Janco Venter, Louis van der Westhuizen en Wian Conradie tydens die 2015 Wêreldbeker in Engeland. Foto Facebook
Janco Venter, Louis van der Westhuizen en Wian Conradie tydens die 2015 Wêreldbeker in Engeland. Foto Facebook

Chucky bly nog langer ’n Cheetah

Rugby
Drie Namibiese voorspelers wat 'n lang pad saam stap, beleef uiteenlopende nuus.
Andrew Poolman
Die Cheetahs het daarin geslaag om die dienste van die Namibiese haker Louis van der Westhuizen te behou.

Die 27-jarige boorling van Windhoek met die bynaam Chucky het sy kontrak met nog ’n jaar verleng, tot die einde van 2023.

Volgens Itsrugby.co.uk se statistiek het hy vanjaar vyf wedstryde vir die Cheetahs gespeel (twee in beginspan, altesame 240 minute) en sewe drieë gedruk.

Hy het gister aan die koerant gesê hy en sy vrou is baie gelukkig in Bloemfontein.

“Die mense hier is baie vriendelik en behulpsaam. Ons het baie goeie vriende hier gemaak die laaste twee jaar, en ons geniet die Vrystaatse vlaktes.

“Ek geniet ook my rugby op die oomblik hier. Ek hou van die manier hoe die Cheetahs rugby speel; dis lekker opwindende en aanvallende rugby. Natuurlik sal dit vir ons unie ongelooflik wees om weer in ’n internasionale kompetisie te kan speel, maar vir nou fokus en werk ons hard om in die Curriebeker ons beste te doen, sodat wanneer die geleentheid sou kom, ons 100% reg sal wees om in ’n ander kompetisie te kan speel.”

Die produk van Windhoek Hoërskool, die Pukke en Luiperds is ook kortstondig deur die Blou Bulle betrek voordat hy in 2020 sy huidige rugbytuiste gevind het.

“Ek kry ook nou lekker speelkans, en dis vir my belangrik. Soos ons weet, is 2023 ’n Wêreldbekerjaar en ’n ou wil soveel as moontlik speeltyd kry voor mens na so ’n groot kompetisie toe gaan.”

• Die Cheetahs het Maandag terselfdertyd aangekondig dat twee losvoorspelers, Jeandré Rudolph en Gideon van der Merwe, asook Victor Sekekete (slot) ook hul kontrakte met die unie verleng het.

JANCO NOG NIE VAN KRUKKELYS AF

Vir twee van Van der Westhuizen se ewe geharde Namibiese medevoorspelers wat in WHS skoolgegaan het en ook hul rugby in die buiteland speel, is daar uiteenlopende nuus.

Janco Venter is nog nie terug op die speelveld nie, nadat hy in Februarie ’n kuitspierbesering in ’n Engelse premierligawedstryd teen Wasps opgedoen het, kort nadat hy as ’n plaasvervanger opgestuur is.

Venter het nog vanjaar min speelkans gekry by die sterbelaaide Saracens, wat tans tweede op die puntelys is. Die klub het kort ná sy besering, wat as “beduidend” beskryf is, beraam dat hy vir sowat drie maande buite aksie sal wees.

Venter het gister by navraag laat weet: “Ek is nou in die laaste gedeelte van my rehabilitasieproses. Ek het drie maande gelede my achilles gedeeltelik geskeer, asook my kuitspier. Ek het dié week weer saam met die span begin oefen en hoop om teen einde van volgende week myself as beskikbaar te beskou en nog ’n paar wedstryd in te werk voor die einde van die (Engelse) seisoen (in Mei).”

Die ysterflank van 30 toetse is dus in ’n wedloop teen tyd om op sy beste te wees wanneer Rugby Afrika se kwalifiserende toernooi in Julie in Frankryk gespeel word met die oog op die 2023 Wêreldbeker.

• Wian Conradie is intussen deur sy Engelse klub Gloucester vrystelling gegee om na sy vorige weiveld – Major League Rugby in die VSA – terug te keer.

Die 27-jarige flank is laas seisoen by die New England Free Jacks as die spelers se speler van die jaar vereer (ná 15 wedstryde en 1 131 minute speeltyd) en sluit hom nou weer by dié franchise in Boston aan.

In die Gloucester-trui het Conradie egter net twee verskynings as plaasvervanger gemaak (gesamentlik 17 minute, in September en Desember).

Die klub het in sy nuusverklaring gesê ’n sameloop van ontydige beserings en die goeie spel van Gloucester se gevestigde losvoorspelers het hom weerhou om ’n groter rol te speel.

“Wian het in sy tyd by ons deurentyd ten volle professioneel opgetree en het harde werk ingesit, maar hy was bloot ongelukkig. Hy het sy deel bygedra tot ons seisoen en ons bedank hom vir sy insette.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!