• Tuisblad
  • Sport
  • Botswana se Branch bult spiere voor Dakar-rusdag

Botswana se Branch bult spiere voor Dakar-rusdag

Motorsport
Johann Verster
Die Suider-Afrikaanse motorfietsjaer Ross Branch (Hero) was Sondag die held van sy afdeling in die 2023-Dakar-veldtydren toe hy die agtste sneltrajek – op die vooraand van dié moordende byeenkoms se rusdag – gewen het.

Hy was die agtste verskillende wenner van die agt sneltrajekte tot dusver.

Maar, ondanks dié ryer van Botswana se skitterende vertoning oor die lang skof van 822 km – 346 km teen die stophorlosie en die res op die oop pad tussen Al Duwadimi en die Saoedi-Arabiese hoofstad, Riaad, hou sy terugslae in veral Sneltrajek 4 (104de) en Sneltrajek 5 (62ste) hom steeds ver agter op die algehele ranglys. Hy gaan die rusdag in die 35ste posisie algeheel binne.

Al-ATTIYAH

Intussen het die Toyota Gazoo Racing-renspan Sondag weer bestendig gejaag met die algehele voorloper, Nasser Al-Attiyah, en sy navigator, Mathieu Baumel, wat hul Hilux T1+ in die tweede plek – twee minute en 11 sekondes agter die Hunter van Sebastien Loeb en Fabian Lurquin – oor die wenstreep gestuur het.

“Volgende week is ek in die duine op my tuisbodem. Ons verwag baie duine, maar ’n mens moet versigtig wees en dit een dag op ’n slag vat,” het Al-Attiyah van Katar oor die komende sneltrajekte gesê.

“Nou mik ons om elke oorblywende dag onder die voorste drie te wees.”

Al-Attiyah het sy algehele voorsprong teenoor sy spanmaats Henk Lategan en Brett Cummings in ’n identiese Hilux tot een uur, drie minute en 46 sekondes vergroot nadat Lategan Sondag in die vierde plek en een minuut en 22 sekondes agter Carlos Sainz en Lucas Cruz in ’n Audi e-tron oor die wenstreep is. Sainz was aanvanklik eerste by die eindpunt, maar het hom vyf minute se straftyd op die hals gehaal nadat hy in een van die dag se nie-mededingende ooppadgedeeltes betrap is dat hy die snelperk oorskry het.

“Ja, ons het uiteindelik ’n goeie sneltrajek gehad en onsself nogal geniet. Aangesien ons so ver agter moes begin, het ons danksy die reën geen stof teëgekom nie. Ek is baie teleurgesteld oor al die probleme wat ons vroeër in die ren gehad het. Ek dink ons was net ongelukkig, maar ons sal bly aanval en die ren probeer geniet,” het Lategan gesê.

Die derde TGR-Hilux in die hande van die SA veldtydrenkampioene, Giniel de Villiers en Dennis Murphy, was egter eers in die 26ste posisie by die eindpunt nadat hulle twee pap bande opgedoen het en stadiger moes ry om seker te maak hulle verloor nie nog een nie (net twee spaarwiele word toegelaat).

Dit het hulle van hul vierde plek algeheel ná Saterdag se sneltrajek tot vyfde laat terugsak nadat Loeb sy terugslae met Sondag se oorwinning oorkom en tot 16 minute voor De Villiers op die algehele ranglys opgeskuif het.

Die Mini van Jakub Przygonski was vyfde, gevolg deur die Hunter van Guerlain Chicherit, met die nuwelingjaer Lucas Moraes van Brasilië in sy private Hilux-inskrywing in die agtste posisie.

Nog ’n private jaer in ’n SA geboude Hilux, Yazeed Al Rajhi, wat Saterdag sy tuisskare met die dag se sneltrajekoorwinning verras het, was negende nadat hy Sondagoggend eerste weggespring en die roete as die eerste motor op die pad aangedurf het. Die afwesigheid van spore om hom te help, het hom 17 minute agter Loeb laat terugsak.

Die top-tien in Sondag se sneltrajek is deur Vaidotas Zala in ’n derde Hunter afgerond.

Die Century Racing-jaer Mathieu Serradori en sy navigator, Loic Minaudir, en hul SA spanmaats Brian Baragwanath en sy navigator, Leonard Cremer, was onderskeidelik 12de en 20ste in hul SA geboude CR6-T-motors. Baragwanath het vroeg reeds teruggesak nadat hy Saterdag net-net ’n podumposisie misgeloop het (hy was vyfde), maar darem die einde gehaal.

Ebenhauser Basson en sy navigator, Leander Pienaar, was Sondag 37ste (hulle is nou 46ste algeheel); Ryan Bland, wat die navigasiewerk vir Daniel Schröder doen, was 49ste (54ste algeheel); Geoff Minnet en Gerhard Snyman was 62ste (70ste algeheel) en Gerhard Schutte, die navigator vir die Brit Thomas Bell, was 77ste (hulle is ook 77ste algeheel).

Onder die res van die motorfietsjaers was die Suid-Afrikaanse Husqvarna-jaer Michael Docherty Sondag sesde, wat hom nou tot 21ste algeheel laat opskuif het. Sy landgenote Charan Moore (ook op ’n Husqvarna) was 33ste en die KTM-jaers Stuart Gregory en Kirsten Landman was 80ste en 99ste, terwyl die Husqvarna-jaer Stevan Wilken 87ste was.

Kirsten, die enigste vrouejaer uit Afrika, het nou tot 79ste algeheel opgeskuif.

• Die hele renveld jaers en hul navigators rus Maandag in ’n tentkamp buite Riaad terwyl hul tegnici – en die motorfietsjaers wat in die Malle Motto-klas vir selfonderhoudende jaers deelneem – die motors en motorfietse vir die tweede deel van die 2023-Dakar, waaronder die marathon-sneltrajekte Donderdag en Vrydag, voorberei.

Dinsdag se Sneltrajek 9 neem die deelnemers oor ’n algehele afstand van 686 km vir die dag (358 km teen die stophorlosie en die res op openbare paaie) van Riaad na Haradh deur skouspelagtige skeurvalleie en later ’n string sandduine, waar navigasiewerk ’n groot uitdaging sal wees.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!