Die organiseerders het Drikus Coetzee, in daardie stadium in ’n sterk tweede posisie, se onttrekking só aangekondig. Foto Instagram
Die organiseerders het Drikus Coetzee, in daardie stadium in ’n sterk tweede posisie, se onttrekking só aangekondig. Foto Instagram

Dapper Drikus inspireer Namibiërs

Bergfietsry
Tielman Van Lill
Drikus Coetzee se manmoedige deelname aan die moordende Atlas Mountain Race, ’n bergfietswedren oor 1 337 kilometer sonder bystand in Marokko, kan nie anders as om bewonder te word nie.

Sedert hy Saterdagnamiddag net ná sesuur in Marrakesj weggespring het, het die Namibiër homself net een slaapsessie van 40 minute in vyf dae gegun.

Die roete vanaf Marrakesj tot in die kusdorp Essaouira loop pal oor die Atlasgebergte en omsluit ’n totale klimhoogte van ongeveer 21.14 kilometer. Die totale klimwerk oorskadu dus Mount Everest, die wêreld se hoogste bergpiek, wat op 8 849 km bo seespieël gemeet word.

Plat gedeeltes deur dik woestynsand, of deur riviere, is ook deel van dié ongenaakbare wêreld.

Vanuit Namibië is ons man van staal se tweestryd aan die voorpunt van die resies teen Justinas Leveike van Litaue getrou gevolg op die organiseerders se webblad, waarin die ryers se vordering van GPS-posisies regstreeks weergegee is.

Toe Coetzee se merk gistermiddag skerp van die vasgestelde roete begin afdwaal het, het sommiges bekommerd gewonder of hy in ’n toestand van uitputting begin verdwaal het.

Later het dit egter aan die lig gekom dat hy weens ontwatering noodgedwonge sy deelname ná 1 279 kilometer moes staak – met slegs 58 km oor na die eindstreep (3% van die afstand) en met ’n volle drie dae wat vir die stadiger deelnemers oorbly.

Hy is deur die organiseerders na die eindpunt in Essaouira vir doktersbehandeling en waarneming vervoer. Volgens ’n ingeligte bron is Coetzee piekfyn afgesien van die ontwatering. Al die nodige mediese toetse sou ter voorkoming op hom uitgevoer word.

Die 30-jarige Namibiër het vir lang tye voorgeloop, maar is Dinsdag stelselmatig deur Leveike ingehaal en verbygesteek. Die Litauer kon hom nooit heeltemal afskud nie, maar dié gesoute ultra-atleet wat die Atlasgebergte beter ken, het gister op dié voordeel staatgemaak om die Namibiër in die uiterste omstandighede en ruwe terrein te uitoorlê.

Leveike het die onmoontlike vermag en die wedren in 91 uur 22 minute vir ’n nuwe rekord gewen, met Coetzee se onblusbare wil om te wen deurgaans op sy spoor.

Die vorige rekord (92 ure 15 minute) is laasjaar deur Robin Gemperle van Switserland aangeteken. Leveika het in 2023 tweede in 96.55 geëindig. Indien alles vlot vir Ulrich Batholoes van Duitsland verloop, behoort hy tweede klaar te maak.

Die brawe Namibiër kon nie teen druktyd vir kommentaar bereik word nie. Hy sal glo vandag 16:00 vanaf Marrakesj vlieg en behoort Vrydagnamiddag in die land te wees.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer