Van links is Jan Freylinck, Ben Shikongo, Karl Birkenstock, Tangi Nuuyoma, Picky Ya France en Michael van Lingen. Voor is Zane Green, Bernard Scholtz, Shaun Foucé en Handré Klazinga by die span se bekenstelling. Foto Tielman van Lill
Van links is Jan Freylinck, Ben Shikongo, Karl Birkenstock, Tangi Nuuyoma, Picky Ya France en Michael van Lingen. Voor is Zane Green, Bernard Scholtz, Shaun Foucé en Handré Klazinga by die span se bekenstelling. Foto Tielman van Lill

Drie nuwelinge teen toerspan van IPL-formaat

Krieket
Die terugkeer van Jan Frylinck en Stephen Baard sal die vlak van ondervinding in die tuisspan verhoog.
Tielman Van Lill
Airlink en Krieket Namibië het gister hul vennootskap aangekondig en is in dieselfde asem is die Richelieu Eagles-span bekendgestel wat van môre af in Windhoek teen ’n kragtige Indiese provinsiale span begin speel.

Airlink sal vir die volgende twee jaar die sportliggaam se korporatiewe vervoervennoot vir al sy nasionale spanne na enige bestemming in Afrika wees.

Die Eagles sal vanaf Vrydag tot 11 Junie in vyf eendagwedstryde teen Karnataka by die United-veld kragte meet. Dié Castle Lite-reeks is die eerste vir die nuwe seisoen.

Karnataka, waarvan Bangalore die hoofstad is, is een van die sterkste spanne in Indië en en bevat spelers wat al in die Indiese Premierliga (IPL) gespeel het. Die toernooi sal dus beslis skouspelagtige vermaak oplewer.

Die botsing tussen spelers van twee baie verskillende kontinente beloof om ’n opwindende gebeurtenis vir krieketaanhangers regoor die wêreld te wees. Die aksie kan op www.oneafrica.com.na/sportsonone/cricket/ of op die toep Fancode gevolg word.

Johan Muller, hoofbeampte van KN, sê: “Ons is trots om Karnataka in Namibië te ontvang. Ons sien uit daarna om nie net op die krieketveld mee te ding nie, maar ook om van die beste van Namibië ten toon te stel.

“Indië is oorvloedig aan kriekettalent en Karnataka is een van hul sterkste provinsiale spanne. Ons glo dié reeks sal toekomstige bande met Karnataka versterk. Ons bedank Twenty Century Media wat die toer ’n werklikheid gemaak het.”

Die beseringspook het nog nie uit die Eagles-kamp gewyk nie. JJ Smit (knie), Lo-han Louwrens (skouer) en Tangeni Lungameni is steeds op die krukkelys, maar genadiglik het Jan Frylinck van sy enkelbesering herstel. Nicol Loftie-Eaton speel tans krieket in Engeland en is ook nie beskikbaar nie.

Drie nuwe gesigte kry ’n kans om hand op te steek. Die nasionale o.19-speler Gerhard Janse van Rensburg is nader geroep, asook die veelsydige Handré Klazinga en Tangi Nuuyoma. Dan maak Stephen Baard sy terugkeer ná ’n afwesigheid en Michau du Preez kan Zane Green as paaltjiewagter aflos. Die talentvolle kolwer Niko Davin is ook nie oor die hoof gesien.

Pierre de Bruyn, hoofafrigter van die Eagles, sê: “Met die enkele staatmakers wat nie beskikbaar is nie, het ons die kans om ’n paar jong spelers te toets. Ek voel nogtans dat ons steeds ’n sterk span in die veld stoot.

“Ek is tevrede met die balans om goeie krieket te kan speel. Stephen Baard, Niko Davin, Gerhard Erasmus en Bernard Scholtz het hope ervaring. Die o.19-spanlid Gerhard Jansen van Rensburg het geweldig baie talent en dit sal interessant wees om hom teen kwaliteit spelers te sien speel.

“Ek wil sien hoe die Eagles onder druk reageer en die enigste manier om dit te bewerkstellig, is teen ’n topspan soos Karnataka.

“Dis nie lekker om te verloor nie, maar wat ek wil hê, is die spelers moet leer om goeie besluite onder druk te neem. Indien Karnataka ons vir lang periodes onder druk plaas, is dit ideaal. Dis die enigste manier hoe ons spelers sielkundig sterker gaan word en selfvertroue opbou.

“Die volgende fase vir die Eagles se internasionale eendagwedstryde lê om die draai. Daar is nie ’n beter wyse vir die Eagles as om hulself aan die hoë Indiese standaarde van Karnataka te meet nie.

Die Eagles-groep: Gerhard Erasmus (kaptein), Jan Frylinck, Stephen Baard, Michau du Preez, Zane Green, Niko Davin, Gerhard Jansen van Rensburg, Bernard Scholtz, Tangi Nuuyoma, Picky Ya France, Michael van Lingen, Ben Shikongo, Karl Birkenstock, Handré Klazinga en Shaun Fouché.

Die besoekende spelersgroep is Ravikumar Samarth (Sunrisers Hyderabad), Vishal Onat, Nikin Jose, KV Siddharth, Kishan Bedare, Kruthik Krishna (Indië o.19), Shubhang Hegde, Vyshak Vijaykumar (Royal Challengers Bangalore), Vidwath Kaverappa (Punjab Kings), Aneeshwar Gautam (Royal Challengers Bangalore), Lochan Appanna, Chetan LR, Aditya Gopal en Rishi Bopanna.

Die wedstrydprogram (alle begintye 09:30): Vrydag 2 Junie, Sondag 4 Junie, Woensdag 7 Junie, Vrydag 9 Junie en Sondag 11 Junie.

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-25

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 19° | 32° Rundu: 19° | 36° Eenhana: 20° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 23° | 36° Tsumeb: 22° | 34° Otjiwarongo: 21° | 33° Omaruru: 20° | 35° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 14° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 23° | 34° Mariental: 20° | 36° Keetmanshoop: 13° | 32° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 23° Ariamsvlei: 14° | 32° Oranjemund: 14° | 20° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 18° | 28° Mbabane: 18° | 35° Maseru: 16° | 30° Antananarivo: 17° | 28° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 22° | 38° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 19° Durban: 21° | 27° Johannesburg: 19° | 32° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 32° Harare: 19° | 30° #REF! #REF!