Deurslaggewende naweek vir Superliga
Skolerugby
Afgesien van Elnatan en Tsumeb Gimnasium het die ander ses spanne steeds 'n kans om tot die halfeindronde deur te dring.
Die Namibiese Hoërskolerugbyvereniging se Standard Bank onder 19 Superliga lewer môre opnuut vier puik wedstryde op wanneer skole mekaar in Stampriet, Tsumeb en Windhoek die stryd aansê.
Elnatan is op Stampriet die gasheer vir PSG Pro-Ed Akademie en Compack Tsumeb Gimnasium ontvang die Samsung WHS Koedoebulle in die noorde.
In die hoofstad kom die OK Foods Moria Bere van Outjo teen die Schoemans-groep Leeus van Windhoek Gimnasium te staan. By Affiespark gaan Autohaus Windhoek Affies die PSG Naartjies van Walvisbaai Privaatskool aandurf.
Die Koedoebulle, Naartjies, Bere, Tsumeb en Elnatan speel hul sewende en laaste ligawedstryd voor die uitklopfase.
Die Leeus en Affies het elk twee botsings oor, terwyl Pro-Ed binne ’n kort sewe dae drie kragmetings moet afhandel (môre teen Elnatan, Woensdag teen Gimnasium en op die 26ste teen Affies).
“Gim kon nie op die 12de teen ons speel nie. So ons het ’n harde week wat vir ons wag en dan nog die semi’s en finaal indien ons daar kom ... en my groep is maar net 21 spelers,” sê Thys Saunders, afrigter van die Swakopmunders.
WHS ry op die kruin van die golf met die Leeus in die tweede posisie op die punteleer. Die Koedoebulle kan môre volpunte in Tsumeb met hul vyfde sege op ’n streep insamel.
Gimnasium lyk goed vanjaar, maar het wel met een punt teen WHS vasgeval. WHS het op sy beurt sy rieme teen die Naartjies in Walvisbaai met 26-24 styfgeloop.
Gimmies en Moria se ontmoeting in die Leeukuil kan ’n senutergende treffer wees en word deur Namibia Holdings se NTV regstreeks op DStv 285 en GOtv 25 uitgesaai.
Beide spanne beskik oor wedstrydwenners met pakke en baljagters wat nie skroom om die bal lug te gee nie. Die beslissende faktor kan egter die stelskoppers wees, met JW Visagie en Waldré Kotze aan Gim se kant.
Die tuisvoordeel tel in die gasheer se guns, maar die noordespan is altyd gemotiveerd om in die hoofstad ’n punt te kom bewys.
Op Stampriet kry die jong Elnatan-span te doen met ’n woelige Pro-Ed wat onlangs drie besoekers op Swakopmund oorheers het.
Elnatan het die Bere op Outjo met 36-35 en die Naartjies verlede naweek op Stampriet met 21-20 vir hul tweede sege vanjaar uitoorlê.
Beserings en gebrek aan diepte is ’n kopseer vir Elnatan, wat reeds pasella punte aan Gimnasium moes prysgee. Pro-Ed het sy laaste drie kragmetings gewen sedert WHS in hul eerste wedstryd met 39-15 by Vegkop die punte ingeryg het.
Affies en die Naartjies, twee gewilde spanne en sterk aanspraakmakers, is beide wisselvallig – Affies het drie uit vyf en Naartjies twee uit ses gewen – maar sal môre hul kans wil aangryp en hul ondersteuners vir hul lojaliteit wil beloon.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie