Chris Smith, losskakel van die Bulle, word verlede seisoen in Treviso vasgevat in die Reënboogbeker-eindstryd teen Benetton. Foto Getty Images
Chris Smith, losskakel van die Bulle, word verlede seisoen in Treviso vasgevat in die Reënboogbeker-eindstryd teen Benetton. Foto Getty Images

Bulle moet spook van Treviso verjaag

Rugby
Die tuisspan Zebre is Vrydag sonder 'n paar staatmakers weens verpligtinge in die Sesnasies-reeks.
Cobus Claassen
Die spook van Treviso sal Vrydagaand in Parma wandel wanneer die Bulle teen Zebre in die Verenigde Rugbykampioenskap uitdraf.

Dis natuurlik wensdenkery om Benetton, ’n span vol toetsspelers en ’n sterk Suid-Afrikaanse invloed, met Zebre te vergelyk.

Zebre is sover in die kompetisie segeloos ná sewe probeerslae en heel laaste op die puntelys.

Die tuisspan is Vrydag boonop sonder ’n paar staatmakers weens verpligtinge in die Sesnasies-reeks.

’n Taamlik maklike oorwinning oor die Italiaanse sukkelspan is dus dan seker die Ligbloues beskore?

Dis hier waar Franco Smith, die Azzurri se hoof van hoëprestasie, se woorde by Jake White se span sal spook.

Smith het verlede seisoen, voor die Bulle se Reënboogbeker-eindstryd teen Benetton in Treviso, gesê die besoekers sal kommer in die gemoed hê om teen ’n Italiaanse span te verloor.

Met ander woorde: Die vooruitsig van dié vernedering sal swaar op die skouers van die Bulle druk. En dit het ook.

Benetton het die Bulle daardie Saterdag heeltemal teen die verwagtinge in van die veld af gespeel en met 35-8 geseëvier.

Die Bulle het Dinsdag vir die eerste keer sedert dié ontnugtering weer in Italië voet aan wal gesit.

White het verlede naweek ná die nederlaag teen die Haaie op Loftus Versfeld gesê die Bulle is na dese in ’n moeilike posisie in die kompetisie, maar goeie spanne vind altyd ’n manier om ’n uitspeelkans te bewerkstellig.

Daardie paadjie begin Vrydagaand in Parma – met niks minder as ’n bonuspuntwen wat sal deug nie.

Ná die vinnige besoek aan Italië, kom maak Munster, die Scarlets, Dragons en Ulster op ’n streep hul debuut in die reeks op Loftus.

Daar is nietemin ’n paar vrae in Bulle-geledere.

Die span wat agtereenvolgens die Curriebeker gewen het en hom as die voorste span in plaaslike rugby gevestig het, het op enkele uitsonderings na voorlangs oorheers. Die verlies van die Springbok-trio Duane Vermeulen, Marco van Staden en Trevor Nyakane, is ooglopend groter as wat verwag is.

Verlede seisoen in Treviso kon Benetton die besoekers in die lynstane en by die afbreekpunte ontwrig en Zebre sal soortgelyke planne hê.

Slaag die tuisspan daarin, sal daar nog meer druk op die losskakel Chris Smith wees. Smith het verlede seisoen in Treviso gesukkel om beheer te neem en hy sal, gegewe Morné Steyn se skorsing, weer in die nr. 10-trui begin.

• Die Bulle het Dinsdag gesê Zak Burger (skrumskakel) en David Kriel (heelagter/senter) is nie beseer nie en daar is weens die span se rotasiebeleid besluit om hulle by die huis te los. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer