers regtig hoog aan.”

• Springbok-span:

Damian Willemse, Kurt-Lee Arendse, Jesse Kriel, Damian de Allende, Cheslin Kolbe, Handré Pollard, Faf de Klerk; Duane Vermeulen, Pieter-Steph du Toit, Siya Kolisi (k), Franco Mostert, Eben Etzebeth, Frans Malherbe, Bongi Mbonambi, Steven Kitshoff.

Reserwes: Deon Fourie, Ox Nche, Trevor Nyakane, Jean Kleyn, RG Snyman, Kwagga Smith, Jasper Wiese, Willie le Roux.

• Hendrik Cronjé doen uit Frankryk vir Netwerk24 verslag oor die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-21

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 39° Rundu: 24° | 36° Eenhana: 22° | 34° Oshakati: 24° | 32° Ruacana: 22° | 32° Tsumeb: 22° | 31° Otjiwarongo: 20° | 29° Omaruru: 22° | 35° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 22° | 31° Henties Bay: 16° | 21° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 15° | 24° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 22° | 36° Keetmanshoop: 23° | 36° Aranos: 23° | 37° Lüderitz: 14° | 26° Ariamsvlei: 22° | 37° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 23° | 31° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 17° | 31° Maseru: 14° | 29° Antananarivo: 15° | 32° Lilongwe: 21° | 31° Maputo: 22° | 34° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 18° | 25° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 26° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 22° | 34° Harare: 20° | 33° #REF! #REF!