Brutale stryde voor finaliste oorleef

Klubrugby
Trustco United teen die titelhouer FNB Wanderers sal die eindstryd van die NRU premierliga in 2023 wees.
Andrew Poolman
Op ’n dramatiese dag van semifinale van klubrugby onder die vaandel van die Namibië Rugbyunie was die spanningsdrama tussen Trustco United en FNB Kudus se eerste spanne gewis die een wat die meeste opspraak wek.

Ses wedstryde is afgehandel (vroueliga, reserweliga en premierliga) en die ongekende bisarre reëlmaat waarmee noodhulppersoneel op die veld moes gaan om na ernstige beserings om te sien en spelers op die draagbaar af te dra, was ’n verskynsel waarna die sportmediese wetenskap gerus kan ondersoek instel.

Met tye het letterlik minder as twee minute speeltyd tussenin verloop, of beserings het selfs tydens dieselfde beweging plaasgevind.

’n Gebrek aan drama was daar egter geensins nie – vandat die United Steenbokkkies in die eerste wedstryd van die oggend vasgetrap en die Wanderers Bokkies as kampioen onttroon en ook hul eerste nederlaag van dié seisoen toegedien het nie.

’n Enkele punt (23-22) was genoeg vir die United-vroue om fees te vier, te danke aan drieë deur heelagter Roberta Fabio, vleuel Richardine Gaya en losskakel Michelle Slinger, ’n doelskop deur Fabio en strafdoele deur Slinger en haar plaasvervanger Fulchen Bock.

Die Unam Steenbokkies, wat boaan die puntelys geëindig het ondanks Wanderers se onoorwonne status, het hierna met 31-3 hul plek in die eindstryd ten koste van Kudus ingeneem.

Die vyf drieë wat die Steenbokkies se blitsige heelagter Ivonne Kooper gedruk het, was hul grootste aanvalswapen, met nog ’n drie deur agtsteman Mandy Hansen.

Die NRU reserweliga sal ook ’n nuwe kampioen oplewer, met FNB Wanderers se ongewoon jong tweede span wat hul hande vol gehad het met die swaarder en meer ervare FNB Grootfontein Twee. Die noordespan het geskiedenis vir die klub gemaak met hul oorwinning van 33-31 en ’n plek in die eindstryd.

Die vleuel AJJ Vercuil, agsteman Amutenya Amutenya, vleuel Luis Talaya, skrumskakel Sunday Haitembu en sy plaasvervanger Christopher Deck, asook Vercuil se skoppunte het Grootfontein se sege beklink.

Kudus se tweede span het hierna met 41-40 deurgeskraap na die eindstryd ten koste van United se tweede span. Die driedrukkers vir die Walvisbaaiers was die vleuels Jayden Bussel (2) en Aston Mukwilongo, heelagter Irongwa Atshivudhi, flank Virgil Bampton en stut Lorenzo Calaca, terwyl losskakel Scott Winborn elf punte geskop het.

PREMIERLIGA

Heelagter Renier Benade se strafskop van die middellyn af, oomblikke nadat die dwarswind nog ’n moeilike poging uit ’n skuins hoek reg verby gewaai het, het United se plek in die eindstryd verseker met ’n dramatiese oorwinning van 28-27 teen die hoogs gemotiveerde Kudus.

Kudus se driedrukkers PJ Walters (senter), wat een van hul beste spelers op die dag was, vleuel Lloyd Jacobs en plaasvervanger Zane Williams, tesame met Aurelio Plato se 12 skoppunte het die Walvisbaaiers tot in die laaste sekondes nog prominent in die wedstryd gehou.

Twee drieë deur United se losskakel Hanreco van Zyl, wat ook met ’n skepdoel uitgeblink het, een elk deur haker Gerhard Thirion en vleuel Christo Gresse het die grondslag gelê vir die uiteindelike wenskop deur Renier Benade, wat tevore net met een doelskop kon slaag.

Die spanne was tot byna 60 minute nog met 17-17 gelykop, nadat Kudus rustyd met 17-12 voorgeloop het.

• FNB Rehoboth se seisoen is ook beëindig met Wanderers se oorwinning van 32-20.

Hoewel die Rooi Bulle hard geveg het om rustyd verrassend met 14-10 voor te loop en sake ná ’n uur se spel op 20-20 gehou het, het die flank Anton Steenkamp se Wit Hingste uiteindelik deurgebreek om die meer gerieflike voorsprong te bewerkstellig.

Wanderers het vasberade begin met agtsteman Driaan Vorster se drie en losskakel Eugene Jantjies se doelskop en strafdoel, voordat Rehoboth se Edward Drotsky (agtsteman) die beweging begin het vir haker Titus Matthias se verdoelde drie.

Die Rooi Bulle het momentum behou met senter Hillian Beukes se drie, terwyl skoppunte deur Henrique Olivier en Miquel Busch die telbord aan die rol gehou het.

’n Fratsdrie deur die heelagter Warren Ludwig was die laat keerpunt, nadat hy ’n Rehoboth-skop uit die lug met die voet vorentoe gestuur en vinnig agternagesit het. ’n Rehoboth-speler het teen hom vasgeskop en toe die bal reg wip, was daar geen keer aan die spoedvraat se lopie hoekvlag toe nie.

Wanderers se haker Dandre Schreuder hetvan ’n lynstaandryf gaan druk en linkervleuel Armand Kotze het ’n netjiese drie in die hoek afgerond, voor die damwal later gebreek het vir nog ’n drie ná skrumskakel Reben Botha se breekslag.

• Die eindstryde wat aanvanklik vir 26 Augustus geskeduleer was, sal na verneem word met een week tot 2 September uitgestel word. Komende Saterdag se wedstryd tussen die Vodacom Bulle en Namibië se Wêreldbekerspan is een van die fasktore wat hiertoe aanleiding gegee het.

Kommentaar

Republikein 2024-12-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 24° | 37° Rundu: 19° | 33° Eenhana: 21° | 25° Oshakati: 20° | 26° Ruacana: 21° | 27° Tsumeb: 20° | 27° Otjiwarongo: 17° | 25° Omaruru: 20° | 31° Windhoek: 19° | 27° Gobabis: 19° | 27° Henties Bay: 16° | 22° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 22° Rehoboth: 21° | 32° Mariental: 24° | 35° Keetmanshoop: 21° | 34° Aranos: 23° | 35° Lüderitz: 15° | 29° Ariamsvlei: 20° | 34° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 26° Gaborone: 20° | 29° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 28° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 23° | 39° Windhoek: 19° | 27° Cape Town: 18° | 22° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 16° | 24° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 22° | 35° Harare: 22° | 33° #REF! #REF!