• Tuisblad
  • Sport
  • Comrades het sy eie ‘Duckworth-Lewis-Stern’ nodig

Comrades het sy eie ‘Duckworth-Lewis-Stern’ nodig

Padwedlope
Sarel van der Walt
Neem die pas waarteen die wenner per kilometer gehardloop het in aanmerking, of vra aktuarisse om vir die Comrades ’n formule soortgelyk aan krieket se Duckworth-Lewis-Stern-ene te ontwikkel om te bepaal wat die amptelike Comrades-rekord is.

So het Rudi du Plessis, wat in 1993 ’n goue medalje verower het, gesê toe ek hom ná Sondag se Comrades gevra het oor die bohaai oor die feit dat die wedloop vanjaar 2,2 km korter was.

Krieket gebruik die Duckworth-Lewis-Stern-formule om te bepaal wie ’n wedstryd gewen het wat deur reën onderbreek is.

Sarel Ackermann, ’n vyfmalige gouemedaljewenner, sê dis nie eens nodig om aktuarisse se hulp in te roep nie. ’n Gewone sompompie sal die ding doen.

“Deel bloot die tyd deur die afstand,” sê hy.

Die korter afstande het gehelp dat Tete Dijana en Gerda Steyn Sondag rekordtye hardloop.

Dit was voor die wedloop al so te sê ’n uitgemaakte saak dat David Gatebe (5 uur, 18 minute en 19 sekondes in 2016) en Frith van der Merwe (5:54:43 in 1989) se rekords in die afwedloop tussen Pietermaritzburg en Durban oortref sou word omdat die afstand korter was.

Dit was nog duideliker dat dit sou gebeur toe twee versekeringsmaatskappye vooraf nie bereid was om die prysgeld van R1,2 miljoen te verseker wat Dijana (5:13:58) en Steyn (5:44:54) ontvang het nie.

Die afstande verskil van jaar tot jaar weens onder meer padwerke tussen die twee stede. Vanjaar het die wedloop ook nie weer by die Moses Mabhida-stadion in Durban geëindig het nie, maar 1 km vroeër by die Kingsmead-krieketstadion, die tradisionele eindpunt.

“Gatebe het in 2016 (89,208 km) teen 2:34.095 per kilometer gehardloop teenoor Dijana (87,701 km) se 2:34.798. Gerda (87,701 km) se pas was 3:55.96 teenoor Frith se 3:57.50 (89,6 km),” sê Du Plessis.

“Dit beteken die atlete moet vooraf weet wat die vinnigste pas was en dis die rekord wat hulle jaag.”

‘EINTLIK BELAGLIK’

Ackermann sê die Comrades-roete sal altyd “98% van die tyd” dieselfde wees.

“Die klein verskil in die afstand móét in berekening gebring word voordat jy kan praat van ’n nuwe rekord en geld daarvoor uitbetaal.”

Hy sê dit sal baie onregverdig wees teenoor huidige en toekomstige Comrades-hardlopers as hulle die rekords wat Sondag opgestel is, moet probeer verbeter.

“Die 2,2 km wat hulle minder moes hardloop, maak in padwedlope ’n groot verskil. Dis eintlik belaglik en dit maak nie sin om Sondag se wentye as rekords te erken nie,” sê Ackermann.

Deon Holtzhausen, ook ’n vyfmalige Comrades-gouemedaljewenner, stem saam dat die Comrades-vereniging, wat die wedloop organiseer, moet herbesin.

Holtzhausen, wat vier van sy vyf medaljes in die era van Bruce Fordyce verower het, sê hy hoop nie die Comrades word al hoe korter nie.

“Die afstand moet nagenoeg 90 km bly, anders sal die wedloop sy karakter verloor. Ek is net bly niemand kan die moeilikheidsgraad van die wedloop verander nie,” sê Holtzhausen, wat in 1989 tweede ná Fordyce in die Wêreldwedloop oor 100 km in Stellenbosch was.

Hy het sy vyfde en laaste goue medalje in dieselfde wedloop as Du Plessis verower.

Holtzhausen vertel toe hy in 1982 sy eerste goue medalje verower het, was die afstand verder as gewoonlik en hy het hy gevolglik “baie geswets”.

Hy som waarskynlik die gevoel van baie deelnemers op wanneer hy sê: “Teen die einde is jy so moeg, jy is nie nog lus vir sommetjies nie.”

Oor Sondag se wedloop sê hy: “Dit was ’n briljante wedloop. Die ouens aan die voorpunt het ongelooflik goed gehardloop. Ek is bly ek hoef nie in my tyd teen hulle te gehardloop het nie.”

Daar was ná Sondag se wedloop atlete wat gekla het dat die afsnypunt vir die wedloop in Pinetown, net meer as 20 km van die eindpunt, verkeerd bereken is.

Rowyn James, wedloopdirekteur, sê in die inskrywingsvorm is dit duidelik gemaak die afsnytyd in Pinetown sou om 14:50 wees en nie om 15:00 soos in die verlede nie.

• Sarel van der Walt doen al sedert 1988 oor die Comrades verslag.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer