Diversiteit en fisiekheid in o.18-skolespan

Skolerugby
Andrew Poolman
’n Allemintige 14 uit die groep van 23 rugbyspelers vir die Namibiese onder 18-rugbyspan is afkomstig uit skole buite die hoofstad Windhoek.

Dit beteken die Suid-Afrikaanse o.18 Akademieweek op Wellington vroeg in Julie sal ’n uitsonderlike platform wees vir die rugbytalent wat op die Namibiese platteland rondloop.

Walvisbaai en Swakopmund (gesamentlik vyf spelers), Rehoboth (vyf spelers), Stampriet, Outjo en Otjiwarongo is van die dorpe wat verteenwoordig word as ’n bewys dat nie net die hoofstad se tradisionele kragte die keurders beïndruk het tydens laas week se proewe nie.

Vir die SA jeugtoernooie se terugkeer ná die twee verlore pandemiejare sedert 2019 het Namibië ook weer uitnodigings ontvang. Die o.16 Grant Khomo-week word vanjaar op Kimberley aangebied (26 tot 30 Junie), kort daarna gevolg deur die SA o.18 Akademieweek op Wellington (3 tot 9 Julie).

Laasgenoemde toernooi bly steeds die hoogste platform vir die Namibiese o.18-span om sy talent uit te stal, nadat die SA Rugbyunie aan die einde van 2017 eensydig besluit het om die buurland uit die o.18 Cravenweek weg te laat waarvan hy sedert 1964 deel was.

JT Basson, voormalige haker van Namibië o.18 en o.20, was toevallig in 2016 in die Cravenweekspan en is saam met Albert Arries as afrigters vir vanjaar se uitsoekspan aangewys.

Basson sê die diversiteit van die spelersgroep maak hom opgewonde oor hul vooruitsigte.

“Voorlangs is ’n klompie stewige manne wat hard en fisiek kan inklim. Agterlangs is die spoed en vaardighede ook uitstekend. Die skakelpaar is ’n gevestigde span wat vir die Noordespan uitgeblink het. Ek glo die ouens behoort goed te kliek.

“Mnr. Albert Arries is die hoofafrigter en ’n gerespekteerde figuur in skolerugby, so vir my is dit ook ’n goeie geleentheid om in afrigting meer te leer,” sê Basson (24).

In elke ouderdomsgroep was die spanne in streekverband ingedeel, naamlik Erongo, Hardap, ||Kharas, Khomas en Noorde – asook die “beste van die res” wat vanuit die o.16 Sollie Duiker- of o.18 Hage Geingobspan hul kleim kon afsteek. Spelers vanuit hierdie kombinasies het inderdaad hul plekke in die uitsoekspanne oopgespeel.

Die streekspan wat die rondomtaliewedstryde met die meeste punte afgesluit het, was Khomas, in beide ouderdomsgroepe. By die o.18’s was Noorde tweede en Erongo derde. By die o.16’s was die Sollie Duikerspan tweede en Erongo derde.

Mnr. Hermann Rust, jarelange nasionale keurder en skole-administrateur, sê hy het die proewe van begin tot einde dopgehou.

“Ek was baie beïndruk met die gehalte spel wat by albei ouderdomsgroepe gelewer is, asook met die baie goeie dissipline van al die spelers. Daar is ’n paar groot voorspelers in die spanne wat gekies is, nadat gewig in vorige jare dalk bietjie kortgekom het.

“Ek was ook beïndruk met die manne se werksvermoë en kennis van die spel oor die algemeen. Ek glo ons spanne behoort goed te vaar tydens die SA Skoleweke.”

Volgens die voorlopige skedule behoort die Namibiese o.16’s op die openingsdag teen Grens-platteland te staan te kom, terwyl die o.18 Akademiespan eerste opgeweeg word teen die uitsoekspan van die SA LSEN (gekies by die Rugbyweek vir Leerders met Spesiale Onderrigbehoeftes).

NAMIBIË O.18 (na Akademieweek)

15 Heinrich Januarie (Dr. Lemmer)

14 Denver Beukes (Whk Gimnasium)

13 Jean-Paul van Wyk (Dr. Lemmer)

12 Theunis van Wyk (Windhoek Affies)

11 Henrick van Schalkwyk (Delta)

10 Christof Steenkamp (Moria)

9 Coenraad van Zyl (Edugate)

8 André Brandt (Moria)

7 Luka Cindano (WHS)

6 Marcus Meyer (Elnatan)

5 William Lottering (Walvisbaai PHS)

4 JP Campbell (Namib High)

3 Herman Coetzee (Whk Gimnasium)

2 Edward Drotsky (Dr. Lemmer)

1 Karel Noppe (Pro-Ed Akademie)

Reserwes: 16 Jorick Muir (Whk Gimnasium) 17 Otja Auala (Whk Gimnasium) 18 Marco Vermeulen (Pro-Ed Akademie) 19 Arenzo Izaacs (Delta) 20 Kyle Nel (WHS), 21 Johannes Rossouw (Walvisbaai PHS) 22 Ashton van Wyk (M&K Gertze) 23 Suramie Kambombo (Whk Gimnasium).

Afrigters: Albert Arries en JT Basson (beide WHS). Spanbestuurder Gert de Waal (DHPS).

NAMIBIË O.16 (na Grant Khomo-week)

15 John-Anthony Wohler (Namib High)

14 Sammy Soombramoney (WHS)

13 Mark Lawings (Walvisbaai PHS)

12 Waldre Kotzé (Whk Gimnasium)

11 Alejandro Morkel (WHS)

10 Janco Bredenhann (Whk Gimnasium)

9 Jan-Daniel de Villiers (Whk Gimnasium)

8 Ruan Agenbach (Whk Gimnasium)

7 Roelof McCarthy (Walvisbaai PHS)

6 Pieter-Jan Strydom (WHS)

5 Dohan van Zyl (Walvisbaai PHS)

4 Hafeni Mangunga (Whk Gimnasium)

3 Sethino Hoaseb (Grootfontein SS)

2 Janco van Tonder (Whk Gimnasium)

1 Rudolf Harmse (Whk Gimnasium)

Reserwes: 16 Jaywin du Plessis (Whk Gimnasium), 17 Emmanuel Goaseb (Grootfontein SS), 18 Daniël du Toit (Whk Gimnasium), 19 Herman Lombaard (Walvisbaai PHS), 20 Christiaan Burger (Whk Gimnasium), 21 Dominique Isaacs (WHS), 22 Janu Erasmus (Edugate), 23 Delano Drotsky (M&K Gertze).

Afrigters Fernold Böck (Dr. Lemmer) en Herman Grobler (WBHS). Spanbestuurder Rialdo van Wyk (M&K Gertze).

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!