Dié suksesresep brei meisies vir wêreldtitel

Inlynskaatshokkie
Vyf-en-sewentig doele teen sewe getuig van die ongekende Namibiese kragtoer. 'n Mens kan sê Christine Röttcher is die nuwe Christine Mboma – maar in 'n spansport.
Andrew Poolman
Voor die aanvang van die wêreldkampioenskap in inlynskaatshokkie was daar ’n hoopvolle aspirasie dat Namibië se junior vrouespan vir ’n medalje, miskien brons, sou kon meeding.

Hul dominerende opmars totdat hulle Sondag in Buenos Aires, Argentinië, die goue medalje verower het, het dus vriend en vyand verras – aangesien geen Afrika-land tevore ’n medalje op senior óf junior vlak by die sport se wêreldkampioenskap kon verower nie.

Namibië se junior manspan het die vorige week in die einste Buenos Aires die halfeindstryd gehaal en daarna in die bronsfinaal verloor – wat op sigself ’n geskiedkundige hoogtepunt vir die mansport was.

Afrigter Brian Sobel se span het egter van meet af hul wedstryde met reusetellings beklink. Die groeprondte is onoorwonne afgesluit met oorwinnings teen die vorige titelhouer VSA (8-1), die gasheerspan Argentinië (15-1), Colombia (9-3), Brasilië (12-0) en Italië (14-0).

Van hier af was dit bykans onvermydelik dat hulle ook in die semifinaal (8-1 teen Argentinië) en in Sondag se eindstryd (9-1 teen die VSA) nie gekeer sou kon word nie.

Sewe wedstryde later het Namibië ’n ongelooflike 75 doele opgestapel, terwyl die opposisie net sewe kon laat deurglip.

’n Helde-ontvangs word dus beplan vir die span se terugkeer na Windhoek (via Frankfurt) wat Donderdag om 09:00 verwag word.

DIE VOORDEEL

Namibië beskik oor net vyf aktiewe klubs, maar ’n doelgerigte strategie van ontwikkeling in die afgelope agt jaar het skouspelagtig vrugte afgewerp.

Ironies genoeg het Namibië nie genoeg meisiespelers om ’n afsonderlike liga te bedryf nie.

Die huidige span (ouderdomsklas vanaf 15 tot 18 jaar) het dus die afgelope jare daaraan gewoond geraak om in ’n gemengde liga met seunspelers mee te ding.

“Wat vaardigheid, fisiekheid en selfvertroue betref, was dit juis hierdie aanpassing wat ons meisies die voordeel gegee het,” sê mnr. Bernd Bajorat, die president van die Namibiese Ys- en Inlynskaatshokkievereniging (NIIHA).

Met die spangees en passie van die Namibiese span het hulle voortdurend beter gespeel namate die toernooi gevorder het, het hy opgemerk.

Bajorat sê baie werk is die afgelope agt jaar gedoen, wat vrugte afgewerp het.

Namibië is tans die enigste land op die kontinent wat inlynskaatshokkie bedryf, hoewel van sy eweknieë in van Wêreldskaatssport se ander kodes soos spoed- of marathonskaats meeding.

Inlynskaatshokkie is ook ’n sport wat in sy eie reg ontwikkel en soos Namibië met die beste moontlike voorbeeld bewys het, een waarin selfs ’n woestynland sonder ’n ysskaatsbaan of yshokkie sy plek kan volstaan.

“Amerika en Kanada se spelers speel wel ’n bietjie yshokkie, maar inlynskaatshokkie is op sy eie stoom aan die werskaf om insluiting tot die 2028 Olimpiese Somerspele in Los Angeles te verkry,” sê Bajorat.

’n Onheilspellende uitdaging vir die opposisie is dat die ganse Namibiese span wat pas standaard vlak van die so dramaties opgehef het volgende jaar steeds vir die junior wêreldkampioenskap (waarskynlik in Duitsland) kwalifiseer.

DIE KAPTEIN

Christine Röttcher het as individu ’n greep op die toernooi verkry en het ’n onkeerbare 27 doele opgestapel, benewens elf kere waar sy ’n doel gehelp skep het wat deur ’n spanmaat afgerond is.

Vier van haar doele was in die eindstryd teen die VSA en haar totaal was meer as wat die ander vyf lande gesamentlik kon aanteken. Heel voorspelbaar is as sy die toernooi se mees waardevolle speler aangewys. Haar spanmaat Michelle Wirtz is as die toernooi se beste doelwagter vereer.

“Christine is van kleins af baie entoesiasties oor die sport en het baie ure ingesit om voortdurend te verbeter. Haar passie vir die sport het haar tot op hierdie wêreldklas vlak gebring. Sy is ook ’n baie goeie leier en kommunikeerder en almal kom maklik met haar oor die weg,” sê die NIIHA-president.

Op die kaptein se hakke het Leighzené Coetzee (14 doele en ’n rol in 11 vir spanmaats), Maike Dedig (elf doele), Ania Borstlap (7) en Lomarie Fourie (6) almal die toernooi afgesluit met meer doel as enige lid van die ander vyf lande.

KERNFIGURE

Brian Sobel, hoofafrigter van al Namibië se nasionale spanne, is ’n sleutelfiguur in die suksesverhaal.

“Vandat hy hom uit Amerika hier kom vestig het, het hy ’n besondere passie ten toon gestel om inlynskaatshokkie in Namibië te bevorder,” sê Bajorat.

“Brian was aanvanklik die afrigter van Scorpions op Otjiwarongo, voor hy die huidige afrigter van Coastal Pirates op Swakopmund geword het.

“Die ontwikkelingsprogram wat Brian in oorleg met NIIHA opgestel het, sluit in dat ons spelers van jongs af elke twee jaar ’n oorsese toer aanpak om internasionale blootstelling te kry. Sodoende het ons spelers ’n begrip van die hoër vlakke van die spel verkry. Die feit dat Namibië hiermee deurgedruk het, het stelselmatig ons spelers se selfvertroue laat groei.”

Drie lede van die huidige span het hul loopbane by Scorpions begin, maar het sedertdien op Swakopmund begin skoolgaan en by Coastal Pirates aangesluit.

Voortdurende opleiding van afrigters en ligas vanaf die jong ouderdomme (o.6 en o.8) is ook deel van die suksesvolle program waarin die vorige NIIHA-president Holger Menzel en Heike Dedig ook sentraal betrokke is.

Vanuit die wêreldbeheerliggaam word die wens uitgespreek dat Namibië se prysenswaardige sukses as inspirasie vir Afrika sal dien. “Christine Röttcher staan uit as een van die beste spelers ter wêreld op die oomblik en is omring met ’n indrukwekkende span. Wat ’n Tour de Force!”

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!