Dié manne teen Bulldogs gekies

Rugby
Die plaaslike Namibiërs se vertoning sal in die lig van die Wêreldbekerjaar met 'n valkoog dopgehou word.
Andrew Poolman
Die agtsteman Prince !Gaoseb sal die Windhoek Draught Welwitschias as kaptein aanvoer wanneer die Namibiese amateurspan komende Saterdag hul toetrede tot die nuwe Mzansi-uitdaagreeks maak.

Die Namibiese kombinasie, wat hul eerste terugkeer tot ’n Suid-Afrikaanse provinsiale kompetisie ná ’n afwesigheid sedert 2018 maak, takel Saterdag die Grens Bulldogs in die Sisa Dukashe-stadion in Oos-Londen se township Mdantsane.

Die Oos-Kapenaars het die voordeel dat hulle sedert Februarie reeds vyf ernstige wedstryde in die Curriebeker eersteliga gespeel het – hoewel hulle almal verloor het.

In dié opsig sal die Namibiese vertoning ’n insiggewende barometer van hul vooruitsigte bied.

Die Welwitschias-oefengroep het drie weke gelede twee vriendskaplike opwarmwedstryde teen ’n swaargewig opponent gespeel, wat die gedugte Airlink Pumas as Curriebeker premierliga-kampioen onderskeidelik met 43-0 en 81-8 gewen het.

Of die Namibiërs intussen die akkuraatheid en fisiekheid van hul spel in hul vaste fasette en keerwerk teen lynstaandrywe genoegsaam kon verbeter, is van die deurslaggewende vrae waarop komende naweek die antwoorde sal bied.

!Gaoseb het ná die eerste Pumas-wedstryd ’n stamp teen die skouer gekry en die herontmoeting misgeloop. Dus het Johan Luttig in die tweede wedstryd die kapteinskap oorgeneem. Dié twee vorm saam met die baljagterflank Thomasau Forbes ’n lostrio wat op papier kompeterend behoort te wees.

In die beginspan is die agterste drietal Lloyd Jacobs, Hillian Beukes en Aurelio Plato die enigstes wat nog nie tevore ’n proe van toetsrugby gekry het nie.

Sodra spelers soos Chad Plato, Warren Ludwig (beide aan die terugkeer van beserings), Darryl Wellman en Nico Maartens weer op hul beste is, kan hulle ook vir insluiting in hierdie posisies meeding later in hierdie toernooi, wat tot Meimaand duur en waarin die diepte van ’n uitgebreide groep vereis word.

Die plaasvervangerbank het minder ervaring, hoewel die senter PJ Walters die 2019 Wêreldbekerspan gehaal het en losskakel Henrique Olivier ook al sy toetsdebuut agter die blad het.

Die vaskopstut Herman Coetzee, ’n jong bul van 128 kg wat laas jaar die o.18-skolespan by die Akademieweek aangevoer en ook vir Windhoek Gimnasium goeie spel gelewer het, se vertoning van die bank af sal ook met ’n valkoog dopgehou word. Coetzee is een van ’n rits Namibiërs wat vanjaar by die Rugby Travel Academy in Pretoria aangesluit het.

Die Pumas, asook die Griekwas in laas November se vriendskaplike wedstryd in Windhoek, het gewys dat oorheersing in die vaste fasette die sleutel hou om Namibiese momentum en inisiatief op die aanval in die wiele te ry. Vir die Namibiërs is stewigheid in die skrum en vaste spel dus noodsaaklik om ’n goeie begin in die kompetisie te maak.

Die Welwitschias (teen Bulldogs):

1 Herschell van Wyk (FNB Wanderers)

2 Wikus Jacobs (FNB Grootfontein)

3 Jason Benade (FNB Unam)

4 Mahepisa Tjeriko (Unam)

5 Max Katjijeko (Unam)

6 Thomasau Forbes (FNB Wanderers)

7 Johan Luttig (Grootfontein)

8 Prince !Gaoseb (kaptein, Unam)

9 Jacques Theron (Wanderers)

10 André van der Berg (Wanderers)

11 Lloyd Jacobs (FNB Kudus)

12 Danco Burger (Wanderers)

13 Justin Newman (Kudus)

14 Hillian Beukes (FNB Rehoboth)

15 Aurelio Plato (Kudus)

Reserwes: Gerhard Thirion (Trustco United), Herman Coetzee (Rugby Travel Academy, Pretoria), Carl-William Freygang (Rehoboth), Le Beau du Preez (Wanderers), Lezardo Vos (Kudus), AJ Kearns (Western Suburbs), Henrique Olivier (Unam), PJ Walters (Kudus).

OPPONENTE

Die Bulldogs se uitslae sedert Februarie: Verloor teen Luiperds in Potchefstroom (15-46), verloor teen Valke in Oos-Londen (20-36), verloor teen Boland Kavaliers in Wellington (6-57), verloor teen SWD Arende in Mdantsane (12-50), verloor teen Oostelike Provinsie in Despatch (15-22).

Laasgenoemde, op 11 Maart, was die enigste keer dat die Bulldogs ’n verloorbonuspunt kon aanteken.

• In 2016 het een van die Springbokke se latere beroemde 2019 Wêreldbeker-wenners as ’n senter vir die Bulldogs in hul oorwinning met 76-18 in Windhoek uitgedraf. Sy naam is Makazole Mapimpi. Die wedstryd was in Julie gespeel, terwyl Namibië se nasionale span op toer in Uganda was.

• In 2018 was Chrysander Botha nog aktief as heelagter vir die Welwitschias en Namibië. Dit was egter sy laaste jaar as speler. Hy is nou die hoofafrigter van die Welwitschias. Die nasionale toetsspan se afrigter, Allister Coetzee, is as die verdedigingsafrigter betrokke.

Kommentaar

Republikein 2024-11-26

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 33° Rundu: 23° | 39° Eenhana: 24° | 36° Oshakati: 23° | 35° Ruacana: 21° | 36° Tsumeb: 25° | 37° Otjiwarongo: 19° | 34° Omaruru: 17° | 34° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 19° | 32° Henties Bay: 14° | 18° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 17° | 30° Mariental: 13° | 29° Keetmanshoop: 9° | 28° Aranos: 16° | 30° Lüderitz: 13° | 28° Ariamsvlei: 10° | 27° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 37° Lubumbashi: 17° | 26° Mbabane: 16° | 35° Maseru: 13° | 26° Antananarivo: 16° | 29° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 21° | 41° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 15° | 19° Durban: 16° | 22° Johannesburg: 18° | 29° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 19° | 29° Harare: 17° | 25° #REF! #REF!