Niko Davin ontvang sy toekenning as speler van die wedstryd vir sy briljante 80 nie uit nie van 44 balle. Foto verskaf
Niko Davin ontvang sy toekenning as speler van die wedstryd vir sy briljante 80 nie uit nie van 44 balle. Foto verskaf

Chevrons voel eerste Eagles-venyn

Krieket
Niko Davin se slaankrag het die Zimbabwiërs 'n verwelkoming soos min gegee.
Tielman Van Lill
Zimbabwe se volsterkte krieketspan se hoër status het gister vir min getel toe Namibië by die Wanderers-veld die voorsprong met 1-0 in die Castle Lite-reeks van vyf T20-wedstryde geneem het.

Die Richelieu Eagles (122 vir drie in 13.4 boulbeurte) het Zimbabwe (121/9 in 20) opnuut met ’n sewepaaltjie-sege geskok en gewys dat die besoekers nie ligtelik sal kan wraak neem vir die reeksnederlaag laas jaar in Bulawayo nie.

Boul-deurbrake deur Ben Shikongo, Gerhard Erasmus, Tangeni Lungameni en JJ Smit het gister gesorg dat die Eagles reeds in die eerste paar boulbeurte op ’n hoë noot begin het.

Die haastige vertrek van Nick Welch (0), Craig Ervine (0), Innocent Kaia (4) en Ryan Burl (14) wat almal binne 4.3 boulbeurte vir 22/4 uitgevang is, het Namibië op die voorvoet geplaas.

Sikandar Raza (39 van 35 balle), Wessly Madhevere (22 van 24 balle) en Luke Jongwe (22* van 22) het bygedra om die toerspan darem tot 121/9 in 20 boulbeurte te kry.

Die Namibiese draaibal- en naatboulwerk was gedissiplineerd en akkuraat, wat die ervare kolflys van die Chevrons onder druk gehou het. Ná die toporde se vertrek kon Zimbabwe nie herstel of die druk op die Eagles-boulers verplaas nie.

Gerhard Erasmus met drie paaltjies vir 15 in vier boulbeurte het skade aangerig. Nog ses Chevron-paaltjies is deur Nicol Loftie-Eaton (1/11 in 3), JJ Smit (1/5 in 1), Tangeni Lungameni (1/18 in 3), Bernard Scholtz (1/25 in 4), Ben Shikongo (1/14 in 2) en Jan Frylinck (1/29 in 3) opgeraap.

Die Eagles-kolbeurt het vroeg skeefgetrap toe Michael van Lingen (5) skoongeboul is. Maar teen die tyd dat die volgende twee, Gerhard Erasmus (8) en daarna Jan Frylinck (11), laat terugstap is, was Namibië reeds oortuigend op die wenpad.

Niko Davin, wat saam met Van Lingen die kolfbeurt geopen het, het ’n briljante kolfvertoning teen dié hoog gerekende boulaanval gelewer.

Davin se onoorwonne 80 lopies het van 44 aflewerings gekom met agt viere en vier sesse, terwyl hy sy vyftigtal met met 31 balle op die telbord geplaas het. JP Kotzé het 11 nie uit nie aangeteken.

Richard Ngarava (2/15 in 3) het Van Lingen (geboul) en Erasmus (uitgevang) uitgehaal, terwyl Jongwe (1/22 in 2) vir Frylinck laat uitvang het.

Die tweede internasionale T20-botsing van die Castle Lite-reeks begin vandag om 14:00 by Wanderers.

Die besoekers sal hul aanpassing by die Wanderers-kolfblad haastig moet doen. Dave Houghton, hoofafrigter van Zimbabwe, sal ná sy vooraf voorspellings beslis nie sy span se loesing ligtelik kan opneem nie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!