Die Namibiese atlete op pad na Gaborone het gister by die Sportkommissie ingeloer. Foto Limba Mupetami
Die Namibiese atlete op pad na Gaborone het gister by die Sportkommissie ingeloer. Foto Limba Mupetami

Carina Horn en Jingqui teen Mboma en Masilingi

Atletiek
Tielman van Lill
Komende Saterdag se eerste Gaborone International Meeting sal die room van Suidelike Afrika se baan- en veldatlete na Botswana lok.

Namibië se Christine Mboma en Beatrice Masilingi is ook vir die eerste geskiedkundige byeenkoms geoormerk.

Die byeenkoms sal bronsstatus op Wêreldatletiek se Kontinentale Toer geniet. Volgens die Botswana-atletiekvereniging (BAA) sal nie net Afrika-atlete die geleentheid aangyp nie, maar hoopvolles van Duitsland, Sirië, Portugal, Bahrein en Nederland kan moontlik in aksie wees.

’n Goeie kontingent van Namibië, Suid-Afrika, Lesotho, Zambië, Zimbabwe, Mosambiek, Kenia, Nigerië, Niger en Kameroen word in dié hoofstad verwag.

Die toppunt van die byeenkoms is die lys van Olimpiese medaljewenners van Tokio 2020 – soos Mboma van Namibië (100 en 200 meter), Ferguson Rotich van Kenia (800), Isaac Makwala van Botswana (100) en ander Olimpiese finaliste soos Beatrice Masilingi (100 en 200) en Nijel Amos (800 m) van Botswana.

Die tiener jarige Vive Jingqui (17) van Suid-Afrika het onlangs die nasionale o.18-rekord in die 100 m tot 11.22 sekondes by Atletiek Suid-Afrika se junior kampioenskap op Potchefstroom verbeter. Sy sal teen Carina Horn, die RSA se enigste sub-elfsekondenaelloper, asook Mboma en Masilingi in die wegspringblokke sak.

Mboma het in Januarie vanjaar eers op die 100 begin konsentreer. Met haar astronomiese vooruitgang dreig sy om met ’n wettige wind van agter (maksimum 2 meter per sekonde) deur die elfsekonde-grens te bars.

Sy het wel vandeesmaand in die VSA met 10.96 die 100 in koue en winderige toestande afgelê. Maar die wind was te sterk van agter om die tyd as betroue maatstaf te gebruik van wat vanjaar nog kan gebeur.

Jingqui (toe 16) ken reeds Mboma en Masilingi se vermoëns. Sy het hulle verlede jaar met die o.20-wêreldkampioenskap in Nairobi, Kenia, in die 200 leer ken.

Die Suid-Afrikaner het toe haar persoonlike beste tyd (23.84) in die uitdunne behaal, maar met 24.04 (5de) in die semifinaal uitgeval. Jingqui het onlangs haar beste tyd in die 200 tot 23.03 verbeter.

Die 200-finaal is deur Mboma (21.84) gewen met Masilingi tweede (22.18) en Favour Ofili van Nigerië (22.23) derde.

Praise Ofoku (100 m 11.49) en Tima Seikeseye Godbless (100 m 11.51) van Nigerië, Boitshepiso Kelapile (100 m 11.85) van Botswana, Charlize Eilerd (100 m 11.67) en Horn (100 m 11.43) van die RSA is nog moontlikhede vir die 100. Horn is met 10.98 die Suid-Afrikaanse 100-rekordhouer.

Masilingi kon nog nie haar beste peil van 2021 bereik nie, maar daar word verwag dat sy binnekort weer op dreef kan wees.

Die volgende Namibiërs sal ook in Gaborone in aksie wees:

MANS: Ernst Narib, Gilbert Hainuca, Onesmus Nekundi en Anthony Vries (almal 100m, 4x100 m-aflos). Ivan-Danny Geldenhuys, Mahmad Bock, André Retief en Warren Goreseb (almal 400m, 4x400 gemengde aflos). Hatango Murere (200). Arno Angula en David Dam (beide 800). Daniel Paulus en Simon Paulus (beide 5 000). Sandro Diergaardt en Chenoult Coetzee (beide verspring, 4x100-aflos).

VROUE: Johanna Ludgerus (4x400-gemengde aflos). Nandi Vass (400, 4X100-aflos). Frieda Iithete (verspring, 4x400-aflos). Innocentia Haingura (400, 4x400-gemengde aflos). Saara Shikongo en Nyanyukweni Frans (beide 1 500). Tuuliki Angala (4X400-gemengde aflos). Ndawana Haitembu (4x100-aflos). Carien Oosthuizen (200, 4x100-aflos).

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer