Damian moet nou Poemas én skete systap

Rugby
Cobus Claassen
Cobus Claassen

Ná die jongste Elton Jantjies-wandaad sal daar in die Springbok-kamp duim vasgehou word Damian Willemse bly vir die res van die jaar beseringsvry.

Hy mag dalk in die Bokke se oorblywende ses toetse vanjaar die enigste erkende losskakel in die groep wees.

Met Jantjies wat gister gevra is om summier sy tasse te pak en uit Buenos Aires terug te keer Suid-Afrika toe weens sy beweerde owerspel verlede maand in die Laeveld, sal Willemse Saterdag weer die nr. 10-trui dra wanneer Suid-Afrika die Poemas in die Rugbykampioenskap pak.

Frans Steyn was verlede naweek in Sydney een van die plaasvervangers toe Willemse in die beseerde Handré Pollard (knie) se afwesigheid die losskakel-mandaat teen die Wallabies gekry het. Steyn is ná sy onlangse dyspierbesering duidelik nog nie heeltemal fiks en skerp nie.

Jantjies het die toets in Sydney vanweë ’n handbesering misgeloop, maar hy het saam met die span na Argentinië gereis.

Die plan was glo dat vandag ’n besluit geneem sou word oor sy insluiting in die 23-tal vir die toets in Buenos Aires.

Willemse het ’n puik vertoning teen die Wallabies gelewer in sy eerste toets as losskakel in die beginspan, maar sy stelskopwerk was beroerd.

Hy is boonop ná sy vertonings in die laaste vesting sover die seisoen die voorkeur-heelagter en die Bok-breintrust sou verkies dat hy hom verder in die posisie ingrawe met die oog op volgende jaar se Wêreldbeker-toernooi.

Hoewel die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) gister in ’n verklaring gesê het Jantjies en Zeenat Simjee, dieetkundige van die Bokke, het nie spanprotokol oortree nie, is die jongste voorval nogmaals ’n verleentheid vir Saru.

Rapport het onthul hoe die twee in gastehuise gebly het toe die Springbokke in Mbombela teen die All Blacks gespeel het. Die verblyf het glo met duur sjampanje, romantiese etes, maar ook ’n luidrugtige rusie en onbetaalde rekenings gepaard gegaan.

Daar word reeds voorspel die 32-jarige Jantjies het in Adelaide sy 46ste en laaste toets vir Suid-Afrika gespeel.

Johan Goosen, losskakel van die Bulle, kan binnekort by die Bokke betrek word en kan selfs in November saamtoer vir die jaareindtoetse teen Frankryk, Ierland, Italië en Engeland.

Makazole Mapimpi, vleuel van die Springbokke, het intussen gesê hulle is vasbeslote om Saterdag nog beter af te rond.

Suid-Afrika het in Sydney sy kans in die kampioenskap lewend gehou met ’n oorwinning van 24-8 oor die Aussies.

Die Bokke het ’n bonuspuntsege behaal ná hulle afronding treurig was die vorige week in Adelaide.

“Dis belangrik dat ons weer ons kanse benut (soos in Sydney) en daarop voortbou.

“Ons skep baie kanse en ons vleuels moet gaan afrond. Die vyfpunters is belangrik in wedstryde waar daar nie veel tussen die spanne is nie,” het Mapimpi gesê. Die Springbokke het in 2019 laas weg teen die Poemas gespeel in die Rugbykampioenskap toe hulle die tuisspan in Salta oortuigend met 46-13 geklop het om dié titel te beklink.– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!