De Sousa slyp sy vegters teen die wêreld
Gevegsport
Afrigter Carlos de Sousa volg ’n strawwe program met oefensessies soggens en namiddae met sy ses jong Namibiese vegters wat aanstaande maand in Serwië gaan baklei.
Die wêreldkampioenskap in gemengde gevegskuns (MMA) word van 11 tot 18 Februarie in die hoofstad Belgrado aangebied.
Die Namibiese inskrywings is Veja Hinda (veergewig), Arno Jacobs (strooigewig), Damian Muller (vlieggewig), Geraldo Bok (kapokgewig) en twee 19-jariges wat in die junior kategorie sal meeding, naamlik Ronaldo Feris (weltergewig) en Stefan Gilge (liggewig).
“Net 16 vegters ding in elke gewigsklas by die IMMAF amateurwêreldkampioenskap deel. In elke geveg is daar geen tweede kans nie. Dis ’n groot geleentheid om raakgesien te word vir die aanloklike vegkontrakte wat in die sport beskikbaar is,” het De Sousa gesê toe hy Vrydag saam met sy ses vegters ’n nuuskonferensie toegespreek het.
Benewens die groep se daaglikse program werk hy ook in individuele sessies met elk van die vegters, het hy verduidelik.
Volgens hom is ysbaddens een van die maniere hoe hulle voorberei op die verwagte ysige omstandighede wat tydens die Oos-Europese wintertyd vir hulle voorlê.
VOORUITSIGTE
De Sousa, ’n swartgordel in vyf verskillende gevegsporte en tweemalige MMA-wêreldkampioen in die 1990’s, het uitgewys dat nog twee Afrika-deelnemers (een elk van Zambië en D.R. Kongo) die afgelope tyd saam met sy vegters in Windhoek op die komende wêreldbyeenkoms voorberei.
Sy klub, Sousa Studio, het in November ’n indrukwekkende nuwe, goed toegeruste perseel in die NPTH-sakekompleks (tevore RCC) in Julius Nyererestraat (tevore Lazarettstraat) in gebruik geneem.
De Sousa kon beswaarlik uitgepraat raak oor sy opgewondenheid oor die vooruitsigte vir plaaslike gevegsporte, asook vir samewerkingsooreenkomste met onder andere karate, Crossfit en die boksafrigter Imms Moses.
“Ons het laas jaar een MMA-toernooi aangebied wat deur meer as 300 toeskouers bygewoon is en wat op sosiale media ook reusegetalle behaal het. In die nuwe jaar beplan ons nog ’n toernooi wat moontlik onder die vaandel van die EFC kan plaasvind en sodoende dekking op DStv kan kry.”
Hy was ewe opgewonde oor die toekoms waarin huidige aktiewe vegters soos Hinda en andere eendag as afrigters sy mantel kan oorneem en die sport in meer liggings landwyd kan uitdra – ’n taak waarvoor hulle reeds treetjie vir treetjie geslyp word.
Die Namibiese Sportkommissie se hoofadministrateur, mnr. Freddy Mwiya, het die span voorspoed toegewens en het die sakegemeenskap aangemoedig om finansiële steun aan die gemengde gevegskuns as sportkode te bevorder.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie