Dapper Drikus ’n held vir baie

‘Taaiste kompetisie wat ek nog aangepak het’
Die Namibiër het belowe dat die Atlas Mountain Race nie die laaste van hom gesien het nie en dat hy die byeenkoms volgende jaar gaan wen.
Tielman Van Lill
Drikus Coetzee, ook bekend as “Die Masjien”, wat onlangs die Atlas Mountain Race oor 1 350 kilometer in Marokko aangepak het, is ’n ware Namibiese held wat mense ver buite die grense van sy eie land inspireer nie.

Drikus moes ongelukkig ná vier dae en vier nagte in die saal halt roep. Weens ontwatering, uitputting, wanvoeding, die gebrek aan slaap asook hallusinasies het hy sy bewussyn ongeveer 58 kilometer voor die eindstreep verloor. Hy het opgestaan en 500 meter verder gery voor sy liggaam totaal en al ingegee het.

’n Plaaslike verbyganger het hom gekry waar hy langs die pad in ’n klein skadukolletjie gelê het en het die hooforganiseerder gebel. Drikus is na Essaouira (die eindpunt) vervoer waar hy mediese toetse en ’n breinskandering ondergaan het. Ná hy behandeling ontvang het, wou hy teruggaan na die punt waar hy ontdek is om die kompetisie te voltooi!

Indien hy dit gedoen het, sou hy tweede geëindig het. Genadiglik het die dokter vasgeskop en volstrek geweier en die gevare aan hom verduidelik. Permanente orgaanskade en selfs ’n hartaanval kon sy lewe en loopbaan verwoes het.

Die vraag kan by mense opkom hoe dit moontlik is dat hy nie dié resies kon voltooi nie. Drikus het dan op 1 Desember 2023 die Munga-bergfietsren oor 1 134 km vanaf Bloemfontein na Wellington in die Wes-Kaap in ’n rekordtyd (minder as 48 uur) afgelê, sal menige redeneer.

Die verskil tussen die Munga en die Atlas Mountain Race is dat die Munga grotendeels op goeie grondpaaie en teer gery word. Die vertikale klim oor die afstand is 6 435 meter.

Die roete vanaf Marrakesj na Essaouira by die kus, loop pal oor die Atlasberge met ’n totale klimhoogte van ongeveer 21 140 m. Dit is bykans dubbeld die hoogte waar internasionale kommersiële vlugte tussen 8 000 m en 11 000 m onderneem word.

Die roete het nie werklik ’n pad oor die vollengte van die afstand nie. Die eerste gedeelte tot by die eerste beheerpunt was die maklikste met begaanbare paaie. Die res was egter ’n nagmerrie waar ryers hul fietse met bagasie deur riviere, dongas, afgronde en ’n “ou pad” moes dra en stoot wat 50 jaar laas gebruik is.

Die kwik het bedags 48 grade Celsius bereik en snags was dit koud. Deelnemers het geen ondersteuning gekry nie en moes deurgaans selfversorgend wees. Elke ryer moes spaaronderdele en gereedskap vir herstelwerk aan hul fietse saam piekel asook kos, water, slaapsak, ’n tentjie en spaar batterye vir die ligte. Ryers moes self kos koop waar dit langs die roete beskikbaar was.

Drikus sê hy het sedert die Saterdagoggend tot die volgende Woensdagaand elfuur net twee en ’n halfuur geslaap.

’n Week ná die resies dra hy nog steeds die letsels op sy hande en gesig. Hy het wel gewig opgetel sedert die ren, maar is steeds merkbaar maerder met spiermassa wat weggevreet is.

Drikus vertel: “Dit is by verre die hardste kompetisie wat ek nog aangepak het. Ek wens ek kon dit behoorlik beskryf sodat mense dit kan verstaan.

“Kyk ek is Marokko toe om die ding te wen. Ek het nie gegaan om tweede te eindig nie. Weens my onkunde het ek baie goed verkeerd gedoen, maar volgende keer sal ek uit dure ondervinding die resies anders aanpak.

“Ek sal byvoorbeeld beslis elke nag twee ure slaap. Ek gaan my nie bekommer oor waar die volgende ryer voor my is nie. Ek gaan ook nie weer van die begin af voluit ry nie. Dit was ’n groot fout. Al was ek die twee dae in ’n beswyming, het ek besef ek kan met my tydtoetsvernuf die resies oor die laaste gedeelte wen waar daar op goeie paaie na Essaouira gery word.

“Ek het die tweede nag begin hallusineer. Ek het padwerkers op die pad ervaar wat met grawe gewerk het, maar toe ek by die eerste gedaante kom, het ek besef dit is “kat-ogies” op die pad. Die proses het voorgeduur en later het dit net erger geword.

“My voeding was ook nie reg nie. Ek is nog besig om van my beproewing te herstel. Hoe lank die herstelproses gaan wees, weet ek nie.

“My metabolisme het stadig maar seker my liggaam verteer. Ek het voor die Atlas ses persent liggaamsvet gehad, maar dit is eerste as energie verbrand en toe is my spiere aangeval. Dit gebeur as daar nie genoegsame kos ingeneem word om as energie gebruik te word nie.

“Ek het nog steeds eelte op my hande en van my vingers is spasties weens die konstante vashou aan die stuurstang. Ek het ook geen gevoel in my vingers nie, dit is morsdood. Die senuwees is beskadig weens die drukking.

“Die terrein was iets uit die bose. Die ou pad wat ons gevolg het, het net op die Global Position System (GPS) bestaan. Daar is nie meer ’n pad nie. Ek moes voetjie vir voetjie in klowe en gate afsukkel en dan is dit weer op aan die anderkant.

“Ek moes vir die eerste keer in my lewe my fiets dra wat baie swaar was. Soms was daar trappe om te gebruik. Ons het oor woestynsand geworstel en partykeer deur klipvlaktes waar jy nie kan ry nie.

“Ek het ook verdwaal en in die proses 35 km onnodig gery wat my ’n geweldige agterstand gegee het. By tye het my GPS gevrek en ek moes maar raai waar ek was. Die laaste dag was dit onmoontlik vir my om een en twee bymekaar te tel. My vermoë om helder te dink, was by die deur uit!

“Ek was toe onder die indruk daar is nog net 130 km oor tot by die eindpunt. (Ek het later ná die resies uitgevind daar was nog 280 km oor en nie 130 nie!). Justinas (Leveika) was in ’n stadium 50 km voor my, maar toe ek na tydtoetsjaag oorskakel het ek tot binne ’n paar kilometer agter hom gevorder.

“Dit is toe dat my liggaam besluit het tot hiertoe en nie verder nie. Dit is die Here se wil dat my liggaam ingegee het, anders het ek moontlik permanente skade opgedoen.

“Ek het binne twee maande die Munga en Desert Dash (een week later, in ’n viermanspan) gery, plaaslik deelgeneem en die Atlas-resies aangedurf. Ek het besef dit was ’n fout. My liggaam kon eenvoudig nie genoeg voor die Atlas herstel nie.

“Ek gaan volgende jaar weer die Atlas ry en dié keer gaan ek wen.”

Dit was Justinas Leveika van Litaue se derde Atlas Mountain Race voor hy dit kon wen. Hy moes in 2022 onttrek nadat hy sleg geval en breke opgedoen het.

“Verlede jaar was hy tweede in 96 uur 55 minute. Leveika het die onmoontlike vermag en die wedren in 91 uur 22 minute vir ’n nuwe rekord gewen. Die vorige rekord (92:15) wat verlede jaar aangeteken is, het aan Robin Gemperle van Switserland behoort.

[email protected]

Foto Nils Laengner

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!