Carlos Alcaraz: Kroonprins met die lang vingers

Tennis
Fanie Heyns
Carlos Alcaraz gaan die logiese troonopvolgers van manstennis se “Groot Drie” van Grand Slam-silwerware “beroof”.

Hieroor is die kenners Robbie Koenig en Chris Bradnam (TV-kommentators), John-Laffnie de Jager, gewese Fed-beker-afrigter van Suid-Afrika, en Michael de Jongh, oudbreier van Martina Navratilova en Mary Pierce, dit eens.

Hulle meen wel dis onwaarskynlik dat die 19-jarige Spanjaard sy strooptog sodanig sal uitvoer dat Daniil Medvedev (26), Alexander Zverev (25) en Stefanos Tsitsipas (23) nóóit weer ’n Grand Slam sal wen nie. Tog kan dié drietal – wat lank as die “Volgende Geslag” grotes ná Rafael Nadal, Roger Federer en Novak Djokovic gereken is – se trofeekas aan die einde van hul loopbane heelwat leër wees vanweë Alcaraz se verskyning op die toneel.

Alcaraz het vanjaar titels in Rio, Miami, Barcelona en Madrid ingeoes. Die meeste daarvan terwyl hy 18 jaar oud was.

“Geestelik is hy ’n swaargewig, byna reeds op dieselfde vlak as Federer, Nadal en Djokovic,” sê De Jager.

Hy slaan sy grondhoue vinniger as die meeste spelers in die ATP-reeks. Sy eerste afslane is reusagtig. Sy valhoue is amper ongeëwenaard en sy vlughou is beter as die meeste.

Boonop is sy beweging fenomenaal – so goed soos die drie legendes s’n.

“Carlos is ’n absolute frats. Hy kan op ’n Grand Slam-stormloop gaan en agt of nege (kort ná mekaar) wen,” sê De Jager.

Dít kan Medvedev se droom van verdere Grand Slam-welslae, en Zverev en Tsitsipas se soektog na ’n eerste grote, verydel.

Alcaraz het reeds ’n sielkundige voltreffer geplant teen Tsitsipas. Hy het hom in hul drie ATP-ontmoetings geklop. Een daarvan was by die Amerikaanse Ope in 2021.

Bradnam dink Tsitsipas is aan’t stagneer: “Hy kan die pot volkome mis sit (en geen Grand Slam-titels wen nie). Hy het bykomende hulp (afrigting) nodig. Hy benodig ’n ander oor as bloot net dié van sy pa (Apostolos, sy afrigter) as hy die finale tree wil gee.”

Die voormalige sewemalige Grand Slam-wenner Mats Wilander het op Eurosport gesê Tsitsipas se teenstanders by die Franse Ope vanjaar het sy handrugkant geteiken. Die ontwikkeling van sy handrughoue beweeg nie in die regte rigting nie.

De Jongh stem saam. Volgens hom beskik die Griek oor al die wapens van massavernietiging, maar hy het voorspelbaar geraak.

“Zverev sal myns insiens wel ’n Grand Slam wen, en Medvedev ’n tweede of meer,” sê Bradnam.

“Die vertroue wat Medvedev gekry het deur Djokovic (verlede jaar in die Amerikaanse Ope-eindstryd) van ’n Grand Slam-titel te beroof, is gróót.”

Koenig glo Alcaraz is ’n gevaarman wat die Grand Slam-partytjie van Medvedev, Zverev en Tsitsipas kan bederf.

In die eerste dekade van die 21ste eeu het Federer byvoorbeeld agt keer gewen teen elk van Lleyton Hewitt en Andy Roddick in Grand Slam-wedstryde. Weens die Switserse legende se oorheersing kon Hewitt en Roddick nie enige verdere Grand Slam-welslae behaal nie.

“Maar Roger was Hewitt en Roddick ligjare vooruit. Ek dink nie dis soortgelyk met Alcaraz teen Medvedev, Tsitsipas en Zverev nie. Tog kan hy hulle beslis van groot titels beroof, maar hulle sal straks steeds Slams inoes.

“Medvedev sal homself vertrou teen enigiemand ter wêreld op ’n harde baan.

“Stefanos is ’n werkslaaf wat sweet om reg te wees vir enige uitdaging. Hy is nie bang vir ’n uitdaging teen Alcaraz nie. Hy sien uit daarna,” sê Koenig.

De Jager sê Tsitsipas se CV lees soos ’n sprokie. Hy het by die Australiese Ope reeds met Federer en Nadal afgereken. Hy het ook verlede jaar die Franse Ope-eindstryd gehaal.

De Jongh beskou Zverev as ’n ernstige aanspraakmaker op ’n eerste Grand Slam-titel.

“Hy het die afgelope 12 tot 15 maande dramaties verbeter. Waar hy eers drie voorarm-wenners geslaan het, gevolg deur vyf ongedwonge foute, maak hy nou selde foute aan voorarm-kant. Hy kan baie skade aanrig aan voorarm- en handrugkant. Dit geld ook sy eerste afslane.

“Hy was ongelukkig dat hy in die Franse Ope-halfeindstryd teen Nadal beseer geraak het.”

Volgens De Jager sal die volgende 20 Grand Slam-titels waarskynlik gewen word deur een van die volgende vyf spelers: Djokovic, Medvedev, Alcaraz, Zverev en Tsitsipas. Matteo Berrettini is ’n titel-aanspraakmaker op gras.

Alcaraz is nog nie die afgeronde produk nie. Dít moet sy teenstanders bekommer. “Hy trek soms te vroeg in houeverwisselings die sneller, maar dit sal verbeter onder Juan Carlos Ferrero se afrigting,” sê De Jongh.

Felix Auger Aliassime of Holger Rune is volgens De Jager nie in die prentjie om nou al Slams te wen nie. Die Kanadees Auger Aliassime word deur Toni Nadal, Rafa se beroemde oom, afgerig.

“Ek dink hy maak te veel ongedwonge foute,” sê Bradnam.

“Sy afslaanspel is voortreflik en so ook sy grondhoue. Sy beweging van die agterbaan na die net moet verbeter.

“Hy verkies dikwels die maklike vlughou, pleks van die beste vlughou,” sê De Jager.

Rune (19) het van 400ste op die wêreldranglys aan die begin van 2021 verbeter na 28ste.

“Hy is in die Grand Slam-ontwikkelingspad agter Miomir Kecmanovic (22) van Serwië. Hy het so byna by Miami (in die kwarteindronde) afgereken met Alcaraz en is nader aan die kruin as Rune,” sê De Jager.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!