Connor boer op die wenpad
Tennis
Connor van Schalkwyk (17) is voortdurend besig om op sy status as die topgekeurde junior tennisspeler in Afrika voort te bou.
Die Namibiër se huidige 49ste posisie op die Internasionale Tennisfederasie se junior wêreldranglys is inderdaad ’n aanduiding hoedat hy voortdurend sy vernuf op internasionale vlak beter slyp.
Nadat hy verlede naweek die finaal van ’n ITF J3-toernooi in Rabat, Marokko, gewen het, het hy vandeesweek in ’n J2-toernooi in Tunis opnuut gevorder tot waar hy gister die semifinaal teen Michael Bassem Sobhy van Egipte met 6-4, 6-3 gewen het.
Hy kom dus vandag in die eindstryd teen Devin Badenhorst van Suid-Afrika (tans die wêreld se nr. 183 en derde gekeur vir die toernooi) te staan.
Van Schalkwyk het sover vanjaar elf van sy 15 ITF-enkelspelwedstryde in die Junior Wêreldtoer gewen (sukseskoers 73%). Sy rekord is ses uit sewe op klei (86%) en vyf uit agt (62%) op hardebane.
Geen wonder dié jong Namibiër is ingesluit om van 5 Mei tot 10 Julie deel van die ITF se Grand Slam-ontwikkelingsprogram te wees nie.
Van Schalkwyk het dus toelating om van 29 Mei tot 5 Junie by die Junior Roland Garros-toernooi in Frankryk sy junior Grand Slam-buiging op klei te maak.
Van 2 tot 10 Julie neem hy op gras aan die Junior Wimbledon-kampioenskap in London deel. Al sy uitgawes word deur die organiseerders (ITF) betaal.
Hy het vanjaar die eerste Namibiër geword wat by ’n Junior Grand Slam-toernooi (Junior Australiese Ope) in aksie was sedert wyle Suzelle Davin in 2006 by die Junior Wimbledon gespeel het. Jurgens Strydom, die laaste Namibiese seun wat in 2005 by ’n Junior Grand Slam sy merk te maak, is nou sy afrigter.
Van Schalkwyk het vroeër aan itftennis.com gesê: “Om aan ’n Junior Grand Slam deel te neem, is iets waarna ek uitgesien en baie hard gewerk het. Ongelukkig het ek nie goed in Australië gevaar nie, maar hoop dit sal volgende keer beter gaan.
“Ek is trots om die eerste Namibiër sedert 2006 te word wat by ’n Junior Grand Slam kon meeding. Dit maak my trots, want ek hou daarvan om my land te verteenwoordig. Hopelik kan ek dit nog vir baie lank doen.
“Een van my doelwitte wat ek nie gedink het sal realiseer nie, was om by dieselfde Grand Slam as (Rafael) Nadal te speel. Ek wil my tennis tot die volgende vlak neem en eendag by ’n senior Grand Slam op die baan stap.”
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie